Alwyn Roux. ‘n Geskiedenis van literatuurwetenskap in Afrikaans

 

Bestaan daar ‘n geskiedenis van literatuurwetenskap in Afrikaans? Tans is ek besig met die opstel van ‘n kurrikulum vir ‘n voorgraadse kursus in literatuurwetenskap in Afrikaans. As deel van die taak, lees ek die eerste hoofstuk van Terry Eagleton se Literary Theory: An Introduction (1996 [1983]), getiteld “The Rise of English”, sowel as die eerste hoofstuk van Peter Barry se Beginning Theory: An Introduction to Literary and Cultural Theory (2009 [1992]), getiteld “Theory before ‘theory’ – liberal humanism”.

Hierdie inleidende hoofstukke se fokusse is albei op die opkoms van  literatuurwetenskap in die Engelse literatuur, ‘n studieveld wat sover ek weet totaal ontbreek in die bestudering van Afrikaanse letterkunde. Barry (2009:11-15) kyk byvoorbeeld na “The history of English studies” deur aanvanklik in sy hoofstuk vrae te vra wat mens moet laat dink aan hoe die bestudering van Engels aanvanklik daar uitgesien het. Vrae sluit in:

“1. When do you think English was first taught as a degree subject in England?: was it 1428, 1528,1628, 1728, 1828, or 1928?

2. At which institution was English first taught as a degree subject in England?: was it Oxford University, Cambridge University, London University, Southampton University, or none of these?

[…]

6. In the early twentieth century women could take degree courses in England, but were not allowed to receive degrees. True or false?”

Ek wonder juis of iemand al gepoog het om soortgelyke vrae oor Afrikaans as vakgebied te beantwoord. Dit is algemene kennis dat D.F. Malherbe die eerste professor in Afrikaans was, maar hoe en wanneer het Afrikaans as ‘n vakgebied ontwikkel? Watter literators se werk sou mens kon gebruik ter illustrasie van die wyse waarop Afrikaanse letterkunde doseer is alvorens die opkoms van “literêre teorie”? Ek vermoed N.P. van Wyk Louw se versamelde prosa en A.P. Grové se studies oor die tegnieke van poësie is belangrike voorbeelde hiervan. Dan sal ‘n mens ook moet gaan kyk na die opkoms van literêre teorie in Suid-Afrika. Wanneer het literêre teorie hoogty gevier in Afrikaans? T.T. Cloete is beslis een van die sentrale rolspelers in die vestiging van literatuurwetenskap in Afrikaans, maar hoe verloop die geskiedenis? Mens sou ook kon gaan kyk na die opkoms van literatuurwetenskap-departemente aan Suid-Afrikaanse universiteite en die literatuurwetenskap-kurrikula vergelyk met dié van Afrikaanse letterkunde en taalkunde. Mens sou natuurlik ook kon gaan kyk na talle ander akademici se werk in literatuurwetenskap, byvoorbeeld Cloete, Botha en Malan se Gids by die Literatuurstudie (1985), Heilna du Plooy se Verhaalteorie in die twintigste eeu (1985), André P. Brink se Vertelkunde: ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste (1987), Joan Hambidge se Postmodernisme (1995), Marisa Keuris se Die dramateks (1996) en Chris van der Merwe en Hein Viljoen se Alkant Olifant (1998). (Ek het so pas ook Joan Hambidge se lemma oor literatuurwetenskap op Literêre terme en teorieë se webblad afgekom, wat ‘n sinvolle plek is om verskillende skole binnekant die literatuurwetenskap te bespied, asook om die vraag na wat die literatuurwetenskap nou eintlik is te beantwoord.)

 

Mens sal ook moet gaan kyk na die totstanding van Tydskrif vir Literatuurwetenskap en die oprigting van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap (SAVAL), wat nou as die Letterkundeassosiasie van Suid-Afrika (LASA) bekendstaan.  Dalk kan onderhoude met belanghebbendes soos Marianne de Jong en Andries Oliphant gevoer word om die prentjie vollediger in te kleur.

Dan sit mens ook met die gegewe dat meeste literatuurwetenskap-departmente na afloop van die nuwe bedeling saamgesmelt het met verskillende taaldepartemente aan Suid-Afrikaanse universiteite. Lateraan ook met die wegval van Afrikaanse departemente by talle Suid-Afrikaanse universiteite. Vandag weer met die privatisering van Afrikaanse universiteite. Is laasgenoemde ‘n etiese uitkoms vir die oorlewing en oorlewering van Afrikaanse literatuurstudies en/of literatuurwetenskap in Afrikaans?

Vandag is daar ook baie nuwe tendense deel van literatuurwetenskap, wat reeds op vernuftige wyses geïntegreer is in die Afrikaanse letterkunde, byvoorbeeld Susan Smith en Susan Meyer se (onderskeie) artikels oor nuwe materialisme en die objek-geörienteerde ontologie en Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019), wat as ‘n gids gelees kan word by gesprekke oor dekolonisasie.

Dit is nodig om bestek te neem oor die verlede, hede en toekoms van literatuurwetenskap in Afrikaans, hoe dié veld vergelyk met dié van Afrikaanse letterkunde en taalkunde, en hoe ons vandag by literatuurwetenskap in Afrikaans kan baat vind, indien enigsins.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Alwyn Roux. ‘n Geskiedenis van literatuurwetenskap in Afrikaans”

  1. Helize van Vuuren :

    Alwyn, dis ‘n skokkende (of altemit uitlokkende, provoserende?) stelling, hierdie: “n studieveld wat sover ek weet totaal ontbreek in die bestudering van Afrikaanse letterkunde”.

    Jy moet net weet waar om te soek! Die wiel is darem wragtig nie vandag, vanjaar eers uitgevind nie…

    Om die bal aan die rol te kry, ‘n paar los na-middernagtelike gedagtes oor die onderwerp:

    Daar was DJO se proefskrif oor die Dertigers (1953), deur NPvWLouw as psigologisme beskou, daar was in die vroeë twintigste eeu baie besinning oor wat literatuurgeskiedenis is (by literatuurgeskiedenisse deur die en daai…soek maar op onder SA’se literatuurgeskiedenis). Daar was heelwat doktorale studente wat in Nederland aspekte van literatuur en wetenskap bestudeer het – dbnl.org het baie van hul tesisse in geheel daar beskikbaar (PC Schoonees, SJ du Toit, en vele meer).

    Gedenk Merwe Scholtz (later met Hellinga ‘n boek – eers sy Nederlandse doktorale skripsie) – Kreatiewe stilistiek – anno 1950-1955

    NP van Wyk Louw se doktorale student, Rialette Wiehahn oor die Afrikaanse poësiekritiek, sestigerjare.

    Maar lank voor dit alles, in die prille begin, was daar darem ookal Eerstelinge van Preller, en baie baie meer…PG du Plessis oor die verwysing in die literatuur (vandag sal ons dit “intertekstualiteit” noem), “et cetera” soos DJO dit noem in “Vuurbees”. Begin maar by doktorale tesisse. Er zijn geen literaire onderwerp, of er zat er een serieuse studente erachter…

    Hang net af hoe jy die saak beskou. Hoe wyd, hoe ruim, want ergens het alles stadigaan op dreef gekom…soos die osse in die stowwe ook maar in die poësie…

    Die literêre borsrok is nie vandag se kind nie.

  2. Alwyn Roux :

    Dankie vir jou kommentaar, Helize. Dit help baie om my soektog behoorlik op dreef te kry. Dalk is die titel van die bloginskrywing as “geskiedenis” ietwat misleidend. Eerder, “die opkoms van literatuurwetenskap in Afrikaans”?

  3. Van Joan Hambidge:
    Hallo Alwyn

    Ek sukkel om dit gelaai te kry. Beste wense, Joan

    Jy vra baie belangrike vrae, terwyl ek hier aan die voorberei is vir my lesings wat die 16e Maart begin: literatuurteorie vir die derdejaars.

    Afrikaans het gedugte teoretici opgelewer soos Helize van Vuuren tereg uitwys: R. Geggus, Merwe Scholtz, T.T. Cloete, Rena Pretorius, Rialette Wiehahn; later Ina Gräbe, Henriette Roos, H.P. van Coller, Leon Strydom, Marius Scholtz, A.P. Brink, o.a. Later Marianne de Jong, Hein Viljoen, Heilna du Plooy, Wilhelm Liebenberg, Louise Viljoen, Helize van Vuuren, Ronel Johl, Johann Johl, Willie Burger, Thys Human, Steward van Wyk, Andries Visagie, o.a. Hierna opkomende jongelinge.

    Vergeef as ek name uitlaat. Daar is inderdaad vele proefskrifte oor die titel in die gedig of die verwysin in die literatuur. Of die wit in die poësie …

    Daar was tydens die 80er jare vurige debatte oor die postmodernisme en veral Ina Gräbe het met SAVAL belangrike kongresse georganiseer en selfs een met ICLA in Pretoria. Veral JLS het belangrike tendense opgevang. L.I. Bertyn het in Beeld die gek geskeer met die vernaamdoenery van die teoretici. Ander kritici het weer gevoel pomo was nie genoegsaam polities betrokke nie. Daar was ‘n noodtoestand.

    Die rol van die leser het belangrik geword via Iser. Ander – soos die Johls – het weer strukturalisme teen dekonstruksie verdedig.

    Van hierdie literatore het ons telkens by internasionale kongrese ontmoet wat die hele debat van “ontlaering” nogal interessant maak.

    Watter laer? Wanneer ons verwys na die “Afrikaanse” letterkunde is dit gewoon ‘n beskrywing; nie ‘n samesnoering wat eenheid behels nie; gewoon net dit wat in Afrikaans geskryf is. Wat uiteraard ook Kaaps insluit. Teorie reageer immers altyd op kreatiewe tendense.

    Verskillende universiteite het verskillende benaderings gevolg. Selfs Opperman wat so anti-teoreties was in sy digklasse het Wellek en Warren op Honneusvlak aangebied en later het Scholtz alles verder gevoer met die Russiese Formaliste en Strukturaliste. Hy het immers met Hellinga saamgewerk oor die Stilistiek. (Louw as digter verwys immers na Hellinga.)

    Wat dalk tans problematies blyk te wees, is dat universiteite en veral die geesteswetenskappe ‘n krisis beleef. Nog nooit was dosente so oorstuur met aanlynklasse en die groot O van onsekerheid nie. Dekonstruksie het ‘n harde werklikheid geword met uitgestelde betekenisse en sekerhede.

    Is is nou al by die metamodernisme?

    Hoe sal ‘n teoretiese handboek oor teorie nou vir jong studente daar uitsien? Dalk geskryf in die vorm van ‘n speurverhaal?

  4. Alwyn Roux :

    Baie dankie, Joan, vir hierdie baie insiggewende repliek op my bloginskrywing.

    Ek skryf juis “literatuurwetenskap in Afrikaans” eerder as “Afrikaanse literatuurwetenskap” om te beklemtoon dat dit gewoon gaan oor dit wat in Afrikaans in literatuurwetenskap geproduseer is. Dit wil sê, dat daar nie iets soos ‘n “Afrikaanse literatuurwetenskap”, as iets wat oor ‘n “essensie” beskik, bestaan nie.

    My betoog is wel dat daardie literatuurwetenskapproduksie (van Afrikaanssprekendes, wat ook Engelsmagtig is) opskrywing of kartering benodig. (Met hierdie repliek gee jy in ‘n groot mate reeds leiding in die proses. Dankie ook aan Helize.)

    Dit sal baie interessant wees om ‘n studie te maak van die wyse waarop verskillende departemente verskillende banderings gevolg het. Om die inligting op te spoor, sal beslis die vorm ‘n speurverhaal kan aanneem. Dalk iets soos die hibridiese akademiese teks-as-kubervervolgverhaal wat jy op stilet.digital gepubliseer het? https://stilet.digital/301-novum-afrikaans/begeerte-kubervervolgverhaal/.

    In jou resensie van Hennie Meyer se Winkel van wanklanke (2020) noem jy dat die metamodernisme nou aangebreek het: “Met hierdie bundel weet ons nou dat die postmodernisme inbeweeg het in die metamodernisme” (http://joanhambidge.blogspot.com/2020/09/resensie-hennie-meyer-winkel-van.html). ‘n Uitstekende studie oor metamodernisme, wat o.a. fokus op Willem Anker se Buys (2014), is J. van der Merwe se proefskrif, getiteld “Notes towards a metamodernist aesthetic with reference to post-millennial literary works” (2017, NWU). Hier is die skakel: https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/25443.

  5. Baie interessante gesprek dié. Stof vir meer as een PhD! Marlies Taljard

  6. Maria Snyman :

    Webmeester, indien my kommentaar reeds deurgegaan het, verwyder asseblief hierdie weergawe. Ek kon nie sien dat dit deur is nie, maar daar word aangedui dat dit wel so deur is …

    Joan, jy slaan die spyker op die kop: “dat universiteite en veral die geesteswetenskappe ‘n krisis beleef” + “Nog nooit was dosente so oorstuur met aanlynklasse en die groot O van onsekerheid nie” + “Dekonstruksie het ‘n harde werklikheid geword met uitgestelde betekenisse en sekerhede”!

    Ek weet nie altyd op ek wil lag of huil of sommer net wil ondergaan nie!

    VROEG in die afsluiting/”lockdown” kom ek af op Viro de Graphe-Matician se “On Jacques Derrida’s Parasitology” wat soos volg begin:

    “PROLEGOMENA TO A SOLICITATION OF SCIENCE

    The high degree to which AIDS, terrorism, crack cocaine or computer viruses mobilize the popular imagination should tell us that they are more than anecdotal occurrences in an irrational world. The fact is that they contain within them the logic of our system: these events are merely the spectacular expression of that system. They all hew to the same agenda of virulence and radiation, an agenda whose very power over the imagination is of a viral character.
    – Jean Baudrillard, “Prophylaxy and Virulence.”

    “All I have done is dominated by the thought of a virus.” Remarkable! “The matrix of all that I have done.” So much for all those solicitous ventures at breaking up his work in smaller, neat “phases,” shifts of cynosures. In all sorts of departments (literature, law, arts, architecture, film, theology, politics, philosophy, etc.) many a scholar have unknowingly studied a new type of parasitology. The academia in total denegates this vibrant and extremely detailed form of “general” parasitology; that shall nonetheless haunt academia. Paul De Man’s warning that “the impossibility of reading should not be taken too lightly,” is more than fit.”

    @ https://virographematics.wordpress.com/2011/02/08/parasite-auto-immunity-jacques-derrida/

    “From Latin denegatus, past participle of denego (“I deny”), from de + nego (“I say no”).”

    (Ek het daarop afgekom via
    @ https://www.lacan.com/symptom/philosophy-the-coronavirus/ – die internet kan ‘n mens mos alte vreeslik die spoor/trace/trip/”surf” laat vat!)

    Terloops, Joan, via Greg Ulmer/Glue* het ek uiteindelik begin kennis neem van Lacan – maar ek moet hom nog begin lees … Ek bly vassteek by Derrida se “Punctuations: The time of a thesis” (en dus ook …)

    * Sien o.a. Derrida se Glas. Rakende ‘n inleiding tot Ulmer se projek:
    – “Joseph Tabbi, The Art of Gluing: An Electronic Interview with Gregory Ulmer” op die internet
    – Sung-Do Kim se “The Grammatology of the Future (Interviews with Gregory Ulmer on Deconstruction and the Digital Future of the Humanities)” in Trifonas & Peters se Deconstructing Derrida. Tasks for the New Humanities (2005)]

    Vroeg in Of Grammatology (1967/1976) staan daar mos al vir ‘n lng tyd:

    “This situation has always already been announced. Why is it today in the process of making itself recognized AS SUCH and AFTER THE FACT [après coup]. […] But beyond theoretical mathematics, in the development of the PRACTICAL METHODS of information retrieval extends the possibilities of the “message” vastly.” (Hoofletters staan vir oorsponklike skuinsdruk.)

    O weë, so baie metodes, maar die akademie moet nog begin om te leer om te lees … :/ 🙂

    Want een van die ander stukkies skrywes wat my bespook staan in Claire Colebrook se “Archiviolithic: The Anthropocene and the Hetero-Archive” (2014):

    “Husserl’s epoche: Husserl asks us to imagine the world’s appearing, not the world as it would be for us, bound up with our sense, projects, and assumptions, but just its appearing. In many ways this is what the concept of the anthropocene opens: how might this world (our world) be viewed without humans? First, our traces on the earth would be marks that there had been some event, but not what that event was or meant. All our traces (literary and otherwise) would remain but without human context or concept. The archive would be a dead letter (which is also to say that it would be maximally alive, not reduced to any given context or ethos). The people would be missing, leaving something like a maximal force of dissemination that would also be a maximal force of inertia. There will be a time when sense is no longer grounded in the context of human intentionality, and that is perhaps when reading might begin.

    Rather than lament a world in which readers no longer have the history, literacy or grounding to master the tradition, we might start to read ourselves as if we no longer existed, as if we were no longer present to guarantee sense.”

    Dalk is die probleem verbeelding … ver verby Kress et al se Anglo-Saksiese multimodaliteit …

    Die woord dekolonialisasie is vir my dus ook TE snaaks/vreemd/verregaande – ek kyk/luister/dink/voel/vlug/vlieg/… skuins as ek dit hoor of sien … Tripping in higher education … Wie kan nog koherent en op die man skryf of dink … Wie kan nog skryf … Tik mens nie net maar nie … Doen “academic literacy” …

    Alwyn, jy is in vir ‘n ding! Hoe begin mens “‘n kurrikulum vir ‘n voorgraadse kursus in literatuurwetenskap in Afrikaans” anders as om met dekonstruksie/Derrida se (onbegrensde) oeuvre te begin, want mens moet mos GOED & LEKKER kan lees as mens meer oor die opkoms van “literatuurwetenskap in Afrikaans” wil leer? Die groot O van (on)moontlik …

    “Keep us posted.” 🙂