Korona-gedigte
Lynreg
Deur die vel
steek die angel,
spuit die gif
in die vleis.
Deur die lap
steek die naald,
trek ’n garing
in en uit.
In die spier
steek die naald,
spuit die teenmiddel
in die bloed.
Deur die leer
priem die els
in die maak
van die skoen.
Deur die lyf
dring die strale
en wys die bleek bene.
Deur die modderwater-spoeling
van gedagtes
skiet insig,
’n helder lyn
na die anderkant
van dink.
© De Waal Venter, 2020