Resensie: “Splintertyd” (Dolf van Niekerk)

 

 

 

Resensie: Splintertyd, Dolf van Niekerk. Imprematur, 2021. ISBN: 978-0-620-94670-4

Resensent: Joan Hambidge

 

Ek vors bestaan en wese na, die wese van wees

 

Dolf van Niekerk se bundel Splintertyd (Imprimatur) is ‘n belangrike bundel in hierdie tydsgewrig gekenmerk deur Angs, Onsekerheid, ‘n volledige nuwe bestaan, wat in Maart verlede jaar aangebreek het. Grendeltyd het, soos ons almal weet, op alle vlakke sy tol geeïs. Mense is ingeperk in hierdie versplinterde tyd en veral digters het skerp gereageer op hierdie inperking. Splinter is immers ook ‘n werkwoord (afsplinter) en die vele assosiasies word deur hierdie titel oopgemaak.

Van Niekerk is ‘n gerekende prosateur en digter. Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op ‘n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen. En op sy 90ste verjaarsdag verskyn Berigte uit die skemerland ook by Imprimatur.

Die digter is ook ‘n filosoof en in sy gedigte vind ons dan sterk besinnings oor die mens se lot:

 

alles keer in siklusse terug,

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was.

 

(Portrette in my gang, 2015)

 

en in die lewe en die dood

is elkeen uiteindelik alleen

 

Hierdie reëls staan opgeteken in Dolf van Niekerk se bundel Nag op ‘n kaal plein (2006), ‘n gunstelingbundel vir hierdie leser:

 

“Skaduwoord” is ‘n sentrale vers:

 

Skaduwoord

 

Ek wou liefde onder woorde bring

soos die HAT, nuanses

van toegeneentheid tot plante,

diere, mens en God, vibrasies

van die brein en hart.

Ontsê hiervan sal die mens

iets soos liefde versin

in sy verlange na versoening,

onbewus van tye waar

liefde en haat verstrengel was;

dors na ’n bries van liefde

met die laaste onsekerheid

voor ewigheid. (25)

 

Die dood is ‘n “inwonende aanwesigheid”, skryf die digter, ingeperk ook deur siekte waar reën die suising word van iets anders:

 

Middernagreën

 

Middernagreën, maar dis geen reën.

Dié suising is een bed ver, of is dit my suurstofmaker,

’n drupspoor op my huis se dak in tye van ’n ou normaal,

se glo ’n Hoër Hand bepaal die reën. (p. 37)

 

In die volgende vers word Sartre se die-hel-is-ander-mense aangespreek:

 

Hel is nie nadoods,

hel is ’n virus van die aarde

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde,

ontspring uit kweekgrond vir hebsug en haat.

Waar liefde en waarheid weerstand bied, muteer hy

in variante van lewensagterdog, ondergrawing

en verdagmaking – tas die siel aan en verban

die wese na ewige kwarantyn binne die self. (p. 46)

 

II

 

Linda Hutcheon & Mario J. Valdés voer ‘n gesprek oor nostalgie, ‘n begrip wat ‘n terugkeer én pyn in sig dra. Ons kan terugkeer na ‘n ruimte, maar tyd kan ons helaas nooit weer terugvind nie. Ons lees:

Nostalgia, in fact, may depend precisely on the irrecoverable nature of the past for its emotional impact and appeal. It is the very pastness of the past, its inaccessibility, that likely accounts for a large part of nostalgia’s power—for both conservatives and radicals alike. This is rarely the past as actually experienced, of course; it is the past as imagined, as idealized
through memory and desire.

http://revistas.unam.mx/index.php/poligrafias/article/viewFile/31312/28976 Besoek 21 Oktober 2021

 

Wanneer ons die verse deur die oë van Hutcheon lees, is die ingeboude ironieë opvallend. Die woord nostalgie beteken sowel ‘n terugkyk as pyn; ‘n geïdealiseerde, opgemaakte wêreld wat aanklop by Van Wyk Louw se Nuwe verse, ‘n bundel met gestroopte verse.

 

Dié nag het nie ure nie

 

Dié nag het nie ure nie,

elke uur is nag;

oorlewing wankel op die grens

van lig en duisternis;

uitweg neig na nag

terwyl ’n kakofonie

suising in die brein begelei

van êrens na nêrens,

nêrens na êrens

waar nag en dag

gebore word. (p. 59)

 

In koorsdrome word daar verlang na die Karoo in vele pynlike nagkonserte. Ons onthou:

 

my windharp

sing

in ballingskap

wat sing

my windharp

aan die wilgertak

waar nooit

karoowind waai

 

(Bleek planeet, 2013)

 

Dit is ook ‘n bundel van liminaliteite en oorgange: dag na nag, lewe na dood, siekte en herstel met die poësie wat alles registreer. Die pragtige voorblad – met die handskrif van die digter – is tekenend hiervan. Hierom word alles ‘n “dubbeldag” in ‘n pynlike binnereis.

 

Plato se grot is ook hier aanwesig wat die dubbel-kyk aktiveer.

 

Die digter-as-filosoof dink geweldig na oor die mens se verbintenis met die kosmos en die ewige soeke na sin:

 

Ek vors bestaan en wese na

 

Ek vors bestaan en wese na,

die wese van wees

in die labirint van ewige dinge;

of alles oplaas saamvloei

in Is en Is deel is van syn,

sinoniem vir die Romein

se sistere, omvorm tot eksisteer;

staan tussen nou en ewigheid,

’n pendulum in tyd

van kosmiese wordingsdrif.  (12-13)

 

Die bundel is laatwerk en die gesprek met Elisabeth Eybers is tersaaklik, want daardie digter het oor ouderdom, siekte en die sin-van-die-lewe uitsonderlik goed gedig. Wat véral vir die speurende leser opvallend sal wees, is die self-palinodes en vele gedigte wat terugkeer na bestaande verse in ‘n proses van self-kanonisering.

 

III

 

Imprimatur onder die leiding van Martjie Bosman het ‘n belangrike bundel gelewer in hierdie vreemde tyd. Die uitleg en ontwerp van Annemart Swanepoel verdien vermelding.

Toeganklik, aangrypend en ‘n belangrike baken in die digter se oeuvre.

All nostalgia, then, would be what Davis (25) calls “interpreted nostalgia” wherein an analysis of an experience, however brief or mistaken, comes to be fused with that primary experience and thus alters it, aldus Hucheon in voetnoot 17.

Dit het my ook teruggeneem na Legkaart van ‘n jong lewe (2019), sy herinneringsboek, en my opnuut bewus gemaak hoe digters terugkeer na dieselfde temas en dieper kyk. Die ewige spel tussen onthou en nou …

Die digter het nie geswyg nie en hy struikel beslis nie oor sy woorde nie …

‘n Klein, kompakte bundel wat uitwaaier na die filosofie, die kosmiese vraagstukke en die dood wat iets alledaags geword het.

 

Bestel:

Snymanweg 46, Brummeria, Pretoria, 0184 www.imprimatur.co.za

 

Bookmark and Share

Comments are closed.