Nagblind deur Francis Grobler. Naledi, 2020.
Resensie: Nini Bennett
Die eerste indruk wat Nagblind skep, is een van verwagting: Die blakerteks bevat immers vyf akkolades, onderskeidelik dié van Richard van der Westhuizen, Dana Snyman, Koos Kombuis, Berdéhan Brand en Antjie Krog. Op die agterflap sê Krog: “Daadwerklike talent wat ’n eie interne woordeskat tot stand bring.” Dit skep ’n verwagting na Grobler se idiolek.
Een van bovermelde kommentators, Berdéhan Brand, het ook die persverklaring geskryf. Dit stem ooreen met die flapteks: “Francis Grobler skuif die sluier van ’n verskuilde wêreld met ’n afgerigte werklikheid en konformiteite oop met ’n moderne benadering tot digkuns. Haar outentieke benadering dra by tot ’n skaars, maar nodige kommoditeit in Afrikaanse poësie. Nagblind is ’n kragtige, eiesoortige en eenmalige leserservaring. Die woord word verhelder deur retoriek en metafore wat vonk. (…) Sy verfyn en rond die eindproduk tot ’n “andersheid” af wat ver verby die grense van konvensies gaan en aan die geskrewe woord ’n nuwe betekenis gee. (…) Francis Grobler is ’n spelterapeut, eggenote en ma van drie seuns (…). Haar debuutbundel verskyn in 2007, waarna andere volg. In 2019 word sy as algehele wenner aangewys deur die Genootskap van Handhawing van Afrikaans en verower die N.P. van Wyk Louw-prys. – Berdéhan Brand, digter, resensent, vryskut en keurder by hoofstroomuitgewers.”
Hierdie uitspraak is in vele opsigte problematies, maar meer daaroor later. Dit is egter ook onbekend op watter platforms Brand geresenseer het – ’n soektog na sy resensies lewer niks op nie. Die digter se resepsiegeskiedenis is eweneens duister. ’n Uitgebreide soektog op die sosiale media lewer ’n foto op wat die volgende inligting bevat: “Francis Grobler is ’n vrygees woordkunstenaar. ’n Vrydenker. ’n Dromer. ’n Kind van die aarde. (…) Haar debuutbundel, Pyltjies innie sand word vrygestel in 2007. Daaropvolgende werke sluit in duskant annerkant, Wie Ore Het en aard. ’n Versameling van Grobler se ander werke word vervat in die omnibusse Vier Seisoene; Dissekteer die Reënboog en Die Tiende Provinsie, asook in ander publikasies (…). In haar meer onlangse werke en met die ondersteuning van bekende name in die musiekbedryf, word Grobler se poësie, beelde en musiek meesterlik vervleg tot kragtige vlerke met intense boodskappe” (sic). Iederwel: die deftige voetwerk in die blakerteks skep die verwagting dat Nagblind ’n belangrike, selfs grensverskuiwende bundel mag wees. En om die verwarring uit te skakel: Nagblind is nié ’n debuutbundel, soos Hans du Plessis in sy resensie op Maroela Media beweer het nie – as ’n mens Grobler se selfpublikasies in berekening bring, dan is Nagblind haar vierde bundel.
Die eerste gedeelte, “annertrap se spoor”, open met die programgedig, “andersoort eenders” (2-3) wat ’n spel tussen anders en eenders as ’n skynbaar versoenbare kontradiksie voorstel. Die digter is egter inkonsekwent ten opsigte van die spelling van anners / anders en eenders / eners, waarskynlik ’n opsetlike poging om hierdie ‘andersheid’ te beklemtoon. Ongelukkig skep dit eerder die indruk van literêre slordigheid, byvoorbeeld “annertrap”, “andersoort”, “annerkant”, “anders”, ensovoort. Die ontronding en praattaal van “anner” dien geen doel nie; dis steurend, en ’n mens wonder of dit nie dalk ’n oorblyfsel van die digter se selfpublikasie, duskant annerkant is nie. Hierdie andersheid / andersom-‘logika’ word in enkele gedigte beskryf:
jirre, wat nou
dis seker maar oor ons mekaar se eenders
of mekaar se anders is
dat metafore uit my skryfhand ontbreek
of dalk is dit oor die verlopige verbond
dat ek – godweet weer jou asem wou voel
teen die skelet van my ribbekas
wat wordend wou úít
soos ’n eva
miskien het ek geglo dat my praat
nou ’n versigtige winter word
en my mond stadiger as gister
asof ons geneties apart is
jirre, wat maak ek nou? (14)
Asook:
spieëls voor die ruite
my hande hurk in die spore
van ’n andersom-neig
asof ek ’n rekenfout is
word ’n eenling se weerkaatsende bestaan
dan ’n soort hoofstroom-offensief
of bloot die droewige vloek
van ’n meerdimensionele kop
wat stukkende motte en duiwe aaneenlas? (34)
(…)
In bovermelde vers voel die aweregse spel met “andersom-neig” na ’n futlose literêre speletjie en tref dit die leser as infantiel. Dis nou hande wat hurk, nie bene nie. En die eenling weerkaats (die enkelvoud verdeel in meervoud).
In geheel neig die verse na willekeur. ’n Logiese poëtikale verloop ontbreek en botsende metafore vier hoogty. ’n Sentrale of sentrifugale tema ontbreek, en breedweg handel die verse oor lig teenoor donker, dag en nag, die prosesse van lewe en dood, die seisoene, en daar kom liefdesgedigte en Bybelse verwysings voor. Die omslagontwerp met die dubbelmaan suggereer iets van ’n “dubbelkyk”, ’n dubbelduidige of selfs meerduidige betekenis van die poëtiese woord. Ongelukkig ontbreek laasgenoemde en vertroebel die verse eerder in obskurantisme.
Op stilistiese vlak werk die digter met amorfe poësie. Sy skryf uitsluitlik in kleinletters en gebruik leestekens spaarsamig. Alle gedigte in Nagblind is binne hierdie templaat geskryf, wat op sy beurt poog om die digter se stilistiese armoede en gebrek aan verstegniese beheer te verdoesel. Die bundel herinner aan die amorfe poësie van die sewentigerjare wat gekenmerk is deur literêre bandeloosheid en die gebrek aan selfkritiek. Volgens Kannemeyer het uitgewers hulle skuldig gemaak aan die onkritiese aanvaarding en literêre oorproduksie van minderwaardige werk. Nagblind is sowel in styl, vorm en aanbod ’n bundel wat die mankemente van die sewentigerjare se poësie weerspieël.
Die taaltruuks slaag nie:
kon ek jou net eenmaal inspoor tot teen my skelet –
in – inner – inste (soos vel en weefsel en are) (68)
Die oordadige gebruik van hakies en koppeltekens is steurend.
vandag skryf ek (in die wig van ’n wensbeen) / (…) / want dis eers van onder (van heel onder) (75)
In enkele verse kom Ars poëtikale besinnings voor, byvoorbeeld “kyk hoe sak die ink”:
dié verse is alweer te slordig
vir literatore en ykers
maar as my ink sak om
’n heelgister te bid teen jou kussingsloop
en jou terug te sit in die son
láát dit dan sak
sodat jy van vooraf kan onthou –
dán sal ek jou naam hardop uitsê
sodat die hemel heel sal bly
soos dit nog altyd was (9)
’n Metafoor word op ander plekke as iets wat “bang” is, beskryf. Nog ’n voorbeeld:
soeker
my hande bring jou in swerfsand buite teks
met slordige sinsbou sonder sintaksis
interpunksie en dies meer
jy het reeds die maan
in jou mond laat slaap
en die reliëf van bykans elke koördinaat
op die kaart gespoor
jy skryf die sinne van ’n vryskutdromer
as teenmaatreël vir bloei
maar steeds verken jy nes ek
vryheid veeltalig ver
buite die taalgrens van literatore
en berei ’n eie kontinent in dryf
soos ’n weggebreekte skelet (30)
Mankemente soos ’n onlogiese poëtiese verloop van verse, ’n gebrek aan logiese oorsaaklikheid en verse wat wemel van beelde wat willekeurig én ondoeltreffend ingespan word, kom in alle verse voor. In “soeker”, die volgende voorbeelde: Strofe 1 se geswymel maak hoegenaamd nie sin nie. Wat op dees aarde is ’n “vryskutdromer” – is daar, by implikasie, ook iets soos ’n “voltydse” dromer? Die gebruik van die woord “dryf” in strofe 4 as s.nw. is verwarrend en slaag nie. Ook die gebruik van die verhewe woord is hinderlik, soos “ykers” in “kyk hoe sak die ink”. Voorts gryp die digter na biologiese begrippe sonder dat enige van hierdie motiewe deurgekomponeer word. Die woorde word lukraak gebruik en mens kry die gevoel dat die verhewe of geleerde woord as intellektuele fineer moet dien, met ander woorde dis myns insiens niks meer as pretensieuse stopwerk nie. Die bundel wemel van embrio’s, gamete, ovums, vrugwande, geendraers en fetusse. In “lepidoptera” (38) word die vers, wat handel oor motte en vlinders, as ’n raaisel aan die leser gestel.
Die verse steier onder die roekelose gebruik van koppeltekens om woordkonstellasies te skep: “klip-vir-bliksemse-klip”, “van daar-af-aan” en “van dus- tot anderkant skemer – “, om enkele voorbeelde te noem.
Die digter is lief vir potsierlike sameflansings van woorde, waarskynlik pogings tot neologisme. Voorbeelde hiervan is “droomskelette” (12), “vlindermurg” (12), “tussenstroofstiltes” (12), “aarsels” (15), “kleingebed” (17), “ingekapte wederbestaan” (19), “woordsigote” (20), “vryskutdromer” (30), “gistertrap” (26), “hoofstroom-offensief” (34), “brandbane” (41), “gelykpreek” (42), “kruisdodings” (48), “aardelinge” (48), “eenrigtingstaar” (50), “bystelling” (52), “medevers” (54), “skynideologie” (54), “swaaiings” (54), “halfgeringe” (58), “smalgeskatte” (66), “sigeuns” (67), “kleinsekonde” (69), “halfbang-vlietend” (70), “herteug” (76), “onthulde” (74), “onsekerte” (78), en “waarwording” (80).
Die mildelike gebruik van poëtiese clichés en die gesogte woord of beeld kom voor. “Spore” is só ’n cliché, byvoorbeeld: “hulle sê dat ons ’n ándersoort eenders lostrap” (2); “vandag het ek my voete verpas en / my spoor was vreemd vir my trap” (18); “ons spore naslaan” (21); “uit gistertrap se groef” (26) “my hande hurk in die spore / van ’n andersom-neig” (34); “want net ons sal weet dat die kleur van dromers / in die prismas van eie spore bly spartel” (42); “maar vanaand ken my voete nie my eie spoor nie” (51); (…) “sal als wat leef / terugtroef tot ’n spoorlose bestaan” (59); “deur hoeveel katarsisse / kan een paar voete / sonder sloeg of struikel trap” (65); “jou naam kerf teen elke spoor / wat jy in die melkweg los” (67); en “ek weet nie of my voete bepaald iewers minder sal sleep / en of my spore ooit meer gelyk sal neig” (68).
In sommige verse val die spreker haarself in die rede by wyse van ’n emosiebelaaide interjeksie: die “verhewe” inhoud word kras onderbreek en gejukstaponeer met banaliteite, byvoorbeeld “want godweet” (20); “jirre, wat maak ek nou”? (14); “fokweet” (51); en “ek wil terstond uitmekaarbliksem” (68).
Uiteindelik raak die botsende metafore, poëtiese willekeur en mooiskrywery nét te veel, en ek haal aan uit “toe jy omkyk” (12):
(…)
want die versmakers dig hulself ter dood
in die leemtes van droomskelette en ou vlindermurg
tussenstroofstiltes word altesaam
waarmakings wat opsteier
in ’n stom applous
aan die klamkant van kyk
Asook:
kopklank
ons koppe werk wederkerig
ons verstand soos die voorkennis
van magiese nagte
al het ons bloot
van ver af effe eenders gelyk
want ek was nog nooit jou antoniem nie
ons soort sal altyd
in verspringende hoeke
deur brandbane en die breeklyn van branders beur
in hierdie afgemete halfsirkelbestaan
wat ander leef noem
of tot vrede in ons vestig (41)
Die toetssteen vir ’n goeie bundel is of daar ’n nuwe stem is; ’n nuwe stylgreep. Ongelukkig verklap Nagblind al die hebbelikhede van die sewentigerjare se poësie, met gepaargaande literêre argeloosheid. Nagblind is nie, soos aangedui in die blakerteks, ’n nuwe, moderne of outentieke benadering tot poësie nie, dit is al tot vervelens toe beoefen veertig, vyftig jaar gelede. Kannemeyer het dikwels na hierdie tydvak se swak poësie verwys, wat Hambidge elders as “terreuraanvalle op die digkuns” beskryf. ’n Streng keurdershand kon van die hebbelikhede in Nagblind uitgeskakel het. Desnieteenstaande het die digter egter ’n verantwoordelikheid teenoor haarself om haar talent te ontwikkel, al beteken dit sy moet terugkeer tekenbord toe. In Nagblind is daar té veel voetwerk en te min poësie.
HIERMEE WORD DIE BESPREKING OOR NINI BENNET SE RESENSIE VAN “NAGBLIND” GESLUIT. GEEN VERDERE KOMMENTARE SAL GEPUBLISEER WORD NIE.
Engela, jy skryf teen die einde:
“Hoe is dit dat die bundel aan die een kant hermetiese elemente bevat, welke elemente juis akademiese vermoëns by die leser vereis en aan die ander kant sonder “akademiese ballas (sic)” is?”
Waarom die “(sic)”??? Dit behoort tog duidelik te wees dat Myburg nie die woord “ballas” in sy seksuele betekenisonderskeiding gebruik nie. As mens praat van “akademiese ballas” beteken “ballas” volgens die Verklarende Woordeboek van Labuschagne en Eksteen:
1. Waardelose vraggoed om ‘n skip die nodige gewig te gee. 2. Oorbodige vraggoed. 3. Growwe materiaal wat die onderlaag vir dwarslêers vorm.
Waarom dan die vraag “sic”?? Dit behoort mos duidelik te wees dat Myburg bedoel allerhande swaarwigtige woorde wat die gedigte laat sink … Labuschagne en Eksteen se verklaring is juis ‘n baie goeie beskrywing van die tipe gedigte waarna Myburg verwys – ‘n baie subtiel gekose opmerking dus, tiperend van die meervlakkigheid van goeie poësie.
Bloot ‘n retoriese vraag, Engela. Jy hoef my nie te antwoord nie. Ek dink almal wat ‘n mening wou vorm oor “Nagblind” het dit reeds gedoen.
Marlies Taljard, die doel was om die vorige kommentaar deeglik te antwoord. Ek het stawing gegee vir my feite aangesien jy my persoonlik gevra het om in die vervolg beter kommentaar te lewer, of glad nie. Ek volstaan hierby.
Ek deel Daniel se sentiment. Min van ons het tyd om so ‘n lang reeks lesings te lees oor ‘n resensie wat die meeste van ons reeds vergeet het. Wat is nou eintlik die doel van dié lesingreeks??
Dit was ‘n lang lesing. Ek moet beken, ek het ‘n bietjie ingedut.
Tilla vd M, ek het kennis geneem. Hiermee my antwoord daarop:
POЁSIE: DIE LESER SE VERANTWOORDELIKHEDE
‘n Antwoord op Johan Myburg se resensie “Die suggestiewe krag wat klank voortbring”, soos gepubliseer op Netwerk24 op 30 Maart 2020.
Ek het die afgelope week aktief deelgeneem aan ‘n debat hier op Versindaba, rakende Nini Bennett se resensie hierbo. Ek het duidelik die voorbeelde gegee waarom haar argumente nie oortuigende stawing geniet nie.
Daniel Hugo het ook nie op hom laat wag nie, en hy het ‘n artikel “Haar woordpaljas laat ons steier” op Versindaba geplaas. Hy het die digter se gedig verkeerd aangehaal deurdat hy die woord “denke” aangehaal het, in plaas van “donker”. Hy het bykans vier paragrawe gewy aan hoe denke nie abstrak kan wees nie, (wat in werklikheid “donker” is) en so tot die gevolgtrekking gekom dat Grobler nie so diep kan dink soos wat Hans du Plessis van mening is nie. Ek het hom op sy fout gewys in my kommentaar, maar hy het hom nie verwerdig om dit reg te stel of te wysig nie. Hy het my wel bedank vir my les in leeskunde, derhalwe lei ek af ek dat ek as ‘n leeskundige dus bevoeg is om hierdie kommentaar te lewer.
Ek vergelyk graag kortliks Bennett en Myburg se resensies. Bennett noem dit “amorfe poësie” en Myburg bestempel dit as hermetiese poësie “sonder akademiese ballas (sic)”. Verder beweer Bennett dat die bundel vormloos en struktuurloos is, en dat ‘n tema ontbreek, terwyl Myburg erken dat daar wel ‘n struktuur is; dat Grobler haar eie interne woordeskat het; en dat daar ‘n tema is.
Ek fokus vervolgens op Myburg se resensie, aangesien sy resensie nou meer relevant is.
Ek haal graag aan uit Monja Basson se MA-verhandeling, “Duister poësie: ’n vergelyking tussen die hermetiese poësie van Gilbert Gibson en Jan Lauwereyns” (2018):
“In die Afrikaanse poësie is die gedigte van die Dertigers by geleentheid as hermeties beskryf in die sin dat A.P. Grové in 1949 die Dertigers as duister beskryf in Die duistere digter: Opstelle oor die moderne Afrikaanse liriek. Hy beskryf hierdie digters as “[d]ie geslag van na 1934” en skryf: “Geen wonder dat poësie wat so in die skemergebied indring as duister bestempel word nie” (Grové, 1949: 26).
Grové reageer verder op die destydse aandrang op toeganklike Afrikaanse poësie. Hy verskaf eerstens ‟’n rede vir die weerstand teen hermetiese (duister) poësie, naamlik dat die “massamens” aandring op kuns wat weinig inspanning vereis (Grové, 1949: 16).
Tweedens is dit die Dertigers (asook die latere D.J. Opperman, Ernst van Heerden, en S.J. Pretorius) wat by uitstek die “gekompliseerde “moderne lewe” probeer peil en ‟n nuwe en meer verwikkelde taal asook nuwe simbole moet vind “om die omringende duisternis te deurflits”. Die leser moet daardie taal en simbole eers begryp anders “sal die werk van tydgenote altyd duister bly” (Grové, 1949: 19).
Derdens besin Grové (1949: 21) oor die moontlikheid dat die hermetiese aard van die Dertigerdigkuns verklaar kan word aan die hand van die invoer van ‟n “sober, strak, snel, kantig, nugter” verstegniek om uiting te gee aan die moderne tyd met sy eise van “weerbaarheid, spoed en wetenskaplike formule”. Dit verg ‟n “geoefende oor” om hierdie versmusiek, woordkuns en tegniek te verstaan.
Grové demonstreer dat lesersverwagting ‟n invloed het op persepsies van duisterheid in die poësie. Namate die nuwe ontwikkeling in die digkuns ingang vind by ‟n breër leserspubliek, verdwyn dikwels ook dié persepsies van ‘n gewaande duisterheid.
N.P. van Wyk Louw bespreek eerder moeilike poësie in sy reeks opstelle “Altyd moeiliker poësie” wat dateer uit 1952 en dui daarop dat moeilike poësie in alle tye voorkom en hy vind die begrip “duisterheid” onbruikbaar. “[D]uisterheid in die sin van werklike onverstaanbaarheid vind ‟n mens gewoonlik in versies wat vir neëntig uit honderd van die publiek volkome deursigtig lyk, maar waarin die skerpsinnige leser tog gedurig die onhelderheid van gedagte en van uitdrukking raaksien” (Louw, 1986: 222).
Moeilike poësie vereis meer konsentrasie en intelligensie van die leser en word veral gekenmerk deur ‘n taal-ekonomiese strewe.
Louw identifiseer vier kenmerke van moeilike poësie:
eerstens word logiese skakels weggelaat aangesien ervaring self nie-logies is.
Tweedens word meer metafore as vergelykings gebruik omdat vergelykings te omslagtig is.
Derdens word daar nie verklarings van die gedig binne die gedig gegee nie en die leser moet noukeurig lees.
Vierdens word simbole in plaas van bewerings gebruik. Die gedig het ‟n digter tekstuur wat konsentrasie, aandag, intelligensie en ‟n ontvanklikheid vir suggestie van die leser eis.
Die medium van die gedig, die feit dat poësie vandag gelees word en nie meer met die eerste aanhoor verstaan moet word nie, dra ook by tot die skryf van moeilike poësie. “
Andries Visagie bespreek in ‘n onderhoud met Louis Esterhuizen (2009) die historiese posisionering van hermetiese poësie in Suid-Afrika en hy beklemtoon ook die Dertigers as digters wat ‟n groot bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie: [D]ie ideaal in die 1930’s en in die daaropvolgende dekades was immers om die Afrikaanse poësie op ‘n gelyke voet met die poësie in Westerse lande te plaas […]
Die durf het bestaan om moeiliker poësie te skryf.
Digters soos Opperman, Breytenbach en Stockenström kon hierna gedigte skryf wat hoë eise aan die leser stel. In bundels soos “Die heengaanrefrein” het lesers voor hermetiese verse te staan gekom […]” (Visagie en Esterhuizen, 2009).”
Uit voorafgaande is dit duidelik dat daar ‘n verantwoordelikheid by die leser berus om moeite te doen om sin te maak van gedigte, veral wanneer hulle dit nie verstaan nie.
Verskeie leserstrategieë is beskikbaar om hierdie verantwoordelikheid prakties uitvoerbaar te maak.
Ek as leser het dit tog maklik reggekry om Grobler se gedigte te verstaan. Dit is wel meer uitdagend as ander digters se werk, aangesien dit die leser se uitkyk op sy eie realiteit uitdaag.
Ek haal graag die volgende gedig uit “Nagblind ” aan:
“dalk
jy wou my én die waarheid
as ‘n soort toepassing aanwend
of ons stilweg laat sterf
as die gebruiklike ironie in ‘n slotsin
daarom sal my oë kleur opsoek
uit enige verdedigbare
of onverdedigbare andersheid
wat my in meer as ‘n bystelling
aan jou wil verduidelik (52)”
en ek verwys weer na die gedigte “spieëls voor die ruite” en “kopklank” hierbo (aangehaal deur Bennett).
Hierdie gedigte is voorbeelde van gedigte waarin ‘n metafisiese dimensie ontstaan. In die gegewe voorbeelde gebruik Grobler doelbewus, in haar eie woorde, omgedraaide kodes en konsepte (soos hande wat hurk) om die doel daarvan te vernuwe en dit te omskep tot terme wat in ’n opposisionele diskoers tuishoort. Grobler het ten doel om deur middel van taal bogenoemde begrippe te verbreed, te omskep en te wysig totdat dit in ’n teen-anatomiese en onnatuurlike weerstandsdiskoers pas. Dit is juis om by die tema van “Nagblind” in te pas. Dit skep dus ‘n struktuur. Die menslike liggaam en die natuur lyk daarna anders. Logika word vanuit ‘n ander oogpunt gesien. Dit is belangrik om te noem dat logika nie ontbreek nie, slegs die blik van die mens op sy eie denke en sienswyses verskuif. Dit is logies vir die intelligente leser.
Hermetiese gedigte is moeilik om te verstaan, en soms vereis dit selfs dat die leser navorsing moet doen.
Met die bogenoemde in gedagte, wil ek die volgende vraag aan Myburg stel: Hoe is dit dat die bundel aan die een kant hermetiese elemente bevat, welke elemente juis akademiese vermoëns by die leser vereis, en aan die ander kant sonder “akademiese ballas (sic)” is?
Verder insinueer Myburg dat die gedigte mooi klink, maar die inhoud is nie helder genoeg nie.
Dit is dalk nie helder genoeg vir Myburg nie, maar indien hy sy huiswerk gedoen het, sal hy tog weet dat hermetiese gedigte uitdagend en raaiselagtig is en al is dit vir sommige lesers moeilik om te bepaal presies wat die digter bedoel, is dit tog moontlik.
Die proses van verstaan is tog individualisties van aard.
Derhalwe berus die vereiste van “helderheid” nie net by die gedig nie, maar ook by die leser se insig en luister- en leestegnieke.
Die resesente van hierdie bundel moet dit in gedagte hou.
Indien ons N P van Wyk Louw se mening hierbo in ag neem, wat ons almal behoort te doen, sal dit voor die hand liggend wees dat ons beter moet lees en luister en eers verstaan, voordat ons dit vulgêr afskiet as sonder “akademiese ballas”.
Engela O, Neem tog ook kennis van Crito se resensie oor resensies op LitNet: Nagblind, deur Francis Grobler. Resensie: Johan Myburg. (Boeke24)
Gaan maak gerus ’n draai by Versindaba, waar dit oor hierdie bundel gons. Lees dan hierdie resensie, en u sal weet hoekom ek dink dit behoort benoem te word vir daardie prys vir beste resensie van die jaar. Myburg verduidelik presies in watter genre-konteks die verse geplaas moet word (hermetiese poësie), en vorder dan algaande tot die punt waar hy baie kalm en met uiters goeie maniere sê dat dit nie ’n goeie bundel is nie. Hoekom? As gedigte net klank bly, sonder enige semantiese onderbou, lees ’n mens dit vir die klank en nie die verstaan nie, want die digter is die enigste wat sal weet wat bedoel word. Myburg se resensie is ’n meestersklas van hoe ’n mens sinne kan laai met innuendo, goedige humor, teregwysings en so meer. Hy illustreer selfs vooruit sy eie opmerkings sodat die digter móét verstaan wat hy sê: “Dit is veral verse wat hardop lees, dié.” Vyf paragrawe later laat hy jou begrypend glimlag. Ek het die paragrawe van hierdie resensie gelees met die plesier waarmee ’n mens soms digkuns lees, bewus van die maniere waarop Myburg sorg dat hy nie korte mette van die bundel maak nie, en dit uiteindelik tog doen. “Grobler beheers klank en vormgewing,” sê Myburg. Presies wat Mozart van Salieri gesê het …
Dankie vir ‘n puik, relevante en objektiewe resensie.
Die raad van die resensent aan die digter is net so relevant.
Anton, ek neem aan jy lewer ook repliek sonder dat jy self die bundel behoorlik bestudeer of in besit het?
Dit is tog teen Versindaba se beleid.
Dit is ook interessant hoe ñ hele artikel elders op Versindaba rondom een gedig gebou word, maar verkeerd deur ñ literator “oorgeskryf” word op ñ openbare platform en dan steeds as maatstaf gebruik word vir ñ bundel wat steier. ‘n Mens wonder wie steier hier. Dalk diegene wat repliek lewer sonder dat ñ bundel behoorlik bestudeer is?
As jy, nadat jy my kommentaar gelees het, steeds dink ek verstaan nie die bundel of resensie nie, sê dit heelwat oor jou.
Die lengtes waartoe mense sal gaan om ander én hulleself te oortuig dat perdedrolle vye is. Met die grendelstaat onderweg het hulle te veel tyd op hande.
Engela O. Jy verdedig ‘n bundel wat jyself nie verstaan nie aan die hand van ‘n resensie wat jy ook nie verstaan nie.
As reëls soos:
want net ons sal weet
dat die kleur van dromers
in die prismas van eie spore bly spartel”
vir jou na digkuns klink en nie na woorde wat bymekaargegooi is nie, sal jy en die “ivoortorings” vir altyd deur verskillende “prismas van eie spore spartel” Weet julle wat ‘n prisma is?
Die digter kan so baie uit hierdie resensie leer.
Engela O
In jou lang verdediging van Nagblind bewys jy dat jy benewens die bundel, ook nie die resensie verstaan het nie.
Hierdie resensie, wat waarskynlik die eerste eerlike een is wat die digter ooit gekry het, behoort as leerstuk gebruik te word. Dit is vol waardevolle raad en wys op die slaggate in die bundel.
Nadat die resensent wys op die clichè’s hoef sy nie elkeen te bewys nie. Die leser van die resensie en die bundel behoort dit te kan sien
As jy nie kriewelrig raak as jy lees:
“vandag het ek my voete verpas en / my spoor was vreemd vir my trap” (18); “ons spore naslaan” (21); “uit gistertrap se groef” (26) “my hande hurk in die spore / van ’n andersom-neig” (34); “want net ons sal weet dat die kleur van dromers / in die prismas van eie spore bly spartel”
Uit hierdie voorbeelde roep die onsinnige metafore luid.
Kyk net!!
want net ons sal weet dat die kleur van dromers / in die prismas van eie spore bly spartel
Kyk hoe kan ‘n mens met “voete” in (skynbaar) eenvoudige taal beeld.
Afskeidsvers aan N.P. van Wyk Louw (Sheila Cussons)
Dis twaalfuur nou, die wysers paar,
ek let, en noem jou, weet jy let –
dis of ek ongebore weer
jou wit-rooi duif hoor ritsel het.
Ek het jou voetstap nog gehoor
net om die draai, toe weg,
en met ons laggroet nog by my
geweet hoe word die straat
oneindig skemer tussen rug
en rug – oneindig leeg.
Die raad by skryfskole is dat jy eers ‘n duisend gedigte lees voordat jy die pen optel.
Bennett se ondersteuners wys herhaaldelik daarop dat sy voorbeelde in haar resensie gebruik, wat blykbaar aanduidend is dat die resensie relevant is. Ek het reeds baie voorbeelde aangehaal in my boonste kommentaar, en ek aanvaar dat dit saam met hierdie kommentaar gelees sal word.
Die doel van hierdie kommentaar is om die voorbeelde te bespreek wat Bennett gebruik het.
Voorbeeld 1: ONTRONDING EN SPREEKTAAL
“Die ontronding en praattaal van “anner” dien geen doel nie; dis steurend, en ’n mens wonder of dit nie dalk ’n oorblyfsel van die digter se selfpublikasie, duskant annerkant is nie. “
Hier verwys sy foutiewelik na “ontronding”. Dit is nie ontronding nie, maar progressiewe assimilasie, onder meer. Die voorbeeld is dus foutief.
Wat die doel betref, het Bennett dit self erken – om die andersheid te beklemtoon. Wanneer ‘n mens kyk na die doel van “praattaal”, moet dit tog in die konteks van ‘n spesifieke gedig beoordeel word. Bennett het nagelaat om die gedigte te vermeld waar Grobler inkonsekwent met die spelling van “anders” is.
Sy skryf: “Die eerste gedeelte, “annertrap se spoor”, open met die programgedig, “andersoort eenders”, wat ’n spel tussen anders en eenders as ’n skynbaar versoenbare kontradiksie voorstel. Die digter is egter inkonsekwent ten opsigte van die spelling van anners / anders en eenders / eners, waarskynlik ’n opsetlike poging om hierdie ‘andersheid’ te beklemtoon.”
In die gedig “andersoort eenders” word “anders” en “eenders” deurgaans konsekwent gespel. Afgesien van die titel, word die woord “anders” twee keer gebruik, en “eenders” een keer. Indien Bennett verwys na die hele bundel, en hoe inkonsekwent en doelloos die woorde gebruik is wat sy gelys het, moet sy tog voorbeelde gee wat dit staaf. Om die doel te bepaal van iets so subtiel en subjektief soos praattaal, moet elke gedig in isolasie beoordeel word. Stawende voorbeelde ontbreek in die resensie.
Voorbeeld 2:
DIE ANDERSOM-“LOGIKA”
Hier gee Bennett voorbeelde uit die bundel waarin die andersom-logika sterk na vore kom. Sy gebruik wel aanhalingstekens vir die woord “logika”, wat daarop dui dat sy dit as onlogies ervaar.
In die gegewe voorbeelde gebruik Grobler doelbewus, in haar eie woorde, omgedraaide kodes en konsepte (soos hande wat hurk) om die doel daarvan te vernuwe en dit te omskep tot terme wat in ’n opposisionele diskoers tuishoort. Grobler het ten doel om deur middel van taal bogenoemde begrippe te verbreed, te omskep en te wysig totdat dit in ’n teen-anatomiese en onnatuurlike weerstandsdiskoers pas. Dit is juis om by die tema van Nagblind in te pas. Dit skep dus ‘n struktuur. Die menslike liggaam en die natuur lyk daarna anders. Logika word vanuit ‘n ander oogpunt gesien. Dit is belangrik om te noem dat logika nie ontbreek nie, slegs die blik van die mens op sy eie denke en sienswyses verskuif. Dis logies vir die intelligente leser.
Vir Bennett voel die spel na:
“’n futlose literêre speletjie en tref dit die leser as infantiel. Dis nou hande wat hurk, nie bene nie. En die eenling weerkaats (die enkelvoud verdeel in meervoud).”
Ek wil graag fokus op die betekenis van “futlose” en “infantiel”. Talle uitsprake is gelewer teen diegene wat teen hierdie resensie beswaar maak, alhoewel dit juis emosionele en vernederende uitlatings soos hierdie van Bennett is, wat daartoe aanleiding gegee het.
Wanneer Bennett die woord “futlose” gebruik, impliseer sy dat die woordespel kragteloos is. Dit is beslis nie iets wat elke leser sal ervaar nie. Die woord “infantiel” dui daarop dat hierdie andersom-logika ‘n kinderagtige konsep is. Dit is blykbaar reeds moeilik vir volwassenes soos Bennett om hierdie andersom-logika volledig te begryp. Die woord “infantiel” is dus onvanpas, veral wanneer ‘n mens dit logies benader. Miskien sou die woord “kreatief” meer sinvol gewees het. Ek sukkel dus om ‘n kousale verband tussen die voorbeelde en die resensent se woordkeuses raak te sien. Die leser ervaar dit eerder as ‘n persoonlike oordeel, as ‘n objektiewe resensie.
Kan ‘n mens logika vanuit ‘n nuwe hoek benader? Hierdie digter het daarin geslaag en bewys dat logika in die poësie inderdaad op ‘n vernuwende wyse bestudeer en weergegee kan word. Dit is inderdaad ‘n nuwe stem, een wat eers verstaan moet word, voordat dit waardeer sal kan word.
VOORBEELD 3: ONTBREEK VAN ‘N TEMA:
Bennett skryf: “’n Sentrale of sentrifugale tema ontbreek, en breedweg handel die verse oor lig teenoor donker, dag en nag, die prosesse van lewe en dood, die seisoene, en daar kom liefdesgedigte en Bybelse verwysings voor. Die omslagontwerp met die dubbelmaan suggereer iets van ’n “dubbelkyk”, ’n dubbelduidige of selfs meerduidige betekenis van die poëtiese woord. Ongelukkig ontbreek laasgenoemde en vertroebel die verse eerder in obskurantisme.”
Bennett gebruik voorbeelde wat juis die tema se bestaan bevestig, in wese andersom of teenoorgesteldes. Nagblind is ‘n woord wat juis op die begrip teenoorgestelde sinspeel; dit is ‘n gepaste naam vir die bundel, omdat dit by die tema pas. Iemand wat nagblind is, sien ‘n dubbele maan. Dit pas weer in by die ander perspektief van waaruit die bundel geskryf is. Dit moet juis nie op ‘n meerduidige betekenis dui nie, maar op die ooreenkoms tussen die teenoorgesteldes fokus.
Weer eens is Bennett se voorbeelde nie gestaaf nie, en daar blyk ‘n gebrek aan insig te wees by die resensent.
VOORBEELD 4: STILISTIESE ARMOEDE:
“Die taaltruuks slaag nie:
kon ek jou net eenmaal inspoor tot teen my skelet –
in – inner – inste (soos vel en weefsel en are) (68)
Die oordadige gebruik van hakies en koppeltekens is steurend.”
Hier beklemtoon die hakies die binnekant van die menslike liggaam. Die hakies beklemtoon die intieme innerlikheid, wat inpas by die gedig. Daar is dus ‘n doel, en dit is nie enigsins oordadig of ‘n “truuk” nie. Vir iets om oordadig te wees, moet ‘n oorsprongrede ontbreek, of te wel, ‘n grondige doel moet ontbreek. Ek sien weer eens nie die verband tussen die gegewe voorbeeld en Bennett se stelling nie. Indien ‘n mens die gedig “dit is wat dit is” lees, sal ‘n mens merk dat dit 20 reëls beslaan. Slegs ‘n gedeelte van een reël bevat hakies, en daar is in twee reëls drie koppeltekens “kon ek jou net eenmaal inspoor tot teen my skelet – in – inner – inste (soos vel en weefsel en are)”. Koppeltekens word hier gebruik om woorde te koppel, wat inskakel by die intimiteit wat uitgebeeld word deur die gebruik van toepaslike leestekens. Dit is dalk insiggewend om te noem dat Bennett in een sin meld dat leestekens spaarsamig gebruik word in die bundel, en daarna weer sê dat die koppeltekens en hakies oordadig gebruik word.
Sy weerspreek haarself. Haar voorbeelde slaag ook nie hier nie.
“vandag skryf ek (in die wig van ’n wensbeen) / (…) / want dis eers van onder (van heel onder) (75)”
Indien ‘n mens die gedig “wensbeen” lees, sal jy merk dat die hakies hier vorm en struktuur aan die gedig gee. Die twee reëls tussen hakies in die gedig dui beide die relatiewe posisie of verhouding tussen twee elemente aan, en dit vorm sodoende ‘n onbreekbare struktuur.
VOORBEELD 5: Mankemente
Bennett skryf: “In “soeker”, die volgende voorbeelde: Strofe 1 se geswymel maak hoegenaamd nie sin nie. Wat op dees aarde is ’n “vryskutdromer” – is daar, by implikasie, ook iets soos ’n “voltydse” dromer?”
Eerstens kom die woord “vryskutdromer” nie in strofe 1 voor nie, maar in strofe 3. Bennett se verwysing is dus verkeerd. Tweedens kan ‘n mens “vryskut” koppel aan die betekenis van deeltyds, wat impliseer dat dromers slegs tyd het om op ‘n deeltydse basis te droom. Die woord vryskut word gereeld gekoppel aan die soort skrywers wat nie bevoorreg genoeg is om voltyds te kan skryf nie. Skrywers kan maklik ook dromers genoem word, aangesien drome/visioene bykans elke skryf-idee se oorsprong is.
Dit is jammer dat Bennett dit nie verstaan nie. Haar voorbeeld slaag dus nie.
“Die gebruik van die woord “dryf” in strofe 4 as s.nw. is verwarrend en slaag nie.”
Hier koppel die woord “dryf” met die woorde “bloei” en “kontinent” in dieselfde gedig.
Bennett se voorbeeld slaag nie. Sy is dalk werklik verward, maar dit is haar persoonlike ervaring en behoort nie deel te vorm van haar resensie nie.
“Ook die gebruik van die verhewe woord is hinderlik, soos “ykers” in “kyk hoe sak die ink”. Voorts gryp die digter na biologiese begrippe sonder dat enige van hierdie motiewe deurgekomponeer word. Die woorde word lukraak gebruik en mens kry die gevoel dat die verhewe of geleerde woord as intellektuele fineer moet dien, met ander woorde dis myns insiens niks meer as pretensieuse stopwerk nie. Die bundel wemel van embrio’s, gamete, ovums, vrugwande, geendraers en fetusse. In “lepidoptera” (38) word die vers, wat handel oor motte en vlinders, as ’n raaisel aan die leser gestel.”
Hier is weer ‘n voorbeeld van Bennett se gebrek aan insig. Die digter probeer juis om die algemene en gewone blik op die natuur en anatomie uit te daag, iets wat reeds onder voorbeeld 2 hierbo breedvoerig bespreek is. Haar voorbeelde slaag dus nie. Ek sukkel ook om te verstaan hoe wetenskaplik gestaaf ‘n woord soos “hinderlik” is.
“Die verse steier onder die roekelose gebruik van koppeltekens om woordkonstellasies te skep: “klip-vir-bliksemse-klip”, “van daar-af-aan” en “van dus- tot anderkant skemer – “, om enkele voorbeelde te noem.”
Hier is die resensent se woordkeueses “steier” en “roekeloos” dramaties. Die koppeltekens het dalk ’n verdere doel as om woordkonstellasies te skep, en om dit as roekeloos te bestempel, moet elke gedig in isolasie beoordeel word. Die resensent het nie verwysings of genoegsame voorbeelde gegee nie, en dis nie genoegsaam vir die leser nie. Die voorbeelde ontbreek dus gedeeltelik en slaag nie.
VOORBEELD 6: POGINGS TOT NEOLOGISME
Bennett skryf “Die digter is lief vir potsierlike sameflansings van woorde, waarskynlik pogings tot neologisme. Voorbeelde hiervan is “droomskelette” (12), “vlindermurg” (12), “tussenstroofstiltes” (12), “aarsels” (15), “kleingebed” (17), “ingekapte wederbestaan” (19), “woordsigote” (20), “vryskutdromer” (30), “gistertrap” (26), “hoofstroom-offensief” (34), “brandbane” (41), “gelykpreek” (42), “kruisdodings” (48), “aardelinge” (48), “eenrigtingstaar” (50), “bystelling” (52), “medevers” (54), “skynideologie” (54), “swaaiings” (54), “halfgeringe” (58), “smalgeskatte” (66), “sigeuns” (67), “kleinsekonde” (69), “halfbang-vlietend” (70), “herteug ” (76), “onthulde” (74), “onsekerte” (78), en “waarwording” (80).”
Bennett verwys na die woord “herteug” op bladsy 76, welke woord nie op daardie bladsy verskyn nie. Haar verwysing is dus verkeerd.
Al die ander voorbeelde is neologismes. Dit is vreemd en ongestaaf waarom Bennett reken dat dit slegs pogings is. Nie EEN van die voorbeelde word diepgaande ontleed om te bewys dat dit sg. “potsierlik” is nie.
VOORBEELD 7: CLICHÉS
Bennett skryf “Die mildelike gebruik van poëtiese clichés en die gesogte woord of beeld kom voor. “Spore” is só ’n cliché, byvoorbeeld: “hulle sê dat ons ’n ándersoort eenders lostrap” (2); “vandag het ek my voete verpas en / my spoor was vreemd vir my trap” (18); “ons spore naslaan” (21); “uit gistertrap se groef” (26) “my hande hurk in die spore / van ’n andersom-neig” (34); “want net ons sal weet dat die kleur van dromers / in die prismas van eie spore bly spartel” (42); “maar vanaand ken my voete nie my eie spoor nie” (51); (…) “sal als wat leef / terugtroef tot ’n spoorlose bestaan” (59); “deur hoeveel katarsisse / kan een paar voete / sonder sloeg of struikel trap” (65); “jou naam kerf teen elke spoor / wat jy in die melkweg los” (67); en “ek weet nie of my voete bepaald iewers minder sal sleep / en of my spore ooit meer gelyk sal neig” (68).”
Bennett se bron waarop sy steun om ‘n woord soos “spore” as ‘n cliché te bestempel, ontbreek. Sy gaan ook voort om frases aan te haal. Vir iets om ‘n cliché te wees, moet dit in die frase waarin dit gebruik word, as ‘n geykte frase beskryf word. Nie een van die voorbeelde is frases wat allerweë bekend of holrug gery is nie. Die gebruik van “spore” word juis op so ‘n wyse gedoen dat dit die betekenis van die woord verbreed. Dit blyk dat Bennett hier net haar resensie wou opstop. Sy gee ‘n paar voorbeelde waar spore, trap, voete, ens. gebruik word, maar geen stawing vir haar aantyging dat dit clichés is nie. Haar voorbeelde slaag nie.
VOORBEELD 8: “botsende metafore, poëtiese willekeur en mooiskrywery nét te veel”
Bennett gebruik twee gedigte as voorbeelde, naamlik “toe jy omkyk” en “kopklank”. Die botsende metafore is juis noodsaaklik om by die tema in te skakel. Aangesien elke gedig wel ‘n tema en struktuur het, is dit moeilik om te verstaan wat sy bedoel met “poëtiese willekeur” wat te veel raak. Mooiskrywery is waarskynlik ‘n verwysing na nuutskeppings, maar dit is onduidelik waarna Bennett verwys. Sy verskaf twee gedigte as voorbeelde om drie algeheel verskillende konsepte te staaf, sonder om dit duidelik aan te toon. Haar voorbeelde is dus vaag en nie stawend nie.
Die resensent dui eindelik indirek aan dat sy van mening is dat Nagblind swak poësie bevat en dat die digter se talent onderontwikkel is. Nie een van hierdie stellings is onomwonde gestaaf nie. Miskien is dit mode vir resensente om negatiewe resensies te lewer. Dalk meet hul húl waarde daaraan? Dit veroorsaak moontlik dat hul diep grou en fout soek waar daar nie werklik is nie. Miskien is dit in opdrag van iemand anders – wie sal weet? Dit is dalk tyd dat resensente meer verantwoordelik te werk gaan.
Die digters wat die resensent se betroubaarheid bevraagteken het, het in die kommentaar waarskynlik baie gou die gebrek aan insig ervaar, en hul ongemak vinnig (sonder pretensie) opgesom. Dit is jammer dat van die hoofstroomdigters eerder klem probeer lê op die verskil tussen hoofstroomdigters en Facebook-digters, as wat hulle sinvolle argumente voer.
Ek glo daar is talle lesers en digters wat Nagblind verwelkom – ooglopend het die publikasie van hierdie bundel sekere ivoortorings hewig laat skud…
Dalk kan Antjie Krog so ‘n paar gedagtes hier neersit oor waarom Francis Grobler so talentvol blyk te wees. Wat Bennett sê, is absoluut in die kol. En mensies (sommiges), neem tog kennis van Dewald Koen se laaste sin asb, dis so relevant hier.
My “brediehand brand”
(maar daar’s nie vleis nog groente
vir die gedoente)
nou maak ek maar van water
en klip
sop
Die debat gaan, lyk dit my, oor die rol van resensente en die kriteria waarvolgens gedigte beoordeel behoort te word.
Sommiges dink blykbaar dat die resensent ‘n soort rasieleier moet wees wat soveel bohaai moet opskop dat die debutant se werk gelees sal word. En dat die beste gedigte dié is wat die grootste aantal ondersteuners (oftewel, likes) gaan kry.
Maar wat is dan die kriteria waarvolgens ‘n gedig of ‘n bundel beoordeel behoort te word? Rykdom, veelduidigheid, stilistiese vaardigheid, of wat? Gaan dit oor die intrinsieke waarde van die gedig as teks of behoort waardes buite die teks (bv. die bevordering van die Afrikaanse poësie, geleentheid skep vir nuwe stemme, ens.) swaarder te weeg?
M.i behoort die debat breër en grondiger aangepak word. Die kriteria behoort duideliker uitgespel te word. Dalk kan die lemma Evaluering (Literêre) in Literêre terme en teorieë bydra tot so ‘n grondiger debat.
Ek wil ook, soos Daniel, vir Dewald op die skouer klop met die ewewigtige blik op die rol en verantwoordelikhede van ‘n resensent. En my stem voeg by diegene s’n wat die meriete raaksien van Nini Bennett se resensie.
Hek- of poortwagter is een van die benamings vir die pos wat ‘n resensent in die literêre veld beman. Dit is uit bostaande gesprekvoering oor Nini se resensie alte duidelik dat dit geen geriefsposisietjie is nie.
In haar MA-verhandeling “Digdebute teen die millenniumwending”(2003) wys E.M. Adendorff o.m. op poësie as gemarginaliseerde genre, die rol van die uitgewer en bespreek sy die probleme wat nuwe stemme met betrekking tot publikasiemoontlikhede ervaar. Die rol van die resensent word ook ontleed – dis onder meer belangrik dat resensente respek vir die kunstenaar en ‘n liefde vir die kuns moet openbaar (p. 134).
Voordat ‘n resensent daartoe oorgaan om ‘n debuutbundel wat met groot oorleg deur ‘n onverskrokke uitgewer gepubliseer is, algeheel af te kraak, behoort die resensent hom- of haarself eerlik af te vra: Is my optrede/oordeel werklik in belang van Afrikaans en die bevordering van die Afrikaanse digkuns? Gaan my kritiek ‘n nuwesoortige stem onherroeplik te na kom of gaan dit die digter tot groter hoogtes lei en aanspoor? Behoort ek my resensie nie ook positief rigtinggewend in te klee nie?
Adendorff verwys na Zandra Bezuidenhout (Ingrid Jonker-pryswenner) se slotgedig van die afdeling “Uitnodiging” in haar bundel Dansmusieke, waar lesers en kritici aangespreek word en die verantwoordelikheid van die resensent beklemtoon word:
“Maar trap versigtig:
kom ons spore nie te na:
verdra die voetprente met moeite,
en vul die gate en hiate self
met deernis
en betekenis.”
Dankie, Dewald, vir jou kalm beredenering.
Ek het die terugvoering oor Bennett se resensie met belangstelling gevolg aangesien dit my interesseer hoe lesers en ander kritici op negatiewe resensies reageer.
As letterkundedosent (en resensent wat sedert 2012 al meer as 100 tekste in verskeie genres geresenseer het) wil ek graag vir Bennett tussenbeide tree. Diegene wat die resensent looi bloot omdat sy haar opdrag as resensent uitgevoer het deur die teks objektief te beoordeel, besef nie watter groot verantwoordelikheid op ‘n resensent se skouers rus nie.
Om binne die Afrikaanse literêre sfeer te resenseer, is ‘n besonder onaangename taak aangesien Afrikaans oor ‘n relatief klein letterkunde beskik vergeleke met ander tale soos Engels. Ons is ‘n klomp groot visse in ‘n klein poeletjie wat maar die onderlangse klappe na mekaar moet verduur vir ons geliefde letterkunde. Daar word gereeld in rubrieke en artikels oor die stand van resensiekunde in Afrikaans gevra waarom so min literatore tekste resenseer. Die antwoord is eenvoudig: Durf jy ‘n teks negatief takseer word jy vir die spreekwoordelike wolwe gegooi. Durf professor X of doktor Y van jou verskil, kry jy ‘n swart kruisie langs jou naam. Aangesien almal mekaar ken (hetsy via Facebook of professionele samewerking) word die taak nog moeiliker. Ek het onlangs opgemerk die beste resensent staan altyd aan wal. Resensente is net mense. Individue wat professioneel opgelei is en in die meeste gevalle oor die nodige kennis en ervaring beskik om ‘n teks objektief en sonder enige agendas te kan beoordeel. Ja, ons maak ook foute. Ek sal openlik erken dat ek in die verlede een of twee tekste verkeerd getakseer het – skryf dit maar toe aan my jeugdigheid en naïwiteit. Ek is al soos volg beskryf: “studentikoos”, onewewigtig”, “middelmatig”, “nie-kritiese leser” en allerlei ander opmerkings wat my ore via die riemtelegram bereik het. So het een literator eens opgemerk ek moet ophou om ‘n teks as “‘n hoogtepunt van die jaar” te beskryf (Die Hertzogprys vir prosa is toe heel toevallig aan daardie einste “hoogtepunt” toegeken.) Maar ek het waardevolle lesse in die proses geleer en streef ten alle tye om die teks met respek en objektiwiteit te benader. Die literator-digter T.T. Cloete is tot en met sy dood telkens herinner aan sy mistasting van Peter Blum se Steenbok tot poolsee (1956) wat deur J.C Kannemeyer (1983:275) as “een van die ergste vergissings deur ‘n Afrikaanse literator” beskou word. Het laasgenoemde vergissing deur Cloete van hom ‘n swak literator gemaak? Nee! Die punt is: Resensente begaan nou en dan ‘n oordeelsfout. Maar soos Joan Hambidge (seker een van die mees belese en gerespekteerde resensente in Afrikaans) ons gereeld herinner: Indien kritiek met konkrete voorbeelde uit die teks gestaaf kan word, is dit geldig. Laasgenoemde doen Bennett wel.
Resensente verrig ‘n belangrike taak (en effens ondankbaar as jy my vra) wat baie tyd in beslag neem en ‘n karige vergoeding oplewer. Ja, elke leser het die reg om van die resensent te verskil – ons almal se leesvoorkeure verskil. Hou egter in gedagte dat ‘n resensent wat sy/haar sout werd is nooit die skrywer of digter aanval nie, maar bloot die teks beoordeel op grond van literêr-teoretiese konsepte. Net soos dit vir ‘n skrywer of digter nie lekker is om ‘n negatiewe resensie te lees nie, is dit ook nie lekker wanneer die resensent persoonlik beledig word nie. Kritiseer die resensie indien dit geregverdig is. Andersins moet die skoenmaker(s) hulself liefs by hul lees hou.
Sien ook Daniel Hugo se bydrae in dié verband elders op Versindaba.
Antjie Krog en Hans du plessis weet waarvan hulle praat. Die voorbeelde wat Nini Bennett gebruik in haar resensie is nie gestaaf nie, net gebruik. As jy nie die vermoë het om’n nuutskepping te kan waardeer nie, en as jy nie unieke/moderne metafore verstaan nie, is dit te wyte aan jou eie persoonlike beperkthede. As jy nie die doel van ‘n metafoor,vergelyking of nuutskepping verstaan nie, beteken dit nie noodwendig dat dit doelloos gebruik was nie. Die doel van elke metafoor en nuutskepping waarna daar in die resensie verwys word is baie duidelik.’n Mens moet eintlik moeite doen om te verstaan hoe dit moontlik is dat iemand dit nie begryp nie. As jy iets as “steurend” of “slordig” bestempel, is dit tog jou eie emosies waarvan jy praat. Jy kan voorbeelde hê, dit staaf nie noodwendig jou stellings nie, dit maak beslis nie jou resensie meer relevant nie, en dit maak nie die gedig minderwaardig nie. Die “voorbeelde” moet sinvol wees. Sonder goeie voorbeelde en argumente, is ‘n resensie onbetroubaar.’n Goeie resensie moet meer objektief wees. Ek is verbaas dat hierdie resensie van Bennett ondersteuning geniet. Antjie Krog (Hertzogpryswenner) is reg, die digter het daadwerklike talent. Wie is ons om te stry? Tog was daar nie een positiewe gedagte in Nini Bennett se resensie nie. Dit is uiters opvallend, veral wanneer ‘n mens dit vergelyk met ander meer bekende skrywers se positiewe reaksies. Die doel van hierdie debat is NIE om die resensent goed te laat voel nie, as ‘n resensie onbetroubaar is, moet dit uitgewys word.
Bennett se resensie is uiters relevant, juis omdat sy nié die digter aanval nie, maar uiters professioneel die mankemente in die bundel aan die hand van gestaafde voorbeelde uitwys. Gaan kyk wat Kannemeyer al in sy kritiek geskryf het: hy was soms erg bitsig teenoor digters en skrywers. Gaan lees wyle Tom Gouws se resensies en hoe hy sekere gevestigde en ook ‘n jong digter wta gedebuteer het, persoonlik aangeval het. Bennett se resensie het hoegenaamd geen van hierdie tipe vergrype nie. ‘n Resensent se doel is nie om ‘n Goodreads-resensie te lewer nie: as daar mankemente is, moet dit uitgewys word. Natuurlik aan die hand van voorbeelde uit die teks met goeie begronding. Dit beteken mos in elk geval nié dat lesers nié die bundel sal koop nie. As jy nié saamstem met ‘n resensie nie, koop die bundel en geniet die lees daarvan terdeë…
Taal is n lewende ding. Ek lees die volgende interessante sin deur Andri Nieuwoudt raak in die kommentare na aanleiding van n bydrae deur Koos kombuis op LitNet:
Ek woon in Nederland: ons het al 10 dae, met toenemende mate van inkorting, n opslotsit.
Ek het na die gedig “kopklank” hierbo gekyk om te sien wat kom tot stand, of begin dans, of kom dwarrel – wat word dus deur die teks gerealiseer. Met die inset val die serebrale op: koppe en verstand wat werk. Die a priori kennis van magiese nagte relativeer die verstandelike egter en skakel die rol van die kognitiewe uit, sodat dit wat geweet word nie Brink se “Kennis van die aand,” wat op ervaring berus, wil tipeer nie.
Na strofe 2 se “al het ons bloot/ van ver af effe eenders gelyk” kom die woord “antoniem” as ‘n verrassing, in plaas van die verwagte “sinoniem.” ‘n Ou logika word dus so betwis.
In strofe 3 word die solidariteit van die ek en die jy as ons beklemtoon (“ons soort”) teenoor die “ander” van reël 5.
Die “verspringende hoeke” val buitekant die “afgemete halfsirkel” se 180° of dan in die geïmpliseerde onbenutte ander helfte van die eintlike geheel. Dit is heel modernisties en idealisties gekonsipieer as beeld van die arena van die stryd om die volledige (esoteriese) nie-mundane.
Twee ander lyne wat as grense genoem word wat beurend oorgesteek of mee klaargespeel moet word deur die twee van strofe 2, is “brandbane” en “die breeklyn van branders” wat waarskynlik in die afgemete halfsirkel as kulturele en fisiese obstakels gekonfronteer word.
Hier wens ek vir leiding om die koherensie in sig te kan kry.
Die finale reël se ironie gaan nie verlore nie. Die woord “vestig” sou bevredigend vir die godin Irene wees indien dit refleksief gebruik was.
“Quot homines, tot sententiae” het Publius Terentius Afer (Romeinse dramaturg 186 – 159 v.C) gesê. “Daar is net soveel menings as wat daar mense is.”
Dit is waar, maar daar bestaan tog wel ’n literatuurwetenskap en kritiese etos in die Afrikaanse literêre wêreld (soos in ander letterkundes). Hiervolgens kan ’n kritikus dan sy of haar kritiek oor poësie formuleer en regverdig. Dit is nie die plek hier om selfs die hoofpunte van hierdie kritiese strukture te bespreek nie. Maar mens kan wel sê dat kritici, binne hierdie aanvaarde raamwerk, tog ook kan verskil. Beginsels kan verskillend geïnterpreteer en regverdig word.
En dan, met al die verskille wat kritici onder mekaar het, gebeur dit tog dat ’n soort konsensus mettertyd bereik word en sekere werke in die kanon beland. Maar dit is dikwels ’n pynlike proses!
Mens kan ook in ligter luim besin oor “wat is ’n goeie gedig?” sonder om te swaar te leun op literêre teorie. Hier is byvoorbeeld wat die skrywer J. Patrick Lewis (Freedom Like Sunlight: Praisesongs for Black Americans) daarvan sê:
“A good poem is a blind date with enchantment. Above all, no matter what its subject matter, it must possess perfect verbs and no superfluous words. It must be an antidote to indifference. The acid test is that you want to read it time and time again, and not only to yourself. A good poem begs to be shared with others”
Alida, jy is seker Francis se vriendin of selfs familie.
Sulke lojaliteit kan net uit so ‘n oord kom. Jy moet tog die botsende metafore raaksien; die “gemaakte” woorde wat geen doel dien anders om “nuut” te klink nie?
Byvoorbeeld
Daarna gaan sy voort om “spieëls voor die ruite” te kritiseer:
my hande hurk in die spore
van ’n andersom-neig
asof ek ’n rekenfout is
Hoe of hoekom sou jou hande hurk in die spore? As sy wou sê dat sy onderstebo is (maw hande is waar die voete is) hoekom gebruik sy “hurk”? Buitendien hurk ‘n mens met jou hele liggaam en nie net met ledemate nie.
“asof ek ‘n rekenfout is” Rekenfout is ‘n verkeerde berekening soos in ‘n som en nie soos sy waarskynlik bedoel, foutief geskape of gebreklik nie.
Dis wat Nini bedoel met frases wat niks oordra nie Dis waar die botsende metafore inkom. Dit alles net in die 3 reëls
Ek reageer op Marlies Taljaard se uitnodiging hierbo “om op ʼn sinvolle en verantwoordbare wyse aan dié debat deel te neem”. Ek reageer in my hoedanigheid as een van die 21 Nuwe Stemme van 2017. En hiermee bedoel ek dat ek ʼn opkomende digter is wat nog baie het om te leer en besig is om te leer! Sien my reaksie dus asseblief in hierdie lig.
Graag wil ek aanhaak by De Waal Venter se versoek hierbo. ʼn Sinvolle debat oor “gehaltewerk” en werk van “mindere waarde” (of dalk “middelmoot-poësie”, vgl. https://versindaba.co.za/2009/05/25/kom-ons-praat-hieroor/?) sal baie nuttig wees, veral vir jong digters (soos ek) wat ons onderskeidingsvermoë ten opsigte van goeie poësie moet ontwikkel.
As ʼn mens Hans du Plessis se resensie op Maroela Media lees, sou mens nie sê dit is dieselfde bundel wat Nini Bennett onder oë gehad het nie. En as Antjie Krog sê iemand het “daadwerklike talent”, wie’s ek om te stry? (Nini Bennett mag stry. Ek gaan nie.)
Dus: Waarom sê Krog en Du Plessis sus en Bennett so?
Bennett begin deur haar eie ervaringe ten opsigte van haar verwagtinge van Nagblind te bespreek. Haar inleiding is irrelevant. Sy is deurgaans baie gretig om na die digter se vorige bundels te verwys, iets wat waardeloos is vir die resensie-leser.
Wanneer sy uiteindelik begin met haar resensie, kritiseer sy die gedig “andersoort eenders” soos volg:
“Die eerste gedeelte, “annertrap se spoor”, open met die programgedig, “andersoort eenders” wat ’n spel tussen anders en eenders as ’n skynbaar versoenbare kontradiksie voorstel. Die digter is egter inkonsekwent ten opsigte van die spelling van anners / anders en eenders / eners, waarskynlik ’n opsetlike poging om hierdie ‘andersheid’ te beklemtoon. Ongelukkig skep dit eerder die indruk van literêre slordigheid, byvoorbeeld “annertrap”, “andersoort”, “annerkant”, “anders”, ensovoort. Die ontronding en praattaal van “anner” dien geen doel nie; dis steurend, en ’n mens wonder of dit nie dalk ’n oorblyfsel van die digter se selfpublikasie, duskant annerkant is nie.”
Hier erken sy dat sy verstaan dat die digter opsetlik inkonsekwent is ten opsigte van die spelling van “anders”, juis om die andersheid te beklemtoon. Daarna skryf sy dat die gebruik van “anner” geen doel dien nie (alhoewel sy reeds erken het dat sy besef wat die doel is), en dat dit “steurend” is. Sy gaan selfs so ver as om te beweer dat hierdie kreatiewe manier van skryf die indruk van “literêre slordigheid” skep. Sy het nie hierdie stellings met behoorlike bewyse wat binne die literêre teorie val, begrond nie. Dit is bloot emosionele uitlatings om iets as “steurend” of “slordig” te bestempel sonder deeglike teoretiese begronding.
Daarna gaan sy voort om “spieëls voor die ruite” te kritiseer:
my hande hurk in die spore
van ’n andersom-neig
asof ek ’n rekenfout is
word ’n eenling se weerkaatsende bestaan
dan ’n soort hoofstroom-offensief
of bloot die droewige vloek
van ’n meerdimensionele kop
wat stukkende motte en duiwe aaneenlas?
Weer eens, ‘n unieke spoggedig met beelde van hande wat hurk en eenling wat weerkaats om juis die andersheid te beklemtoon.
Bennett skryf:
“In bovermelde vers voel die aweregse spel met “andersom-neig” na ’n futlose literêre speletjie en tref dit die leser as infantiel. Dis nou hande wat hurk, nie bene nie. En die eenling weerkaats (die enkelvoud verdeel in meervoud).”
Hier beskryf Bennett hoe sy persoonlik voel. Sy het duidelik slegs negatiewe gevoelens oor die kreatiewe woordespel. Bennettt probeer hier die leser manipuleer om te glo dat gedigte altyd rigied moet lees, en dit is juis hierdie afwisseling wat waarde toevoeg tot die gedig. Weer eens is Bennett se uitlatings ongegrond en dit tref die ingeligte leser as oneerlik.
Oor die tema skryf Bennett:
“In geheel neig die verse na willekeur. ’n Logiese poëtikale verloop ontbreek en botsende metafore vier hoogty. ’n Sentrale of sentrifugale tema ontbreek, en breedweg handel die verse oor lig teenoor donker, dag en nag, die prosesse van lewe en dood, die seisoene, en daar kom liefdesgedigte en Bybelse verwysings voor. Die omslagontwerp met die dubbelmaan suggereer iets van ’n “dubbelkyk”, ’n dubbelduidige of selfs meerduidige betekenis van die poëtiese woord. Ongelukkig ontbreek laasgenoemde en vertroebel die verse eerder in obskurantisme.”
Hier, wetend of nie, bevestig Bennett (in pretensieuse terme) duidelik wat Grobler se tema is. Die tema is nagblind, wat herinner aan teenoorgesteldes (dit pas perfek by die andersheid en eendersheid). Bennett gebruik voorbeelde soos lig en donker, dag en nag, lewe en dood en seisoene om haar argument skynbaar te staaf dat daar nie ‘n tema is nie, wat ironies is, aangesien dit juis haar argument vernietig. Die voorblad is die perfekte keuse om die “dubbelkyk” te suggereer. Dit is juis die logiese denker wat hierdie tema sal kan waardeer.
Oor die styl skryf Bennett:
“Op stilistiese vlak werk die digter met amorfe poësie. Sy skryf uitsluitlik in kleinletters en gebruik leestekens spaarsamig. Alle gedigte in Nagblind is binne hierdie templaat geskryf, wat op sy beurt poog om die digter se stilistiese armoede en gebrek aan verstegniese beheer te verdoesel. Die bundel herinner aan die amorfe poësie van die sewentigerjare wat gekenmerk is deur literêre bandeloosheid en die gebrek aan selfkritiek. Volgens Kannemeyer het uitgewers hulle skuldig gemaak aan die onkritiese aanvaarding en literêre oorproduksie van minderwaardige werk. Nagblind is sowel in styl, vorm en aanbod ’n bundel wat die mankemente van die sewentigerjare se poësie weerspieël.”
Hierdie vergelyking van ‘n fenominale bundel soos Nagblind, met die sewentigerjare se “minderwaardige werk”, is verregaande belaglig. Bennett steun onmiskenbaar swaar op die boek “Die Afrikaanse Literatuur 1652 – 1987” van J C Kannemeyer, gepubliseer in 1988, veral op verwysings en terme op bladsye 436 en 437.
Oor die metafore het Bennett ook oneerlike kommentaar, en is dit duidelik dat sy nie die doel van metafore korrek oordra nie. Sy kritiseer nuutskeppings soos “vryskutdromer” omdat sy skynbaar net die letterlike betekenis daarvan begryp. Byvoorbeeld, ‘n mens kan ook vra wat ‘n dromer is indien ‘n mens op hierdie lae vlak wil kommunikeer.
Bennett se resensie is uiters persoonlik en ongegrond. Dit dui op haar persoonlike gevoelens en daar is ‘n duidelike gebrek aan insig.
Die resensie steun swaar op Kannemeyer se konsepte, en daar is dus ‘n ook ‘n gebrek aan relevansie en oorspronklikheid.
Bennett sluit af met “In Nagblind is daar té veel voetwerk en te min poësie”. Dit is sogenaamde “resensies” soos hierdie wat die beste digters van ons tyd probeer stilmaak en hulle digterlike vryheid wil versmoor. ‘n Mens wonder onwillekeurig wat die resensent hierdeur wil bereik?
Naledi het hulself oortref met die publikasie van hierdie bundel deur ‘n talentvolle digter.
Nav die resensie van Nagblind, moet ek my teleurstelling oor die resensie uitspreek. Ek het werklikwaar vir iets positiefs gesoek maar dit heel waarskynlik mis gelees.
“Kopklank” is vir my ‘n skitterende vers.
Kyk met ‘n vars oog, gebruik ‘n vars taal, hang nie moeg en verkreukeld aan ou tegnieke soos eindelose rym en ou vorme nie. Strik nie mooi prentjies nie. Slaan ‘n bres in verlepte sienings van die mens en sy maniere van “syn”…
‘n Sinvolle debat oor die aard en betekenis van poësie, en hoe onderskei kan word tussen “gehaltewerk” en iets van mindere waarde, sal baie welkom wees. Marlies het ‘n paar duidelike lyne getrek wat beoordeling van poësie in helder lig stel.
In Nini Bennett se eerste paragraaf van haar resensie, haal sy Antjie Krog aan soos volg: “Daadwerklike talent wat ’n eie interne woordeskat tot stand bring.” Dit skep ’n verwagting na Grobler se idiolek.
Antjie Krog word allerweë as ‘n kundige op die gebied van die letterkunde beskou. Mens sal dus graag wil hoor hoe sy haar stelling op die blakerteks motiveer. Hoe sou sy haar uitspraak kan regverdig na aanleiding van onder andere die riglyne wat Marlies uitgestippel het?
Ek skryf hierdie kommentaar as literêre kritikus én as Inhoudsbestuurder van Versindaba. Estelle, ek sal die resensie verwyder wanneer:
1. daar bewys is dat die resensie nie aan die standaarde van die resensie as genre voldoen nie, m.a.w. dat dit die beperkinge wat die resensie aan resensente stel, te buite gaan, soos byvoorbeeld dat die resensent ‘n persoonlike aanval op die digter loods;
2. daar aangetoon is dat die resensent nie haar stellings met genoegsame voorbeelde uit die teks of die literêre teorie wat verband hou met die genre-kenmerke van die poësie, gestaaf het nie;
3. daar aangetoon is dat die argumentasieproses onvoldoende is, byvoorbeeld dat gevolgtrekkings nie voortspruit uit die voorafgaande stellings met bewysmateriaal nie, byvoorbeeld dat die oormatige gebruik van sekere woorde wel funksioneel is EN WAAROM dit wel funksioneel sou wees, ens.;
4. daar ooglopende foute in die resensie uitgewys is; en
5. dit vir my duidelik is dat die kommentator wel die teks gelees het deurdat stellings wat gemaak word, met woordelikse aanhalings uit die teks gestaaf word.
Neem asseblief in aanmerking dat die doel van ‘n resensie NIE is om die digter en die uitgewer plesier te verskaf nie. Wanneer ‘n kunstenaar besluit om sy werk (ek gebruik maar die manlike vorm) in die openbare domein te plaas, het hy geen beheer of sê meer oor dié werk nie (Roland Barthes sê dan is die outeur dood). Die blote feit dat mens dus ‘n bundel uitgee, stel jou én die bundel bloot aan kritiek. ‘n Resensie is bloot ‘n waarde-oordeel oor ‘n artefak en geskied volgens sekere spelreëls. Dit beoordeel die estetiese kwaliteit van die artefak en nie die skepper daarvan nie. Ek sal bv. nie ‘n rugbywedstryd volgens sokkerreëls beoordeel omdat ek nie die rugbyreëls verstaan nie. Daar is dus teorieë en kriteria waarvolgens gedigte wat die indruk wek dat dit ernstige poësie is (deurdat dit bv. deur ‘n bekende uitgewer uitgegee word), beoordeel word. ‘n Goeie resensie is een wat dié stel reëls kundig en konsekwent aanwend en tot geloofwaardige gevolgtrekkings kom; ‘n swak resensie is een wat getuig van onvoldoende vakmanskap van die literator deurdat hy nie die “spelreëls” verstaan nie en bv. gedigte wat deur die meeste ander literatore as middelmatig beskou word, ten hemele aanprys. Of Bennet se resensie goed of sleg is, sal blyk uit die kommentaar van kundiges wat die teorie en praktyk van dig en kunsskepping verstaan. Ek wil elkeen uitnooi om op sinvolle en verantwoordbare wyse aan dié debat deel te neem.
Uitstekende resensie en elke uitspraak word gestaaf met voorbeelde.
Daar is inderdaad meer woorde en beelde en mooiskryf as poësie in die bundel dalk is die digter “Digblind”
Hierdie sg. “resensie” het my sprakeloos gelaat. Ek het nog nooit so ‘n wrede, gevoellose en vernederende aanval op ‘n digter gelees nie. Was dit nou werklik nodig? Die hele betoog is weersinwekkend en negatief en laat ‘n biiter smaak in jou mond. Hierdie begaafde digter verdien dit nie. Ek stel voor dat dit onmiddellik onttrek word. Dis onaanvaarbaar en gemeen.
Elke literator het inderdaad die reg om ‘n professionele mening te lug oor ‘n resensie wat verskyn het – mits hy/sy natuurlik die bundel gelees het en sy/haar mening met genoegsame feite en voorbeelde kan staaf! Ek verwyder alle kommentare met persoonlike en lasterlike aanvalle op die resensent. Sodanige aanvalle druis in teen Versindaba se beleid en sal nie geduld word nie. – Marlies Taljard (Inhoudsbestuurder: Versindaba)
Die gedigte hierin het my laat besluit om ‘n bundel te bestel. Dankie tog ek het dit raakgelees! Ek het nog nooit beter gedigte gelees nie- en ek lees graag. Francis Grobler, jy het my aandag! Ek, sowel as my hele familie, is nou beslis aanhangers. Jy mag maar skryf, hoor! Nagblind hier kom ons!
Gert Crawford – mooi so! Julle is nie haar enigste aanhangers nie, glo my – daar is baie!!! Ek het groot bewondering vir haar – sy gaan nog groot hoogtes bereik, ten spyte van die kwaadwillige kommentaar van ‘n stem roepende in die woestyn van doofstommes..