Seisoene op parool deur Hans Pienaar. Protea Boekhuis, 2021. ISBN 978-1-4853-1170-6
Resensie: Joan Hambidge
van die seisoene, waarin die ou ritmes van die helende hartslag weer begin vonk
Dit is opvallend hoe die natuur en sterre tans in Afrikaanse digbundels na vore kom. Verklap dit iets van die tyd van inperking? Dat mens dalk in hierdie tyd-van-stilstand weer tyd gehad het om dinge ráák te sien? In Hans Pienaar se Seisoene op parool vind ons egter die seisoene op parool, dus voorwaardelik vrygelaat.
Seisoene, Diefwering, Entropie, Hondsegedagte, Prometheus gee die verskillende afdelings weer. Die bundel is Vir my eerste redakteur, Corné. Die digter Corné Coetzee, sy lewensmaat, se bundel nou, hier word in die herinnering geroep met die verruklike Boeddhistiese verse oor “die leemte in die kern” oftewel, śūnyatā, die Sanskrit vir die Boeddhistiese nosie van ‘leegheid’ in haar bundel.
In twee endnotas in Pienaar se bundel word belangrike kodes gegee:
God en die G-kol van die niet
Roger Penrose, medewenner van die Nobelprys vir fisika in 2020, het probeer uitwerk hoe een wese die heelal soos ons dit ken aan die gang sou kon sit. Die wisselwerking tussen swaartekrag en entropie tydens faseveranderings maak só iets onmoontlik, het hy gepostuleer.
Boson
Een van die twee basiese groepe partikels (die ander is fermione). Hulle dien dikwels as draers van elementêre kragte en kan gestapel word sonder einde. Die Higgs-boson is die mees sentrale van almal, en gee massa aan rimpelinge in kwantumvelde. Die bestaan daarvan is eers onlangs ná dekades se worstelinge met monsteragtige, ondergrondse subatomiese botsmasjiene bevestig. (96)
*
‘n Besinning dus van ‘n ander kant af. Die digter gebruik ook die mitologie om die wêreld te verstaan.
‘n Ander belangrike kode is fraktale en die fraktaalmeetkunde is die meetkunde wat die graad van onreëlmatigheid meet van bepaalde tipes onreëlmatige vorms. Fraktaal van fractus oftewel die oppervlak van ‘n gebreekte steen. Omdat dit onreëlmatig is, lyk dit dieselfde van naby en ver. Tog is daar ‘n patroon in hierdie wanorde …
So gelees, kan ons die patrone in hierdie bundel sáámplaas. Pienaar, as joernalis, het nog altyd insigryke artikels geskryf oor sosiale onreg. Pienaar, die digter, se stem resoneer sy politieke kwellings:
Johannesburg
stad van kwartiere en kamponge, deure
in jaarte en haltes met rye en diep benede
die katakombes van klip sonder beendere
en sonder einde in die ingevalle skeure
stad van stommerds in stoele en tuine
met stukkende grawe en die gestaar
van verydelde ure en ’n honger jaar
oor besoedelde bome se droë kruine
stad van oorloë in die oases van stasies
en die wandelgange om die atriums
met weergalmende skote in stadiums
en afwesige kruise in oopgelate spasies
stad van verwaarloosde standplase
en grafte wat aangroei in die helder
dag met die donder in sy leë kelder,
slae teen die simbale van sinkplate
stad vol dringende sake waar die hede
die verlede hokslaan, eers weer loslaat
as ’n bedelaar van toekomste in ’n straat
wat doodloop: stad van verstote stede (53)
‘n Mens dink onvermydelik hier aan Fanie Olivier se bloemlesing oor Johannesburg Goudaar (Perskor, 1986) en Elisabeth Eybers se verse oor bome van Johannesburg. En jy as leser moet letterlik die “oopgelate spasies” van die gedig via die resepsie-estetika invul.
Hoogsomer
Parool kan werk as jy net werk kan
kry, nie as die dae draal en jy hunker
na die tyd wat drywer speel, voet
in die hoek kan sit as dit moet,
soos die wegkomkar se man net
om die draai, met sy bitter gekoude
kougom en vingers op die stuurwiel.
Nie as jy jou daagliks moet aanmeld
en jou gedra al is jy tot barstens
toe vol van opgekropte droogtes,
en die hitte ’n padblokkade oprig,
jou lyf kom aftas, en jy voel jy moet
die reg in eie hande neem, moleste maak,
dat ’n nuwe jaar en ’n nuwe vonnis kom. (19)
In die vyfde afdeling Prometheus neem die digter ons op ‘n staptog deur die mitologie. Hy skryf:
N.a.v. die beeldhouwerk Der gefesselte Prometheus deur Reinhold Begas en muwwe mites en gewigtige gedigte in biblioteke vol boeke deur skrywers soos Aiskulos, Hesiodos, Plato, Goethe, Shelley en veral Kafka.
Hierdie afdeling vra pertinente vrae oor impak van die mitologie en die modelleser (in Eco se terme) word op etlike “inferential walks” geneem.
In die gedig “Afgrond” (66) word die bekende gebed gedekonstrueer:
Ek slaan my oë af na die afgrond
waar sal my hulp vandaan kom?
Die aasvoël is my herder
pyn sal my nie ontbreek nie
Gee my my daaglikse wond
swaai die afval voor my mond
(…)
Dit speel in op die soen-gedigte in die tweede afdeling (“Diefwering”) wat die betekenis van die soen (en die liefde) debunk. Die soen by ‘n begrafnis word ‘n begrafnisgedig oor die verlore liefde:
dinge soos weerloosheid
wat swik en ontvanklikheid ontbloot (30)
Hierdie gedig vra vir ‘n opname in Fanie Olivier se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Die derde afdeling (“Entropie”) besin oor die digkuns, oor die woord as entropie.
Ons lees o.a.:
die son steel sy eie skaduwee
wat verflou en vergrys
soos hare van ’n weduwee (39)
Dikwels verras die digter ons met ‘n aweregse beeld soos ‘n das wat vergelyk word met ‘n ruitveër of ‘n teesakkie se onskuld.
Lippe wat soen lyk soos parende slakke.
Entropie versus mitologie. Closed versus Open teks (Umberto Eco). Wanorde in die sisteem. Orde in chaos.
Dis ‘n lywige bundel met opwindende lees- en speurwerk en met ‘n handvol uitstaande verse. Die parool/tronk-beelde word goed verweef. Die idee van parool as voorwaardelike vrylating met streng reëls kan gelees word as die digter se kommentaar op die Afrikaanse kanon. Hy publiseer nou by ‘n gevestigde uitgewershuis. Die taal van voëls (2002) het nie genoegsame erkenning gekry nie. Dalk omdat Pienaar te veelkantig is? Joernalis, romanskrywer en politieke analis? Vir Die derde oorlog teen Mapoch is hy tereg bekroon nes vir sy roman Die Generaal.
Die stem is grinterig, ja selfs aweregs, teen die grein van die “mooi” gedig, met besinnings oor lewe en dood, die liggaam as ‘n tronk en gedigte wat jou in die maag tref soos “Dagboek van ‘n misdaadverslaggewer” (51) en vreesloos ontmasker “Amerika” (56).
Soos die digter ‘n heildronk op die winter skink, lig ek eweneens my glas op!