Ondertussen, deur Johann Lodewyk Marais. Naledi, 2020
Resensie: Daniel Hugo
Johann Lodewyk Marais skryf al vier dekades lank ’n soort praatvers: ingeperk deur lettergreeptelling, sober van woordgebruik, met weinig beeldspraak en meestal sonder ’n klimaktiese slot. Tog boei sy beste gedigte jou deur die fyn gebalanseerde gedagtegang, onopvallende klankeffekte en suggestieryke verswygings. Dit is eintlik iets unieks in Afrikaans. Van Uys Krige het D.J. Opperman op ’n keer gesê dat sy praatverse neig tot luidrugtige spraaksaamheid. Dit sal ’n mens Marais egter nooit kan verwyt nie.
Marais is bekend as ’n digter wat ekologies bewuste verse skryf. Dié tema word treffend verwoord in die titel van sy bundel uit 1992: Verweerde aardbol. Dit roep steeds onwillekeurig by my op die volgende reëls van D.J. Opperman uit sy bundel Dolosse (1963):
Die bleek aardbol
is swart aangebrand,
’n ingedukte
alunimiumkastrol.
Marais het twee bloemlesings groen verse saamgestel: Groen, gedigte oor die omgewing (1990) en (in medewerking met Ad Zuiderent) Ons klein en silwerige planeet – Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997). Sy bekommernis oor die vernietiging van ons aarde en sy spesies vind ook neerslag in die tematiese bundels oor voëls (Aves, 2002), die see (In die bloute, 2012) en insekte (Insektarium, 2018). In vroeër bundels het hy sy land van herkoms, die Oos-Vrystaat, nostalgies en noukeurig in kaart gebring. Nostalgies maar nooit sentimenteel nie.
“Sleutels”, die openingsvers van Ondertussen, handel oor die ontsluiting van die verlede:
My pa se bos sleutels kon die staaldeure
van die Ou Fort luid- en weergalmend sluit,
maar kan ek jare later daar instap
en, nou bevry, alles probeer ontsluit?
(Terloops, dit is jammer dat die teenwoordigheid van die vader nie meer aandag in die bundel kry nie. Hierdie kwatryn skep moontlikhede wat ongelukkig nie verder ontgin word nie.)
Die tweede, hegverweefde afdeling van die bundel bevat inderdaad talle jeuherinneringe waarin die verse mekaar as ’t ware weerspieël. Hierdie weerkaatsingseffek word reeds voorberei deur die titel van die gedig “Spieël” in die eerste afdeling.
Die indrukwekkende, lang gedig “Piromaan” vind sy pendant in “Die verloop”. In die eersgenoemde vers is dit ’n wit seun wat die boere – “sy eie mense” – se hooimiedens aan die brand steek. In “Die verloop” is dit “duister figure” wat “die boereopstal” afbrand. In hierdie vers word beskryf hoedat die trekboere hulle by fonteine gevestig en huise gebou het deur “klip op klip” te pak. In die daaropvolgende gedig, “Erdvarkgat”, word die verlate voorvaderlike graf van die inheemse bevolking die erdvark se “teelgat”. Dit is betekenisvol dat dié graf die vorm van ’n “klipstapel” aanneem. Eers het die koloniste die inheemse mense uit die veld verdryf, maar uiteindelik seëvier die natuur. Die erdvark beskerm ten slotte sy “erfgrond”. Dit is inderwaarheid ’n herskrywing van D.J. Opperman se gedig “Edms. Bpk.” waarin die janfiskaal en koperkapel “Dirk se erf” terugeis en tot eiendom verklaar.
Die mens as sodanig (“uitheems” én “inheems”) is dus ’n tydelike, ongewenste teenwoordigheid in Afrika.
Die “veld” word as die habitat van die erdvark uitgewys – die einste veld wat deur die inheemse veeboere en blanke inkommers as weiding gebruik is. Dit slotstrofe van “Hamish” spel dit uit:
By die krip met helder skoon water
steek hy sy hand uit oor die soetgrasveld
waar die teeltroppe van sy weiding loop.
Die “fontein” van “Die verloop” is hier getem tot “krip”, maar die grasveld as teelterrein van beestroppe sal volgens “Erdvarkgat” ten slotte aan dié dier ’n “teelgat” verskaf nadat die mens en sy makgemaakte vee verdwyn het.
Die boer in Afrika, waar grondbesit al eeue lank ’n strydpunt is, bly soek na groener weivelde. In “Biduur”, met die datumaanduiding 1965, emigreer ’n gesin na Rhodesië se “groener tabaklandery”. Die ironie daarvan hoef sekerlik nie uitgespel te word nie. Inderwaarheid was die Europeër se posisie in Afrika nog altyd prekêr; daarvan getuig die gedig “Banneling” uit die derde afdeling. Daar word vertel hoedat ’n Belg destyds uit die Belgiese Kongo moes vlug. Sy pa, wat agtergebly het om sy sake in orde te kry, se keel is afgesny. Dit is veelseggend dat die Belg naamloos bly – hy word sodoende die verteenwoordiger van duisende lotgenote.
Maar Afrika is ook ’n gevaarlike plek vir sy oorspronklike inwoners. In Junie 2004 is 16 000 vroue in die huidige Demokratiese Republiek van die Kongo verkrag deur rebellemagte onder die bevel van generaal Nkunda. “Vroue van Bakavu” is ’n ontstellende gedig. Die inkanterende refreine van hierdie villanelle het ’n aweregse uitwerking. Die liriese kwaliteit van die versvorm verhoog die onuitspreeklikheid van dié gruwelgebeure.
Op 2 April 2015 is 148 mense op die universiteitskampus van dié Keniaanse stad Garissa deur lede van die funamentalistiese Moslemfaksie el-Shabaab vermoor. Die gedig “Garissa” open met ’n pastorale beskrywing van nomades wat deur die droë vlaktes met hulle vee trek, terwyl die slagting in die stad plaasvind. Hierdie gebeure word versmatig in die eerste reëls voorsien deur die verwysing na “doempalms” en krysende kraaie. Maar, soos in “Erdvarkgat”, gaan die natuur sy onverstoorbare gang: “Stadig loop die Tana se bruin water.”
Die uitsigloosheid van die mens se bestaan in Afrika word in “Beleërde stad” enigsins verlig deur humor. Die datumaanduiding is 2017:
In die verte die dynserige beeld
van Paul Kruger, magies op die plein
en ons ry om die betowering.
Nou lê daar lemmetjiesdraad.
Dis ’n stroewe ervaring.
Afgesien van die beleëring.
Alles rondom. Die stad.
Kruger is toevallig die laaste keer
te velde: omsingel deur rooi baadjies.
Dit verwys natuurlik na die EFF se toenmalige protesaksie in Pretoria.
In die vierde afdeling ontvlug die digter self uit Afrika: “’n Droewe kontinent het my laat gaan” (p. 47). Hierdie reël bevat ’n eggo van N.P. van Wyk Louw se onvergeetlike treursang oor Suid-Afrika wat begin met die reël “O wye en droewe land” – ’n verwysing wat in afdeling 3 voorafgegaan word deur ’n (onbevredigende) herskrywing van Louw se bekende strofe:
My land, my dor, verlate land:
iets wens olywe groei in jou:
dat alles klein, Latyns gaan word
en kalk-wit kerkies bou.
Die digter besoek Lissabon, die Alpe en Amsterdam. (In die sewende afdelig is daar ook twee verse wat afspeel in Den Haag.) In die Alpe voel hy dat hy hom in die Paradys bevind. Sy soeke na ’n tuiste en liefde, soos vroeër verwoord in “Onvoltooid”, word dus hier kortstondig vervul.
Die bundeltitel, Ondertussen, verwys waarskynlik ook na die mens se bestaanswyse: ’n kortverblyf, ’n vlietende oomblik in die ewigdurende tydsverloop van die heelal en die onkeerbare voortgang van die natuur, soos vergestalt in die bewuswees van die sterre in “Kersfees op Clarens” en die byhaal van Van Wyk Louw se “iets staan in sterre-en-helderte geskryf” in “Herinnering”. Die digter skryf ná in stof en vergaan dan self tot stof: “en jy gee jou hand vol stof terug / aan die aarde en al die elemente.”
In die sesde afdeling vind die digter – eweneens kortstondig – vervulling in die liefde, soos blyk uit die twee gedigte “Mo li hua cha” (= Chinese tee) en “Heuningbos”. Die treffendste vers in hierdie afdling is “Seekosbord” waarin die ekologies bekommerde digter op ’n lig ironiese wyse aan die woord kom:
“Skryf ’n vers oor ons seekosbord,” sê sy
in ’n stampvol restaurant in die stad
waar die verkeer deur die oop vensters dreun.
“Oor hierdie stokvis, calamari, krap,
tiergarnale en swartmossels?” vra ek.
Sy knik. Ek huiwer en wys met my pen
na die borrelende akwarium
waar ’n kreef teen die glaswande krabbel.
Presies hoe vervlietend die mens se liefdeservaring en gevoel van geografiese geborgenheid is, blyk uit die slotgedig, “Ode”, met sy weerklanke van Fransiskus van Assisi se “Lof van alle kreature” en uiteraard Neruda se Odas elementales:
Oupa Uil,
ouma See,
moeder Aarde,
broer Son,
suster Maan –
ek het gesoek
en gesien
my spore
lê in die Waterberg,
langs die Palala,
in kringe op ’n pan
wat verklein
tot ’n waterkewer
se spel:
lê tussen verkoolde
boekenhoute;
deur Bokpoort
’n dun ry
in die nag –
maar,
wyses van die Al,
sê my, sê my
waar die liefde lê.
Ondertussen is ‘n ryk bundel wat die broosheid van die mens, en veral van die mens in Afrika, onderbeklemtoond maar trefseker in Standaarafrikaans, ook ’n bedreigde spesie, verwoord.