Don Maclennan. Vertaling van Engels in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.
Vyftien gedigte vir Ann
I
vandag was daar hoeke
elke keer as ek omdraai
sien ek jou gesig.
warm aand by die teater
en in die pouse
tussen welke
ek jou weer sien
terwyl jy wêrelde
in jou rigting wink.
II
om in jou te wees is om
in appels, blomme, warm sand te wees
om hoendervleis te weet
en te wil hê
vir haat om te verdamp en
om te voorspel dat ek jou die graagste wil hê
om wys te wees
om alles weg te gee
en om te sidder as ek jou
maar net in jou nuwe rok kan sien.
dit is om nie vanaand huis toe te gaan
óf om uit te trek óf om dooie hoop
met mens se nagklere aan te trek nie.
dagbreek het die mure van jou vreemde slaapkamer
met sagte grys hande kom voel.
jý wakker by my aanraking.
skielik teen hoogmiddag
in die kadmium lig
kom die patroon wat ék is tot stilstand
en jou verskyning
ʼn bekende pyn in my.
in die middel van die dag
wanneer ek eintlik so seker
soos ʼn beesboer of regter
in gesnede toga moet wees
my oë hunkering wat opdaag
tussen jou en die uitspansel.
riviere vol begeerte
wat deurbreek in fluisteringe
vanaf jou arms
reg oor my lydende lyf.
laat my oë inbeweeg tussen jou
en hierdie benieude dagbreek.
buite val die reën sag.
wakkerword klewe jy aan die warmte van ons bed
en jou vingerpunte verdrink die lig
van my koue lyf.
o moet my nie digter met
al hierdie pyn maak nie.
ek soek nie gedigte
ek soek jou.
III
die oues praat in wel-
deurdagte maniere
van maatstaf
ek meet die lewe aan die warm see
verskietende sterre
en blomme op my tafel.
IV
vir jou maak dit nooit saak waar ons sit nie.
dit begin nou, enige plek,
nie wanneer welsprekendheid ter sprake is nie.
niks is sonder skadu
wanneer die son met die tuiniers werk nie.
selfs as ek jou soen
is ek vergeetagtig.
ek het vandag iets probeer agterlaat
die wraakgeleier
van wat ʼn vrug probeer sê
wie hy sou verkies om sy byter te wees.
daar is geen rede vir enigiets nie.
enigiets is. alles.
ʼn veld wat jy vroeër in my gebrand het.
ek sien jou gepynig as prisonier
sien sonlig op die grond
buitekant sy sel
sélfs in die slaap
wanneer son nie met
tuiniers werk nie.
in die nag is die altyd
die lamp wat jy aansteek.
in die donker maak ek gereed
vir die uitgang,
soos wat ek sou doen deur om te strek
en luister na die agtermiddag en
reik oor wêrelde om jou
gesig aan te raak.
voorbereiding is alles.
dit het my klaar gemaak.
hier by jou is ek steeds
onvolmaak.
ek wil my tong gebruik om
lewensliedere te komponeer
die wêreld die hof te maak,
nie myself te begrawe nie.
dit is hierdie tong
wat my maak wat ek is
as ek is ryp genoeg is vir jou
wil ek jou nie my kettings
aanbied nie.
V
dit mag dalk te laat wees
ek het jou reeds in poësie verander
sal jy hierdie tong van my kom uitruk?
VI
ek is ʼn leuenaar.
jy sal dit weldra agterkom.
ek jok want ek maak liefde
dit blyk so ingewikkeld
te wees − maar dis nie.
dis so eenvoudig
soos vrugte, en om kaal te swem.
dit is nie hoe ek jok nie
maar eerder hoe ek wil jok.
VII
as ons liefde sou maak, het ons mekaar gou
dalk stelselmatig vergeet,
die gety sou die strand
van liggaamsafdrukke reinig.
maar alles dui nóú op ʼn
starre ontmoeting
maar nie met jou nie
want ek is lief vir jou:
met al die nagmerries
van my leuenaarshart
pleitend voor sy tronkbewaarder
net nóg ʼn klinknael hier.
VIII
wysheid en poësie –
soekende woorde
gebaar oppad na ons bed
of my graf.
IX
nee. dit is nie die eerste of laaste toneel
van ʼn beplande divina comedia nie:
dit lyk net of dit beplan was
en jy kan dit nie bewys
behalwe dat die liefde
kenbaar soos sout is nie
herinnering as moegheid
en om in die wakkerword
dáár die voet van jou nek te vind.
X
die uiterste oëverblindery is hier,
my hand, wat op reik na jou.
skitterende huigelaar, om vir lewe te
vra in die hoop dat appels nie sal val
wanneer lewe intuimel nie −
en asof verbeelding nié by die steel
sal afbreek nie
dan is dít óók
die einde van poësie.
* * *
as ek my gedigte groot soos advertensieborde maak
sal daar draadjies emosie los woel
die oë van verbygaande motoriste,
hulle sal sien hoe ek my dors les
met ʼn glas bier
en hoe jy die lugstrome ry
met jou hare reguit agtertoe
laggend vir die armoede,
dun draadjies wat Gulliver
belaglik sal laat lyk.
die hemele ry verder,
die aarde besaai met vrugte,
en ek het slegs ʼn tonnel onder
my ribbes uitgekrap.
steeds wag jy
en die seisoen drywe
verder van die tuin af weg,
jou gesig kleiner as ʼn appelpitjie.
XI
dit is nou bloot ʼn saak wat uit gesit moet word
om die ongeluk in die oë te staar
en te voel hoe die wyn bitter word in jou mond.
jy moes ʼn hele ruk lank na hom kyk
sy gesig verwarde plooie
ʼn bedrieglike voorkoms
maar eintlik is hy hartseer,
lyk soos moegheid maar is
ʼn man in stryd met homself.
gebreekte glas lê oral
bloed op die vloer
en die kroegman sal nie inmeng nie,
hy het dit alles reeds gesien.
die vent.
XII
ʼn jong vlieg sit verkeerdelik op my rose,
ʼn versekeringsmakelaar wag
op die agtergrond in die gang van die leë gebou
wag vir iemand om terugkeer vanaf ʼn ander kamer
om die koevert van vrees te verdun, te koop.
dit reën.
Oktober-reën.
maak my depressief
want dis lente en almal maak klaar,
die jaar is besig om weg te loop op lang papierlinte.
wat anders kan ek doen as krap in my lessenaar
jou naam fluister
aan ʼn beeld wat wegsink
dieper en dieper my bloedstroom in,
dink hoe vreemd kamers teen dagbreek is
en hoe leeg die agtermiddae in Oktober.
XIII
geleerdes verduidelik in woorde
presies wat my situasie is
hulle vorm dit nie soos
die ding self nie
dalk is ʼn deel
daarvan Michelangelo
tussen sy rotse aan die kus
of by sy hompe marmer
wat weggekeep word vir maande
om te kan sien wat dáár versteek is.
waaraan vat hulle
met hulle grammatiese vingers
wat is dit wat verdoesel lê in die klip?
ag nee! ek is nie deel van dié swendelary nie.
die oortuiging dat
die lewe duidelik en vol hoop is.
al daardie strooi oor die inner mens
wat wag op verwesenliking van wat hy is
sy snaakse drang na fotos van homself
ure wat lamgelê word voor badkamerspieëls
geld op fortuinvertellers en tandartse verkwis
en menigte ʼn babbelas waardeur
die intimiteit van gisteraand se openbaring
soos ʼn lykskouing beur.
kyk na my aandeel in (die) bedrog.
wat ʼn wriemelende hoop kak.
ek is gebakermat.
beskawing. my beskawing
geweek in formalien
die postuur van dooie posture
half-dronk op Durban se strand
god-(aan)grypende skares
terwyl malhuise lok
en hulle plastiese lakens om
jong anglikaanse proponente vou.
sy met
beeldskoon stralende gesig
blou soos winterlug − hoekom is
haar hand om my geslagsdele gevou?
sê my wie ís die mal een?
die hospitaal-superintendent wie jou wou wysmaak
mans word deur hulle penisse beheer
en jou ʼn olierige bybel
en vinnige naai aanbied
óf ape soos ek
wat liefde ken as hulle dit voel
en nie sedelikheid kan verstaan nie?
op die ou end, was daar ʼn lied
wat 3 vm. gehoor is
toe die karre stil geword het
die verkeersligte verlam
op amber
met verslane bier.
ʼn lied, ek sou sê, oor afswering
wat grys soos senuwees was
met die dagbreek wat daarop sou volg.
XIV
ons het besluit om in die
japanese kamer te ontmoet
in die koel en groen
wat verkragting en brandstigting oorskry
want wanneer die voetpad
oor die berge hoog is
kort mens longe en spiere
om integriteit
en inner dissipline te behou.
elke dag ʼn pint water
en ʼn trossie kersies
gebakte ryskoeke
op die vuur in die aand.
buite is die somer in optog
gewere en negers
plastiek maskers
wat jessamine korneas beskut
teen vuur en steen
en ek is uitgeput deur
die seisoenale bloed en haat
vredes wat leeg is,
selfs die restaurant was kil
die opgewondenheid uit die spyskaart geroof.
in daardie groen landskap
word die rûe van heuwels
met bome beslaan
paadjies verlore in die mis.
daar is geen sekerheid
oor ons paaie nie
slegs geduld
om onsself te stem
soos instrumente
sodat vingerpunte
kan resoneer.
geregtigheid is genoeg
meer as genoeg
om ʼn lewe te verdrink.
* * *
dit is menslik om
bitter te wees soos amandels
en moeg om te praat
en jy het so baie om te sê,
daarom beveel ek jou
luister en wees stil.
loop.
XV
die dood is ʼn feit
en alles wat ons doen is lewe.
ons is nie begrawe nie,
en om liedere regverdig te maak
hoop almal vir ʼn begrafnis.
so wie is vry?
ek probeer jou vertel wat jy is is
wie jy hoop om te wees
is nou.
Bron: Maclennan, D. Collected Poems Don Maclennan, edited by Dan Wylie, Robin Stuart-Clark, 2013.
Dankie vir die mooi kommentaar. Ek waardeer!
Meevoerend, meesleurend – lees soos ‘n lang verhaal. Van versletenheid en vervoering aan die ander, splitsing van die self. Die vertaling is onopvallend, soos helder water, soos ‘n skoon ruit.
Só lyk meesterlike vertaling – helder soos glas.