Ars poetica
Die gloeiende elektrisiteit
van inspirasie
soos “bad blood
under the bridge”,
(‘n gemengde metafoor)
word ‘n gedig wat gate crash
op Vrydag, die dertiende.
My gedigte pos
ek nou telepaties eerder as in
die rooi posbus se rooi bek
‘n blote wit olifant.
Jy hoor of lees
my nie meer.
Die aantal bene in ‘n kameelperd
se nek glo minder
as die dansende reëls
van ‘n villanelle;
‘n vorm selde ooit deur my
met oortuiging beheer.
“No possum, no sop, no taters”,
dig die man van Hartford, Conn.
op die agterkant van ‘n eisvorm
vir belasting of versekering.
Dié gloeiende vibrasie
van herinnering, waargeneem
eweredig sekuur opgeneem.
Laat staan sulke gedigte
laat staan!
© Joan Hambidge, 2021
Net jammer oor die laaste twee reëls.
Ek het hierdie reis deur die digter se flikkerende geheue en
wolkverwaaide emosies baie geniet. Ars poetica – die kuns om poësie te maak word boeiend hier gedemonstreer. Uiters onwaarskynlike elemente (as poëtiese materiaal) word “teen hulle sin” bymekaar gejaag om op ‘n moeilik verklaarbare manier funksioneel ‘n gedig te word. Dalk is een rede daarvoor dat elke reël iets treffends te sê het: kameelperd-werwels en villanelle, Engelse idiome wat tot fynartappel opgemesh word, daardie ou van Hartford enzovoorts. Nogal lekker om ‘n sterk konsep, losweg geklee in ‘n soort aweregse humor, waar te neem.