Tonight I can write the saddest lines.
Puedo escribir los versos más tristes esta noche.
Vanaand kan ek die hartseerste reëls skryf
oor haar; sy wat nooit aan my behoort
het nie, maar my lief had alles ten spyt.
Die soel nag het aan ons behoort
in vele vlugvertragings in Santiago de Chili,
die stad van Neruda, steeds na haar bly roep
in huise van drome: La Chascona, La Sebastiana,
Isla Negra op ‘n soloreis wég van ontrou,
met die Andes as die stille toehoorder hiervan.
Hoe kort die liefde, hoe lank die ontrou.
Vanaand sal ek die hartseerste reëls skryf
oor haar; sy wat steeds aan my behoort
en in vele palinodes terugkeer met spyt.
© Joan Hambidge, 2021
Lieflik.
“… harseerste reëls …” Vernuftige verafrikaansing van “más tristes”. Dit is ‘n eerlike en onopgesmukte woord wat ‘n moontlike “deftige digterswoord” vermy.