Die gedig as konstellasie
In vreemde landskappe
telkemale die / daardie geliefde
in ‘n hotelbed of in die
besoekersboek afgeskryf;
op die paspoort met visums
haar naam gestempel:
心爱
Xīn’ài
Twee prosesse was dit dan,
die werklike geliefde (verloën-
verlaat-versaak) tot die Sy
她她
Tā tā
wat beslag kry tot in ‘n / hierdie
skippie-in-‘n-bottel
wat lank ná
die saam-wees reis van leser
tot antologie, dan terugkeer
in onverwagse ruimtes:
地方
Dìfāng
‘n Silwer herberg
was dit toe nie.
© Joan Hambidge, 2021
