
Ingrid Jonker-prys 55 jaar!
Ná die begrafnis van die ikoniese digter Ingrid Jonker op 22 Julie 1965, het daar op Sondag 25 Julie ’n “tweede begrafnis” in die Woltemade-begraafplaas plaasgevind: ’n huldigingsgeleentheid deur skrywers en ander vriende. By hierdie geleentheid is van haar gedigte voorgelees. Uys Krige het ’n huldeblyk gelewer en Jan Rabie het die instel van die Ingrid Jonker-prys aangekondig.
In ’n gedenkpublikasie ’n jaar later, In memoriam Ingrid Jonker met Jan Rabie as redakteur, word inligting oor die prysfonds bekend gemaak (p. 88-91). Die beskermhere is prof NP van Wyk Louw en Uys Krige. Die Raad van Trustees bestaan uit drie uitgewers: Human & Rousseau, John Malherbe en Simondium; asook vier skrywers: Jack Cope, Adèle Naudé, Hennie Aucamp en Jan Rabie.
Die eerste reglement bepaal dat die prys jaarliks toegeken word, om die beurt vir die beste Afrikaanse en Engelse poësie van die voorafgaande twee jare. Dit word gestipuleer dat die prys toegeken word aan ’n jonger digter wie se werk gedurende die betrokke twee jaar in Suid-Afrikaanse literêre tydskrifte verskyn het, of wat met ’n eie bundel gedebuteer het.
Die prysgeld was R50, ongeveer die jaarlikse rente op die fonds. Tot in daardie stadium is ’n totaal van R781-50 ontvang, bestaande uit skenkings wat wissel tussen R1 en R50. Twee bydraes van R1 is gemaak deur onderskeidelik “A Friend” en “’n Vriend”, terwyl die uitgewers ruim bygedra het.
’n Lys met die name van die skenkers vermeld bydraes deur die beskermhere en die raadslede, asook deur onder andere A A Balkema, André P Brink, prof Guy Butler, WA de Klerk, Paul du Toit, R & S Fox, Nadine Gordimer, LW Hiemstra, Ants & Wilma Kirsipuu, Erik Laubscher, Etienne Leroux, Freda Linde, prof FEJ Malherbe, Alan Paton, H Rabinowitz, A Sachs, Adam Small, Bartho Smit, Berta Smit, Klaas & Elsa Steytler, dr Petronella van Heerden, Danie van Niekerk, Rykie van Reenen, JL van Schaik, Marjorie Wallace en Desmond Windell.
Die reglement is van tyd tot tyd hersien, soos wat omstandighede genoodsaak het. Die aanvanklike ingesamelde bedrag van byna R800 het mettertyd toegeneem, maar die prysgeld was beskeie – die Ingrid Jonker-prys is beskou as ‘n “prestigeprys eerder as ’n geldprys”. Hoewel uitgewers van tyd tot tyd skenkings gemaak het, het die prys teen 2016 ’n skrale R3 000 beloop, die rente op die belegging. Gelukkig kon ruim skenkings verkry word: van die Dagbreek Trust vir die Afrikaanse prys en van die Pirogue Collective vir die Engelse prys. Hierdeur is die prysgeld tot R10 000 verhoog.
Die komiteelede is almal digters, wat die administrasie vrywillig behartig. Jan Rabie was van meet af aan ’n ywerige en entoesiastiese raadslid – meer as 30 jaar lank. Ná hom was Daniel Hugo die voorsitter, tot 2005. Hy is opgevolg deur Rustum Kozain, Louis Esterhuizen en Danie Marais. Tans is Ronel de Goede die voorsitter, met Finuala Dowling as die konvenor van die Engelse prys.
Die beoordelaars is ook almal digters, omdat dit ’n prys van digters aan digters is. Die reglement is hierby aangeheg, asook die wennerslys.
Kommentaar welkom: rf@sun.ac.za
Ingrid Jonker-prys: Wenners
2020: Saaleha Idrees Bamjee Zikr
2019: Pieter Odendaal Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
2018: Sindiswa Busuku-Mathese Loud and yellow laughter
2017: Hilda Smits Die bome reusagtig soos ons was
2016: Thabo Jijana Failing Maths and my other crimes
2015: Nathan Trantraal Chokers en survivors
2014: Karin Schimke Bare & breaking
2013: Hennie Nortjé In die skadu van soveel bome
2012: Beverly Rycroft Missing
2011: Melt Myburgh Oewerbestaan
2010: Tanya van Schalkwyk Hyphen
2009: Loftus Marais Staan in die algemeen nader aan vensters
2008: Megan Hall: Fourth child
2007: Danie Marais In die buitenste ruimte
2006: Rustum Kozain This Carting Life
2005: Ilse van Staden Watervlerk
2004: Finuala Dowling I flying
2003: Martjie Bosman Landelik
2002: Kobus Moolman Time like stone
2001: Zandra Bezuidenhout Dansmusieke
2000: Brian Walters Tracks
1999: Trienke Laurie Skietspoel
1998: Dan Wylie The road out
1997: Charl-Pierre Naude: Die nomadiese oomblik
1996: Steve Shapiro In a borrowed tent
1995: Gert Vlok Nel Om te lewe is onnatuurlik
1995: Ken Barris An advertisement for air
1994: Geen toekenning
1993: P.J. Bosman: Ryp geel kring
1992: Heather Robinson Under the sun
1991: H.J. Pieterse Alruin
1990: John Eppel Spoils of war
1989: Rosa Smit Krone van die narsing
1988: Graham Walker The complete Libby Destrudo songbook
1987: Donald W. Riekert Heuning uit die swarthaak
1986: Geen toekenning
1985: Geen toekenning
1984: Johann Lodewyk Marais: Die somer is ‘n dag oud
1983: Jeremy Cronin Inside and out
1982: Johann de Lange Akwarelle van die dors
1981: T.T. Cloete: Angelliera
1980: Geen toekenning
1979: Mike Nicol Among the souvenirs
1978: Marlene van Niekerk Sprokkelster
1977: Colin Style Baobab Street
1976: J.C. Steyn Die grammatika van liefhê
1975: Mark Swift Treading water
1974: Leon Strydom Geleentheidsverse
1973: Mongane Wally Serote Yakhal’inkomo
1972: Lina Spies Digby Vergenoeg
1971: Geen toekenning
1970: Sheila Cussons Plektrum
1969: Sinclair Simon Maurice Beiles Ashes of experience
1968: M.M. Walters Apocrypha en Cabala
1967: Sydney Clouts One life
1966: D.P.M. Botes Wat is ‘n gewone man?
1965: Ruth Miller Floating island
