Fanie Olivier. heil die leser
heil die leser: hier is die kontrak. erken
a.u.b. ontvangs per foon en laat weet of dié
[soveel goedkoop gulden!] in orde is. ek soek
betaling in kontant wanneer ons mekaar hier sien.
ons kom ooreen: jy los, as jy vertrek, vir my twee
fietse; een ligbruin kewer [linkerstuur!]; drie [drie!]
kamers [wat ek, soos jy, by die de waards moet huur]
ʼn stukkie skuur en gedeelde keuken in die mauritsstraat;
kampgoed om die wye wêreld daar te gaan verken.
vir ʼn rukkie moes ek oorherfs, koud, in de egelshoek:
jy wil nog oulaas reis voor ek my spullen kry.
daarna het ons vastelande uitmekaar bly bly
[nie berekend nie, maar dis wat die bedeling gee].
mekaar hier by ʼn kongres, daar ʼn seminaar gesien;
ons brokkie brood ons halfleeg glasie wyn verdien
en neem die wêreld onvermydelik sy loop.
[ek het ʼn foto van die kewer by die berlynse muur.]
jy skryf vers op vers geleenthede weer óóp
veel later eers [spyt kom te laat] besef ek wat jy
tóé aan my toevertrou het en nou hier aan my agterlaat.
[vir leon strydom, 4 januarie 2021]
© Fanie Olivier, 2021
die Mauritsstraat
en die De Waards,
met die hele wêreld
voor die deur
– een groot geluk
had ons eens daar
‘n Aangrypende gedig oor ‘n besondere digter …
Verlies word hier so sterk verwoord. Ek lees tans weer sy studie oor die eenheidsbundel en hoe hy Van Wyk Louw gelees het.