Kameleon deur Charlotte van den Broeck, vert. Daniel Hugo. Protea Boekhuis, 2020. ISBN 9781485310211
Resensie: Nini Bennett
Die Belgiese digter Charlotte van den Broeck se poësie is vertaal in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies, en nou ook in Afrikaans, danksy ’n inisiatief van Protea Boekhuis en ons voorste vertaler, Daniel Hugo. Hugo het meer as vyftig boeke uit Nederlands en Engels vertaal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee maal bekroon vir sy vertalings uit Nederlands. Van den Broeck, weer, het vir haar naam gemaak as Europese voordragkunstenaar. Maar ’n goeie voordragkunsenaar met die regte timbre kan selfs swak poësie goed laat klink – dit is kritiese lesersoë wat besluit of ’n digter die toets slaag, al dan nie. Van den Broeck is geloof vir haar debuut, Kameleon (2015) as vernuwende stem. Die bundel is met die Herman de Coninck-debuutprys bekroon en haar tweede bundel, Nachtroer (2017) was genomineer vir twee pryse.
Naas ’n soepel vertaling bied Kameleon ’n onthutsende, dog gepoleerde toevoeging tot die bestaande korpus vertaalde Afrikaanse poësie.
In Kameleon werk Van den Broeck met die verkleurmannetjie as uitgebreide metafoor. Die omslagkuns is strak, in skakerings van groen en bruin, die vernaamste skutkleure van dié diertjie. ’n Verkleurmannetjie staan in die teken van verandering, metamorfose, emosionele (kleur-)fluktuasies en versmelting met die agtergrond waarin beweging, lyn en vorm ’n rol speel. Die bundel wemel van die metamorfose van metafore self – in geheel, ’n bundel vir die fynproewer wat bedag is op die vervreemdende aspekte van die taal waarin die foregrounding van die woord aandag geniet.
Maar óók die vertaler, Daniel Hugo is, figuurlik gesproke, ’n verkleurmannetjie. Hy moes aanpas by Van den Broeck se digterlike idiosinkrasie en die poësie “kamoefleer” in die teikentaal, Afrikaans. In Kameleon is slegs die Afrikaanse vertalings van die verse gebundel, nie die bronteks, met die Nederlandse gedigte nie – wat op ’n ironiese manier ’n goeie ding is, want Hugo slaag die vernaamste toets waaraan ’n goeie vertaler gemeet word. Die verse moet lees asof dit oorspronklik geskryf is; nié tweedehands nie, en nié kunsmatig nie. Die bundel bied ’n outentieke Afrikaanse leeservaring. Ek het wel die oorspronklike Nederlandse teks by die vertaler bekom en vergelyk gerus die volgende werklikheidsgetroue vertaling:
Flamink
Ek slaap soos wat flaminke staan:
met een been reguit, die ander een
by die knie geknak teen my maag
soos ’n opgevoude blindestok.
Op hierdie donsbed, wankelend in donkerpienk
toe nog uitgestrek nek teen nek
het ons stadig twee verstrengelde
worse geword, snakkend na asem.
Flaminke verower mekaar sinchroon
’n hoofse paringsdans, minstens vir twaalf
wimperblikke ’n monogame lewe lank.
’n Ridderlike lansgeveg wat ons veral ken uit televisieprogramme.
Eers was ons nog grys
nou is ons byna vlieëniers
byna ’n ode aan voëls. (p. 23)
Flamingo
Ik slaap zoals flamingo’s staan:
met één been gestrekt, het andere
bij de knie geknakt tegen de onderbuik
als een opgeplooide blindenstok.
Op dit donzen bed, wankel in donkerroze
toen nog uitgestrekt nek aan nek
werden we langzaam twee verstrengelde
worsten, snakkend naar adem.
Flamingo’s veroveren elkaar synchroon
een hoofse paringsdans, minstens twaalf
wimperblikken een monogaam leven lang.
Een steekspel, dat we vooral kennen van televisieprogramma’s.
Eerst waren we nog grijs
nu zijn we bijna piloten
bijna een ode aan vogels.
In die persverklaring word die bundel beskryf as “ironiese, speelse en subversiewe gedigte wat ’n meisie se identiteitsoektog na vrouwees kaart”. Onheilspellende verbeelding kenmerk die gedigte – en Van den Broeck se poësie het ’n vreemde uitwerking op die leser. In ’n sekere sin figureer die verse soos ’n Rorschach-toets. In die leser se poging tot betekenisgenerering word hy gedwing tot ’n (dikwels ongemaklike) introspeksie van geprojekteerde emosies. Die gedig, “Rorschach” (p. 41) onderstreep iets van die digter se werkswyse:
As ek my stamp, wil ek weet watter vorm
die blou plek sal aanneem
of daar aan ’n verslete verlange nog simboliek
te wen is, ek weet nie, […]
Tematies handel die bundel oor landskappe, wat die “agtergrond” van die kameleon sinjaleer; natuurverskynsels, erotiek, lyflikheid, fossiele, diere en uitgestorwe reptielspesies, die kosmos en moederskap. Prominente kodes in die bundel is oë/kyk. ’n Verkleurmannetjie beskik oor stereoskopiese visie met ’n gesigsveld van 360°. Hierdie visie vind gestalte in enkele verse:
In die vergrote korrels van dansende pixelprente
swier die meisiehare in lang slierte […] (p.14)
En:
Kies ’n brandpunt, die vergrootglas
is op ons gerig, niks is klein genoeg
om kwyt te raak nie in die pretpark lyk die outjies
met versamelwoede al meer na Sisyphus. (p. 17)
Ook verwysings na die spreker se vel kom volop voor, na analoog van die kameleon se huid wat van kleur verander – maar onder die metaforiese huid van elke gedig sluimer daar ’n angst en word die grensloosheid van die lyflikheid geëkstrapoleer na iets dierliks, primitiefs, selfs primordiaal. En, soos die kameleon van gedaante verwissel, verras Van den Broeck met ongewone en surreële beeldspraak om die leser te noop om fyn te kyk: niks in die bundelaanbod is voor-die-hand-liggend nie, en ek haal aan uit “Kameleon” (p. 37): […] en niks / bly aan homself gelyk nie, ook ons / word anders, traer / kry skubbe op ons skouerblaaie.
Asook strofes 1 en 2 uit “Ekspedisie” (p. 46):
Met sagte asemstote krap jy
my wange oop, vou jy
my hande tot origami-olifante
papierpote in oorlogsmars
na ’n skuldige landskap, die geheue
met die huid so nou verweef
dat ons tevergeefs soek na waar
dit oopgeskeur het.
[…]
In geheel steun Kameleon op die begrip van ’n taktiele belewenis; die verse word ’n versugting om dinge op tasbare vlak te verstaan. Al is ’n verkleurmannetjie ’n reptiel met ’n growwe huid, is die einste huid ook besonder sensitief in sy vier pigmentlae.
Ander kodes is geometriese vorms, maar veral die sirkel wat die spreker inspan om “redenasies” te regverdig (maar wat in ’n nulliteit eindig). Uiteindelik verdwyn ook taal/poësie in ’n kamoeflage: “Om te praat is maar net die kamoeflage van vergeet / laat ons nooit hiervan taal maak nie” (p. 29).
Die verwysings na landskappe (soos Swede) bied ’n verrykende leeservaring aan die Afrikaanse leser, en al is die spirit of place in die bundel Europees, bereik Van den Broeck se verse ’n heterogene gehoor met haar universele tematiek soos byvoorbeeld die gedigte wat oor vrouwees, aanpassing en die soeke na identiteit handel.