Seesuite
2020
Ná-gepraat
Vir/na N.P. van Wyk Louw
ons’t weggegaan en ons bewoon
’n windvervulde huis reg langs die see
ons vensters kyk nou elke dag
met wye oë na oop-eindigheid:
deurskynend, alles onder hierdie son,
al ons liefdes en letsels ylheid en lig
in saffier en diep toermalyn
in akwamaryn en groen mosagaat
die vlekke en strepe bollende skuim
soos moeite, verdriet wit uitgemeet
teen die swart en blou skaduwee
van elke naggrou stormsee:
die see is water en wind en water
en wind en wind
en elke dag voer ons die meeue
weer en weer krummels teen die wind
Reënboog
Ons is nog steeds verwonderd en bykans
oorbluf dat oNs Bly op hierdie plek
waar die reËn en stapels wOlke speel in
’n arEna van wind en vog en sOnlig totdat
Raaiselagtige boë kleurvol gloei teen die luG:
weer en weer as ons ’n reënboog sien is ons
hartgrondiglik teen onbehaaglikheid verskans.
Golf
(overgesetsynde ’n wanhopige akademiese gedig oor die see)
Ek wil so graag ’n gedig skryf oor die see wat meer is as die blote woorde
wat die see beskryf want die see se oorweldigende aanwesigheid
vereis veel meer as die noukeurigste referensialiteit
en my klein belewenis van hierdie grootsheid
met al die metafore wat ek ken en uitdink
is ontoereikend vir ’n transformasie
’n oopeindige representasie
in adekwate akkoorde
vir die majesteit
van die see.
Die see.
Onbeperk ingeperk
In die angstige tyd – verskraal, verkap, afgeskaal –
is alles kosbaar van tydelikheid.
In die louter niks van tyd – onsigbaar, onhoorbaar –
om ons, in die om-vattende afwesigheid
is ons, soos ’n slak sonder skulp op die strand,
nogtans deurskynend bewus van ontvanklikheid:
daar is soveel lig in die lug rondom ons
en deurentyd is ons in geluid ingesluit:
in formasie vlieg honderd flaminke uit oor die see,
asof saamgeweef sweef meer as ’n duisend klein spreeus,
duik, vou en flap soos ’n gespikkelde soepel stuk lap,
en voor die son sak steek spierwit egrette teen die rooi af;
die see lispel en sis en borrel klein golfies
glad oor sy lip as die wind nog bly lê; met storm
en volmaan stoot kragtige deinings op uit ver dieptes
en berge van water stort donderend oor, die see is die see.
Alles te hoor en te sien gaan dadelik verby;
alles vergaan en ons klou om ’n vonk
te behou van wat vlietend vergly.
Die niks wat tyd is, is immers uiteindelik alles;
omdat ons hou en kan vashou is ons
in tyd niks en nogtans uiteindelik alles.
© Heilna du Plooy, 2020

Die stem by die gedigte is pragtig, Heilna! Ek is tog jammer dat mens nie die see so ‘n bietjie in die agtergrond kan hoor nie … 🙂
Ek sien ook uit na ‘n bundel vol van hierdie soort sien en besin en sê oor see. Die ikonisiteit maak dit ook ‘n bietjie spelerig, maar dit moet vernuf vat om ‘n golf en ‘n reënboog ingepas en uitgemeet te kry in ‘n gedig. (Johann, ek bly altyd eerste aan ‘Sefapano’ dink in hierdie verband.)
Heilna, skryf asseblief nog meer gedigte oor die see op jou voorstoep.