
Dis iets waaraan ek elke winter dink. Dit begin tydens die herfs met die verkleuring van boomblare na geel, oranje, rooi, ougoud of ’n pienkerige skynsel. Teoreties gesproke is die kleurstof karotienoïed – die pigment wat die plek van sterwende chlorofil inneem en bome tooi in tradisioneel ‘warm’ kleure. Winterweelde. Die dood is mooi, en sy karotien is koninklik. Hoeveel gedigte en skilderye besing nie herfs- en winterbome nie? Tog is die biologiese agente veel meer poëties as kunstenaars se mimesis daarvan. Die winterboom gebruik nou minder energie: die hele gemenebes moet die koue maande oorleef. Die dooie blare val, word humus om die grond te voed. Dan kom die wintervrugte en sitrus: oranje, rooi, geel en pienk, en dit sinjaleer ’n verhoogde produksie van Vitamien A en C om immuunsiektes teë te werk. Karotien. Vuurlelies, vuurkruid, vuurpyle en vlammende aalwyne: karotien. Veldbrande wek vuurblomme op uit die as, blomme wat as pionierspesies uit blote koolstof en wind ontwaak om met gister se vlamme te spot. Weer loop Winter se sagtewareprogram, amper asof gekodeer: karotien. ’n Rooi pigment, antosianien, word eers in die herfs vervaardig, terwyl karotien gedurende die somer teenwoordig is in die blare, maar eers met die sterwende chlorofil sigbaar word. As daar nie meer chlorofil oor is nie, word ’n populierblaar heldergeel, maar ’n esdoringblaar helderrooi.
Wanneer dit lente word in die verre noorde, kondig die Rooi Kardinaal dit eerste aan. As hy ’n instrument was, was hy ’n trompet; en as hy ’n komposisie was, was hy vir seker ’n overture.
The Red Mist
Die woud verkleur
en dra ’n stiltekleed
soos ’n kardinaal.
Herfs is die strooidood
van gode. Stamme versag
as mis asem, boaards deur
die rooi konklaaf van blare.
Stamme raak lank en dun in eerbied
en wag; krone verdwyn
soos rook in ’n houtskooltekening.
Dan vlam die hemel self
in vuuropaal en die towerwoud
word ’n katedraal.
© Nini Bennett. Donkerwerk, Naledi 2019
Vervolgens dié vers van N.P. van Wyk Louw wat altyd tydloos en klassiek sal staan in die Afrikaanse letterkunde. Uit die siklus, “Vier gebede uit jaargetye in die Boland”:
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte more witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
© N.P. van Wyk Louw, Groot Verseboek Deel I, André P. Brink, Tafelberg, 2008
Of dalk hierdie meesterlike vers van Johann de Lange.
’n Blaar van Coleridge se boom
Net die een rooi blaar, die laaste van sy stam,
’n enkele rooi kryger, puntig soos ’n hanekam;
hy hang so lig, hy klim so hoog; – my klein rooi
vlag
wapper aan die uiterste twyg in verset teen die
gram-
skap van die winterlug: laag, omsingelend &
byna nag.
© Johann de Lange. Stil punt van die aarde, Human & Rousseau 2014
