Joan Hambidge. Waterpoel
Waterpoel
‘n Houtsnee in 1952
Teen skemeruur kyk
jy af in ‘n waterpoel
se terugkaats: ‘n bos,
voetspore van ‘n vermoorde
met die moordenaar weg op sy fiets:
polisie en speurders het glo
die toneel betree, beduiwel:
die liggaam afgetrek
onder oë speurend:
onsienbaar, onsigbaar
dog reg voor jou afgespieël:
met net die maan
as getuie soos water en lug
se dubbelpunt: teen skemeruur.
© Joan Hambidge, 2021
Bondig, nie n woord of sillabe uit sy plek nie. Wat ook opval is die ontginning van die dubbelpunt vanaf die funksionele tot die meesterlike inkarnasie in die slot. Natuurlik ook die “in 1952”, so fyn.
As ek die begrip, die “digterlike blik” sou moes
verduidelik, dan sou ek hierdie vers as voorbeeld gebruik.