Bientang deur Jolyn Phillips. Human & Rousseau, 2020.
Resensie: Nini Bennett
Die digter Jolyn Phillips het bekendheid verwerf met haar digdebuut, Radbraak, wat onderskeidelik gekortlys is vir die Elisabeth Eybers-prys en in 2018 bekroon is met die UJ-debuutprys. Bientang is haar tweede bundel, ’n werk wat in alle opsigte as ambisieuse digprojek beskou kan word.
In die uitgewer se inligtingstuk neem die leser kennis: “Van Bientang het net die naam van ’n restaurant in Hermanus oorgebly: Bientang’s Cave, asook ’n weggooi-opmerking: die laaste Strandloper.” In die bundel word die raaisel van die legende van Bientang onder die vergrootglas geplaas, te midde van historiese geskrifte en oorlewerings. Die toonaard van die gedigte is egter een van verlies oor ’n verlede wat geen spoor laat in die opgeskryfde geskiedenisse van die land nie. Tog verklaar die spreker-digter in die laaste vers (“//oëdienaar”, p. 60): “[…] is jy nie ook maar net ’n banneling / van ’n ander soort slaweskip as myne nie die digter sit met stersiektes / ek is die argivaris dis ek wat besluit ek sal jou taal bientang […].
Die digter is egter méér as die argivaris van die verhaal van Bientang. Dié epiese gedig is bevolk met karakters soos haar ouers, Lord Montagu, Klaas, die see, ensomeer en die spreker-digter fokaliseer en buikspreek deur hierdie karakters om gestalte te gee aan Bientang se verhaal.
“[…] ek het jou in my in- en my uit my uitgeskryf […]” (p. 60).
“vergewe my ek weet ek is ’n gedagtegier ek sal ophou om so uit jou uit te / praat […]” (p. 59).
“Bientang het jy dié aag dié klikbek toegang gegee tot al jou gedagtes / blyk dit nou jy piemp op my?” (p. 59).
“ek het vir Bientang ’n kleptokrasie gebou / en aan die buitekant kan jy sien hoe ons by mekaar steel / om ’n stem te lieg” (p. 58).
“[…] die sand plof / op die deksel van my kop in die land / van my kop waar sprekers woon” (p. 57).
Met hierdie polifoniese inslag word die rekonstruksie van Bientang se identiteit as ’n verbeelde – of fiktiewe – historiese narratief geskep. Ons is almal bekend met Autshumato, meer bekend as Harry die Strandloper wat opgetree het as tolk tussen die Europese setlaars en die Khoi-gemeenskap. Die Strandlopers was histories afstammelinge van die Khoi wat ’n bestaan gevoer het deur te jag en en kos te versamel aan die kuslyne van suidwestelike Afrika – en die eertydse Kaapkolonie. Met hierdie bundel word Bientang se historiese belangrikheid as “laaste Strandloper” onderstreep, maar die werk is ook van argeologiese belang, aangesien dit opnuut die ontdekkings by Hermanus (vroeër Hermanuspietersfontein) en omliggende omgewing onder die soeklig plaas.
Die epiese gedig se ‘verhaal’ word anachronisties aangebied, vergesel van insetsels in die vorm van fotokopieë uit gesaghebbende woordeboeke. ’n Sentrale tema in die bundel is die soeke en vorming van die Khoi-vrou, Bientang, wat in die tweede helfte van die negentiende eeu geleef het, se identiteit. Die eerste betekenis van die woord “bientang” is ’n valse aantyging of ’n aanname. Die tweede betekenis is om ’n mat oop te sprei as teken van gasvryheid, maar ook die oopgooi van ’n vissersnet of iets dergeliks; óf ’n Maleise kruisiging. En die derde betekenis is ’n ster, hemelliggaam of meteoriet. Die digter deel hierdie inligting of leidrade spaarsaam, maar broodnodig om die leser te lei om gaandeweg die geheime en raaisels, wat Bientang omring, te ontsyfer. Die leser maak ook kennis met die woord “!nau”, wat dui op ’n persoon wat tussen twee strata verkeer, byvoorbeeld ’n puber wat nòg kind, nòg volwassene in die stam of etniese groep is. Hierdie tussenfase aktiveer die kodes van inisiasierites en liminaliteit. Die konsep van liminaliteit is geskep deur die antropoloog, Arnold van Gennep in sy boek, Les rites de passage (1908), wat die prosesse rondom inisiasierites beskryf. Die struktuur van grensoorskrydingsrites verloop soos volg: skeiding – liminaliteit – herintegrasie. In die preliminale fase maak die persoon hom los van die sosiale struktuur, gereed om die gemeenskap te verlaat. Binne die liminale fase is die persoon blootgestel aan beproewinge, verwonding en ongewone ondervindinge. En in die postliminale fase vind die herintegrasie in die gemeenskap plaas. Die liminale persoon het egter nou ’n veranderde status as gevolg van nuwe kennis en insigte. Liminale persone is mense wat deur die klassifikasiesisteme van bestaande en kulturele sisteme glip, oor transformerende krag beskik, en ’n belangrike invloed op die gemeenskap kan uitoefen. Binne die liminale sone is daar ruimte vir kreatiwiteit, metamorfose en heling – en die liminale persoon slaag dikwels daarin om versoening tussen mense se verskillende rasse-, historiese en politieke oriëntasies teweeg te bring. Laasgenoemde liminale proses is waar vir die spreker-digter (binne haar metaforiese ruimtelike verplasing), maar ook vir haar alter-ego, Bientang: “vandag is ek vrou ek word uitgesmeer met boegoe / dit maak my vrugbaar atta’le vat my vanoggend / na die hut en sê vir my ek is nie meer ekke nie” (p. 7).
Bientang se inisiasieproses neem ’n aanvang, maar is uitdagend. Tog bring die galjoentyd en die assimilasie met natuur- en waterbeelde vertroosting (p.17). Maar die katarsis duur voort: Sy gee geboorte aan ’n kind (wat sterf) (p. 16), sy verwys na haar broer se dood (p.18), en sy beseer haar enkel onderweg na haar nuwe woonplek, ’n grot (pp. 18-20). Op ’n amper panteïstiese wyse word sy een met die elemente:
[…] in my is ook water ja in my is ook donderstorms
in my is ook die harsings so groen soos seegras
in my is klippe en daar is ‘n grot aan elke swelselhoek van my
lyf en hier kan ek nie sink nie hier spoel die water in my ore
in my neus my oë hou ek oop in die water is ek soos al die ander
kinders van die see wat in haar bly […] (p. 22)
Met verloop van tyd word Bientang méér see. Die see is nie net ’n beliggaming of analoog van haarself nie, dis ook ’n belangrike simboliese ruimte waarin sy haar bevind. Die simbool van die see word nie om dowe neute geassosieer met seksualiteit en voortplanting nie – en insgelyk die premordiale, moederlike oorsprong; die baarmoeder van nuwe lewe. Bientang, die een wat storms aanmaak, is inderdaad goed vertroud met donderstorms wat op hul beurt weer optree as agent van suiwering (pergatorium). Die tog na onafhanklikwording, weg van die huis, bied verdere uitdagings:
maar ek wil wragtig uitbars en see en see en huil en huil
ek wil pa’le nie vashuil nie my tuiskoms was so stil (p. 24)
Die tweede belangrike simboliese ruimte in die bundel is Bientang se grot. ’n Grot is immers ’n bekende inisiasieruimte in mites, legendes en kultusverhale, en word geassosieer met die hart; ook verteenwoordig dit die plek waar die self en die ego verenig. Die grot is simbolies van die aardmoeder se baarmoeder en sluit dan aan by die simbool van die see, wat resoneer met soortgelyke betekenis.
Die spreker-digter se ondermyning van tekstuele stabiliteit word self ’n grensoorskrydende handeling, ’n verruiming van woordbetekenis ten einde versoening te bevorder, terug in die samelewing. Die standaard konvensies ten opsigte van ortografie word uitgedaag, byvoorbeeld in die oorgrote meerderheid van die verse is die kantlyn regs, en nie links, soos dit normaalweg die geval met poësie is nie. Die verse bestaan uit ’n voortstuwende bewussynstroomtegniek, ’n ongewone (en soms) gebroke sintaksis en die weglaat van punktuasie om amorfe poësie te vorm. Die gebruik van die enjambement word maksismaal ingespan om byvoorbeeld die mag en krag van die see te simuleer. Die verse is tipografies aanskoulik, byvoorbeeld op p. 29 word die see as bruidsbed ook visueel sigbaar gemaak vir die leser. Dis egter veral die verruiming van taal wat opval – die teks is ryke stof in die vorming van neologismes, ’n lingua franca soos dit (vermoedelik) in die idioom van Bientang en die Chainouqua gepraat is. Veral die benoeming en beskrywing van natuurelemente en die see- en plantlewe tref die leser as outentiek, aards en sonder pretensie. Die heel laaste gedig (pp. 60-61) is ’n kakawin, ’n oud-Javaanse narratiewe gedig bestaande uit strofes van 4 reëls met 19 lettergrepe elk, geskryf volgens die ou Sanskrit-patroon. Bientang lewer nie net ’n aansienlike bydrae tot Khoi-/Quena-Afrikaans nie, maar ook tot die slawediskoers as geheel.
Versoenende handelinge word vanuit liminale sones verrig, soos byvoorbeeld op p. 30 wil Bientang vrede bewerk deur middel van vergifnis / offerhandes:
[…] ek’t vir hulle
’n vergifniskaros gemaak die walvisse
het al drie keer kom kalwers lewer hier by my plek
voordat ek besluit het ek sal vandag teruggaan […]
ek moet loop vrede maak as ek wil vrede wees (p. 30)
Maar ook die spreker-digter, wat deur Bientang “praat”, maak uiteindelik vrede met haar identiteit:
om baster te wees is om oorlams te wees ’n indringerplant ’n lukwart-
boom al wat van jou oor is is onkruid tussen die gras ek moet vrede
maak met my ironiese vel en ophou vrybriewe deur jou aan myself
te skryf ophou dink ek kan daarmee vir my ’n inheemsgeskiedenis koop (p. 60)
Die spreker-digter het dus binne die liminale sone haar kreatiewe energie gebruik om poësie te skryf – en só versoening vir haarself, maar ook vir Khoi-mense te bewerk.
In die tweede helfte van die bundel word die leser bekend gestel aan Lord Montagu en Klaas. Lord Montagu is ’n reisiger en ’n man wat wat plante en diere “ken en opskryf” (p. 31). Laasgenoemde opskryf word egter met ’n ironiese afstand deur Bientang (en die ware argivaris, die spreker-digter self) bejeën, omdat Bientang die natuur eerstehands ken en ervaar, terwyl Lord Montagu se kennis daarvan slegs teoreties of akademies blyk te wees. Klaas, Lord Montagu se middelman of helper, word ook “Amroo van die Kamma-Kan-Kammariviermense” genoem. Alhoewel daar ’n erotiese aantrekkingskrag tussen Bientang en Lord Montagu is, is dit onduidelik of hulle ooit ’n verhouding gehad het. Die wrywing tussen die Khoi en die kolonis blyk uit die verskillende leefwêrelde waaruit hulle kom; Lord Montagu verstaan nie die benoeming en belewenis van kruie en plante soos Bientang nie:
nee sê lord montagu it is lobostemon ek het grootgeword met die plante
lord moet nie vir plante name gee waarvoor hulle nie gevra het nie (p. 40)
Lord Montagu is ook vertroud met die derde betekenis van “Bientang”, naamlik ster of hemelliggaam (p. 37). Hierdie drie onderskeidende betekenisse van die woord dui nie net op die rekonstruksie van Bientang se identiteit nie, maar ook op die onderskeie dimensies van haar menswees – sy morf as’t ware in meer as een identiteit. Bientang vind dan eindelik berusting as sy haar vertroue, soos ’n noorkapper (walvis) vir die wind gooi. In “die storm” (p. 51), Bientang se laaste (metaforiese) storm, is daar ’n voorafskaduwing van haar bejaardheid en dood:
ek sit bedags by die soutwaters ek bekyk die omweer van die see
ek hoor hoe sy soos kapallangs stap hardloop
oor die klippe het jy nie gesien hoe lyk die vel van die rotse nie
hulle lyk soos my grootmoeder in haar geleende jare
voor sy kom liggaam maak het soos die walvis
hierdie rotse hulle plooi kyk hoe sit die ouderdom in hulle in
die water skryf my so in die branders in ek kyk vir myself en ek
ja ek het ok oud geword […] (p. 52)
Die spreker-digter bevry haarself as sy ook vir Bientang, op simbiotiese wyse, bevry in die ars poëtikale “die oëdienaar gee op” (p. 61):
jy sny jou los van waar ek jou arms die eerste keer in kruisrym geboei het
jou die eerste keer verstroof en jou binnerym uitgehaal het
en daar duik jy woordvry jou eie apokriewe uit (p. 61)
Jolyn Phillips se tweede bundel doen gestand aan die belofte wat met Radbraak geskep is – dit is in meer as een opsig sélf ’n grensoorskrydende werk, ’n kragtoer wat al die lof verdien wat dit toekom.
Beslis ‘n kragtoer, Nini. Ek het die bundel geweldig geniet. Die verhaal is meesleurend, met fassinerende taalgebruik, poëties en so vernuwend. Dankie aan Jolyn!