Dit is bekend dat André P. Brink op ’n keer die romanskrywer Karel Schoeman getipeer het as ’n “ou tantetjie wat doilies hekel”. Dit het gebeur in sy resensie van Die noorderlig (1975) en slaan dan veral op Schoeman se “presieuse” vertelstyl en “selfbewuste estetisme”, terwyl hy glo net skynbaar betrokke is by die aktualiteite van sy tyd.
Toe ek die resensie destyds in Rapport teëgekom het, was ek nogal verbaas oor Brink se venynige formulering. Tog was die kritiek só effektief dat ek die boek nooit gelees het nie. Tot onlangs. Ek kry ’n tweedehandse eksemplaar in die hande en lees dit gefassineer in een aand deur.
Die boek handel oor twee universiteitsvriende wat mekaar ná jare weer in Amsterdam ontmoet. Hulle begin gesels oor die derde lid van hulle intieme vriendekring van destyds: Estelle Naudé, ’n jong digter met ’n politikus-pa wie se lewensuitkyk sy totaal verwerp. Sy raak in Kaapstad bevriend met bruin anti-apartheidsaktiviste en wit liberale – “Kleurlinge en Kommuniste” volgens haar pa (p. 110). Ten slotte pleeg sy selfmoord omdat sy magteloos voel teenoor die gewelddadige bestel wat gelei het tot die dood in polisie-aanhouding van haar bruin minnaar. Niemand kan dit mislees nie. Estelle Naudé is ’n gekamoefleerde Ingrid Jonker.
En tog swyg Brink soos die graf daaroor. Waarom? Omdat hy dan onvermydelik ook die aandag op homself sou moes vestig. Hy verskyn naamlik as die baie onsimpatieke karakter “Francois” in die verhaal. Hy was haar minnaar en die verhouding het skipbreuk gelei. Estelle beskryf hom soos volg: “Baie selfverseker, sjarmant, aantreklik; hy draai sy sjarme aan en af soos ’n kraan, en geen mens kan dit weerstaan nie – daardie kleinseuntjie-glimlag … Maar al waarin hy belangstel, is sy loopbaan. Hy’s heeltemal koelbloedig, hy sal oor lyke loop vir bevordering of publisiteit” (p. 73).
Dat die woord “koelbloedig” Brink kwaai moes gekwets het, blyk uit sy beskuldiging in die resensie dat Schoeman se boek “iets kils en bloedloos” bevat. Hy praat ook in verband met die herkenbare, aktuele gegewe van die novelle as “’n bietjie skimp-op-’n-veilige-afstand”.
Die derdepesoonsverteller, Paul, probeer aanvanklik wel om objektief te bly. By hulle eerste ontmoeting beskryf hy Francois as “lank en slank” met ’n elegansie wat “vaaglik Europees” is (p. 73). Ná Estelle se begrafnis ontmoet hy hom weer. Dié keer beskryf hy hom lig spottend. Francois maak naamlik sy verskyning “in die halwe rou van ’n liggrys pak en ligpers das” (p. 109).
Wat Brink die meeste moes gegrief het, is die verwysing na die “legende” wat ontstaan het en deur almal aanvaar is “dat Estelle haar om die lewe gebring het uit liefde vir Francois” (p. 111).
Die karakter Ina is nog veel afwysender tenoor die Brink-figuur. Sy praat byvoorbeeld van “daardie mislike Francois” (p. 46).
Schoeman is ook nie van bitsigheid vry te spreek nie. Hy noem die Jonker-figuur “Estelle” – die naam van Brink se eerste vrou met wie hy getroud was toe hy die verhouding met Jonker begin het.
Dit is nie net Brink wat in die roman krities beskou word nie. Paul se oud-professor word genadeloos gesatiriseer. Professor Dreyer het voor die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam studeer en sy spesialiteit is die Nederlandse Tagtigers: Gorter, Kloos en Perk. Dit is ’n verwysing na prof. W.J. Badenhorst wat vir Schoeman klas gegee het by die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein. (Schoeman het daar gestudeer van 1957 tot 1959. In sy outobiografie verwys Schoeman naamloos na hom slegs as “ons bejaarde dosent”.) Badenhorst se bynaam was “ou Tamatie” wat op sy rooierige gelaat geslaan het – vandaar sy bynaam “Bakkies” in die verhaal.
Selfs Ingrid Jonker kom nie skotvry uit die boek nie. Haar selfmoord word wel as iets sinvols beskou, as ’n finale verset teen die onregverdige bestel. Haar vriendin Ina stel dit soos volg: “(H)aar dood was ’n daad … dit was haar eie antwoord op alles, heeltemal besonne en oorwoë” (p. 106). Maar Schoeman het klaarblyklik nie groot bewondering vir haar digkuns nie. Die (fiktiewe) versreëls wat Paul kan onthou, is uiters onbenullig, byvoorbeeld: “Ek val / soos ’n blom: deur die duister …” (p. 47).
Professor Dreyer, wat ’n opdrag gekry het om ’n monografie oor haar te skryf, het ook sy bedenkings oor die waarde van haar skryfwerk: “Sy het ’n belangrike naam in ons letterkunde geword … belangriker miskien as wat haar werk regverdig. Sy het blykbaar die verbeelding van die jonger geslag beetgegryp – met haar poësie én haar tragiese dood – en sy het die afgelope jare as ’t ware ’n modefiguur geword: ’n kultusfiguur sou mens byna kan sê” (p. 22).
Die lewenskets gaan uitgegee word deur die professor se skoonseun, ene Koos, wat saam met ’n vriend ’n “uitgewerytjie” begin het (p. 14). Dit is ongewyfeld ’n skalkse verwysing na Schoeman se eie uitgewer, Koos Human, wat die uitgewery Human & Rousseau saam met Leon Rousseau in 1959 opgerig het.
Estelle se pa, Servaas Naudé, is natuurlik Abraham H. Jonker se dubbelganger in die boek. Hy word uitvoerig en hilaries deur sy dogter geparodieer. Die slotoordeel oor hom kom uit Ina se mond: “Servaas is deel van die hele stelsel wat skuldig is aan Estelle se dood …” (p. 104).
Dat André P. Brink in sy resensie nie die aandag op Ingrid Jonker, en by implikasie op homself, wou vestig nie, is verstaanbaar. Dit is egter verbasend dat J.C. Kannemeyer in sy literatuurgeskiedenis nie ’n woord daaroor rep nie. Dieselfde gebeur in G.A. Jooste en Chris N. Van der Merwe se artikel oor Karel Schoeman in Perspektief en Profiel. Deur die aktuele literêre verwysings van die boek te ignoreer, word die politieke en satiriese dimensie daarvan in ’n groot mate ontkrag. En is Brink se negatiewe reaksie onbegryplik: daardie verwysing na Schoeman as ’n ou tantetjie wat doilies hekel. Met die hekel-beeld erken Brink wel (onbedoeld?) die satiriese bedoeling van die verhaal.
Daniel Hugo
Bronne
André P. Brink: Voorlopige Rapport. Beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig, Human & Rousseau, Kaapstad, 1976.
J.C. Kannemeyer: Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II, Academica, Pretoria, 1983.
Petrovna Metelerkamp: Ingrid Jonker. ’n Biografie, Penguin Books, Kaapstad, 2018.
Karel Schoeman: Die noorderlig, Human & Rousseau, 1975.
Karel Schoeman: Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge, Human & Rousseau, Kaapstad, 2002.
H.P. van Coller (red.): Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 3, Van Schaik Uitgewers, Pretoria, 2016.
Met dank aan Wium van Zyl en Jaap Steyn wat my op die spoor gesit het van prof. Badenhorst as model vir prof. Dreyer in die verhaal.
Fassinerend en werklik interessant. Het baie lekker
hieraan gelees!