M.C. Escher. Stars, 1948.
Sterre
die geheimenis se vorm
kan presies vermeld word
maar die inhoud is altyd
iets grilleriger
die gesigte
van verkleurmannetjies:
bitter wysheid
en die geduld
daar’s twee waarhede:
die een van die stert (vashou?)
die een van die tong
(as papirusrol?)
die sfere se musiek
kan slegs gehoor word
deur iemand
met ten minste 340°-visie
’n poliëder
sit die geflonker stop
naghemel
’n raster katedraaltjies
hy was op goeie voet
met oneindigheid
toe hy besluit het
om dit daar te laat
sterre is nie hokke nie
tog maak dit sin
om kennis op te deel
in buite en binne-in
© Loftus Marais, 2021