Joan Hambidge. Digteres as huisvrou
Digteres as huisvrou
‘n Wasmasjien stollend
op ‘n wintersoggend
neem my weer eens
na die skryfproses
as huishoudelike take:
die stofsuier hiperbolies swanger
die kombuiskaste kraak
snags in oorvloedige niksheid
halfleeg die wyn bottels
aans gekurk neffens gemufte kaas
en rens melk vergete in die yskas,
‘n klein Antarktika.
Van uitstel kom optel,
dink jy, en hierdie gedig,
grocery shopping
made fast and easy …
Ek bestel via Mr Delivery:
1 litotes
‘n halwe sakkie ironie
‘n skeutjie satire
en ‘n sak vol intertekste
vir besinning oor
nog ‘n vroulike aanvulling
se selfgerigte vervulling.
© Joan Hambidge, 2021