Woordvlam
(vir al die ingehoktes)
hierdie sonnet
wil ’n flenters net span
om die vermoede te vang
dat Nicolaas Petrus Louw
wat na die dood se stilteryk
uit moes wyk
onderlangs sy genoegdoening sal grom
as hy moet weet
hy is nog steeds die danksyse gom
al lyk dit nie so nie
wat ons oujongbruide en ander verhaalverlaters
krom laat hurk van die sing
om die is-is vlammetjie woorde versigtig omkring
aan die lewe se bewe te hou
(19 April 2020)
© Breyten Breytenbach
Breyten Breytenbach se “O wye en droewe land”-skildery vorm deel van ʼn reeks van tien oor Afrikaanse skrywers, wat hy in 2011 in akriel op doek geskep het. Die reekstitel is Voormoeders en abbavaders. Hy wou daarmee die geeste huldig wat “meegehelp het om aan die ryk en soepel kreoolse taal wat ons Afrikaans noem, vorm en inhoud te gee”.
Hieronder ‘n nabyskoot van die hande-afdruk op Van Wyk Louw se hemp (skildery hierbo).
Dankie, Versindaba!
Laat ons Van Wyk Louw eer as die groot gees wat bewys het hierdie taal het bestaansreg… omdat dit volwaardig uiting kan gee aan wat ons as mensdom ook toe in staat is: denke, vrees, bespiegeling,twyfel (veral die twyfel…), verby-die-een, verder-as-begrensing, sing-sing die mooie en die omvormende en die afskuwelike in. Dit kan saampraat met watter taal dan ook. Maar ook, en miskien nog méér belangrik: dat dit die lewende en immer veranderende vergestalting is (soos Van Wyk Louw ook bewys het) van hoe ontheemding lei tot inheemsheid. Van die wegstroop van die huid, van verryking en kreolisering. Ook van hoé om in die huidige te lewe.
Daarom wil mens ook soveel te meer ‘welkom’ sê (nou is ek darem baie rammetjie-uitnek om sommer so die woord in die mond te neem namens almal van ons!) aan Jerzy Koch. Welkom in die kookpot. Swem, boetie – swem! Daar word opgeskuif om plek te maak vir jou in die kring van spotters. Ons spot nogal dikwels omdat ons nie te veel wil spog nie. Ons mondgoed – wat nou ook joune is, en djoune en djille s’n – in al haar variante, is ‘n groot bôrdienghuis en ons weet dat jy van ver kom, met stowwerige voete en mooi presente. Jy doen ons eer aan!
Gepas, inderdaad, dat jy ‘ingelyf’ moet word vyftig jaar na die slotreël van die Groot Ode.
(En, Versindabbers en ander gabbas – vergun my om te noem dat die foto van die bôjaan in sy hok hierbo geneem is deur Carlos Freire – ‘n ou medepligtige, Brasiliaan, wêreld-nomaad en ‘n verstommende fotograaf. Gaan slaan ‘n bietjie na…)
Die stryd gaan voort!
Breyten
Als wat ons het, tesame,
en genoem het ons eie,
sal tyd, dit beskouend as ekstras,
soos op klippie en rots die getye,
afslyt, nou met sorg,
dan met ’n beitel se haas,
’n Sikladiese beeld oplaas,
en gesigloos die gelaat.
– Joseph Brodsky uit “Strophes, IV”
(deur Brodsky en David MacDuff vertaal;
HvV Afrikaanse vertaling, vir 18 Junie 2020)
Vandag gedenk ons die afsterwe van Van Wyk Louw, nou al ‘n halfeeu gelede.