Duimnaelsketse, deur Johann de Lange. Naledi, 2020
Resensie: Daniel Hugo
Duimnaelsketse is Johann de Lange se tweede versameling kwatryne. Die eerste was Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het. In al sy ander bundels – twaalf van hulle – staan ook viereëlige verse. Dit maak van hom een van die produktiefste kwatrynskrywers in Afrikaans, en daarmee volg sy versvoete in die spore van D.J. Opperman, I.D. du Plessis, Ina Rousseau, R.K. Belcher en Hennie Aucamp.
’n Duimnaelskets is (letterlik) ’n miniatuurtekening of (figuurlik) ’n kort beskrywing. Dit is ‘n gepaste metafoor vir die gekonsentreerde maar terselfdertyd vlugtige aard van die selfstandige kwatryn.
Dit bly verbasend hoeveel betekenis De Lande in slegs vier reëls kan opstapel. Hierdie betekenisvermeerdering word dikwels deur literêre verwysings bewerkstellig – en is dus grootliks afhanklik van die leser se belesenheid. Sonder ’n goeie kennis van N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Boerneef, Leipoldt en ander gaan heelwat verlore.
Die kwatryn “Parade” word byvoorbeeld aan ’n sekere “I.D.” opgedra. Dit is die digter I.D. du Plessis wat in 1941 sy bundel Kwatryne die lig laat sien het. Daarin staan die volgende vers:
In Djokjakarta waar die silwersmede
Geduldig hamer op die wit metaal,
Het ek vir jou – ’n duisend jaar gelede? –
Dié bontgeblomde batikdoek gaan haal.
De Lange herskryf dit soos volg:
In Isfahan het skrynwerkers
dié bedstyl wat jy sou erf,
meer as ’n duisend jaar terug
uit geurige hout gekerf.
Die interteks-aanwending is veel verwikkelder en obskuurder in “Die stilte van bye – met apologie aan Dirk & Emily”:
Skaarste van vye- & vygiekonfyt
& die bye se soet, geel tuinery:
Want bye is skaars, maar nie digters nie,
met tyd & ink genoeg vir mymery.
Eerstens moet die leser besef dat met “Dirk” verwys word na D.J. Opperman, en met “Emily” na Emily Dickinson. Tweedens is dit noodsaaklik om te weet dat Opperman ’n gedig van Dickinson vertaal het – ’n vertaling wat slegs gepubliseer is in Lina Spies se boek oor Emily Dickinson en Elisabeth Eybers, Die enkel taak (1995). Hier is Dickinson se gedig:
To make a prairie
It takes a clover and one bee, –
One clover, and a bee,
And revery.
The revery alone will do
If bees are few.
En Opperman se vertaling:
Om ’n Karoo te skep het jy
’n vygie nodig en ’n by,
een vygie en ’n by,
en mymery;
is bye skaars
dan net die mymery.
In die volgende kwatryn herskryf De Lange nie net ’n fragment van die Griekse digteres Sappho (630 – circa 570 v.C.) nie, maar ook sy eie vroeër weergawe daarvan.
Die ouer een
na Sapfo
As jy my liefhet, soos jy sê,
sal jy vir jou ’n jonger lover kry
ek wil nie langer met jou lepellê
as die ouer een, al kasty jy my.
Só lyk die vorige weergawe in Weerlig van die ongeloof:
Jeug & ouderdom
Sappho
As jy my liefhet, & nie haat,
staan op & soek ’n jonger maat,
ek lê my nie langer neer by
jeug & oudag wat lepel-lê.
Albei kwatryne is ’n verwerking van die volgende Sappho-vers:
Even if you love me, find
a younger woman. I could
never bear to share my bed
with a man younger than I.
(Willis Barnstone: Sappho and the Greek Lyric Poets, 1988.)
Met die jongste weergawe word die intertekstuele tapisserie al hoe digter geweef.
’n Laaste voorbeeld – een wat selfs die minder ingeligte leser behoort te snap. Dit is ’n variant op Boerneef se beroemdste gedig:
Spekulum
Die berggans het ’n veer laat val
wat skrywe op die spieël van die wind.
Jy sal die antwoord op jou vrae
in die kleure van die berggansvere vind.
Die gedigte knoop nie net verbintenisse aan met tekste in die Afrikaanse en buitelandse literatuur nie, maar eggo mekaar ook onderling. Reeds vroeër in die bundel staan die kwatryn “Brand”, wat eweneens na Boerneef se vers verwys. Die brand waaroor dit gaan, het byna die hele dorpie Wupperthal in die Sederberge op 30 Desember 2018 verwoes.
’n Skollie het ’n vonk laat val
op die dakke van Woeperdal.
Kalkmure soos geskroeide vlees,
windloos & stom, ontdaan van gees.
Duimnaelsketse bevat ses afdelings. Die eerste handel oor die kunste en die treffendste een vir my is “Marlene Dietrich”:
Die blou engel sing wrang van lewe en dood.
Met die refrein, silwer kollig op veloer,
gly die hermelyn van skouers wit & mals
soos brood, & sterf in ’n hopie op die vloer.
Hierdie kompakte vers word nóg gespierder deur die binneryme “refrein” / “hermelyn” en “dood” / “brood”. Die stola van hermelynpels of -veloer is reeds dood, maar tydens die lied wat oor lewe en dood handel, sterf dit teatraal ’n tweede, kunsmatige dood.
Die tweede afdeling gaan oor die natuur en sy invloed op die mens. In “Drie solo’s” is die kitaar, die lyster en die digter ewe verdrietig:
Buite my venster, terwyl ek luister na ’n hartseer lied
het ’n kliplyster op ’n tak kom sit & saam
met die kitaarsolo gekweel, & saam
met die kitaar se verdriet.
Hierdie kwatryn demonstreer hoe soepel De Lange met die kwatrynvorm kan omgaan. Die versreëls is nie ewe lank nie – 15, 12, 10 en 7 lettergrepe onderskeidelik – en hy skroom nie om “saam” twee keer in rymposisie te plaas nie. Die herhaling “& saam” suggereer klankmatig en op ’n ironiese wyse die woord “eensaam” – vandaar die titel: “Drie solo’s”.
Die derde afdeling bevat liefdesverse – dikwels met ’n donker ondertoon, soos in “Afskeid 2”:
En toe jy jou rug op my draai,
raak alles onseker & vals,
& onder my dom voete val
’n sinkgat grondeloos orals.
In die ander verse duik woorde soos “moedverloor”, “wanhoop”, “donker” en “verdriet” op.
Hier staan ook kwatryne wat ’n volkse aard vertoon, iets in die trant dus van R.K. Belcher en Van Wyk Louw se volksverse:
Die liefde is die beker
wat die rooiwyn hou,
die knapsekêrel
wat aan jou kouse klou.
Die vierde afdeling heet “Die waarheid van ryme” en handel oor die digterlike bedryf.
Wisselings
Vlermuise hoor vorms, & plante eet lig.
Bye dans afstande, roetes na nektar,
na blomme & bloeisels, die héél, geel soetstes.
Die digter met sy pen bewerk ’n hektaar.
Die rymwoorde “nektar” / “hektaar” is ’n ware vonds!
Die vyfde en langste afdeling handel oor gay seks. Die “jongman” van “Begeerte” het alreeds in die gedaante van die “knapsekêrel” van die volksvers sy verskyning gemaak:
In my are skroei my bloed, die haartjies op my
vingerpunte vonk, my vel gevoelig, geheel
& al skil: Daar loop hy nou, die wulpse jongman
wat nie sy lente of liefde met my wil deel.
De Lange se poësie is deurdrenk van verwysings na Van Wyk Louw. Hier kan ek nie anders as om aan Louw se vers “Piromaan” (uit Tristia) te dink nie:
die vuur sit in my vingers
in die haartjies op my hand
en dans op elke vingernael
om los te kom, brand
te kan dra en straal te kan word
en óp te klim en áls wat hy
saam kan sleep, wit-goed te maak
tót hy sy eie maat kan vry.
In die slotafdeling, “Dood is ’n werkwoord”, klink die donker ondertone van die tweede afdeling finaal en dringend op:
Dusketyd
Nou gaan dié grys digter rus,
voorlopig nog ongekis.
Ek trek tot onder my ken
die vóórlaken van die mis.
In hierdie afdeling staan ook “Transfigurasie” wat as motto tot die hele bundel sou kon dien:
Met elke dag se eet en drink
beweeg die aarde deur my lyf,
& deur materie leer ek dink
& deur dink oor die aardse skryf.
Duimnaelsketse is ’n bundel wat enduit boei juis omdat dit die aardse (die lyf) en die geestelike (die denke) so vernuftig in die kort bestek van vier reëls verwoord.
Dankie, Daniel, vir die belese lees en dankie, Johann, vir jou steeds verrassende konstruksies