Laat ek dan stilgemaak word deur jou stilte
die vroue kyk op na jou pyniging
en jy glimlag af na hulle
ál begin die pyn jou
laat wonder:
My God, My God
waarom het U My verlaat?
van waar jy sou kom
om te volbring wat voorspel is
vir dié wat nog lewe
en dié wat reeds gesterf het
tog is jy in jou menslikheid só bevrees
oor wat binnekort moet gebeur:
dat jy jou laaste asem
sal moet uitblaas
oor ʼn stukkende wêreld
dat die kinders van elke stam en geloof
tot aan die einde van tyd in die strate sal kan speel
U moet verskriklik dors wees, my Heer –
tog bring die spotters jou
– soos altyd maar – suur wyn:
hulle wat ons wys wil maak
jy doen wat jy nou doen
vir ʼn sekere denominansie
en fok die kinders wat daagliks sterf
aan daardie gatkant Gaza-se-land
máár ons weet
− soos vertel in die blaaie uit die 83-vertaling geskeur –
die spies wat binnekort gaan binnedring
het ver ver ingesteek verbygesteek
– dieper as wat verwag sou kon word –
om die Goddelike energiepunt van hart te priem
én − soos die geskrifte ons vertel −
in die hartschakra van ʼn God
is onvoorwaardelike liefde
ʼn kloppende fontein
wat ons bekers
met lewenswater sal vul:
vrygestel vir álmal om te drink
laat ek dan stilgemaak word deur jou stilte
laat ek dan heelgemaak word deur jou vrede
© Bester Meyer, 2021
(Laat ek dan stilgemaak word deur jou stilte uit Pablo Neruda se Gedig 15 soos vertaal deur De Waal Venter: Vandag is boordensvol. Naledi. 2019.)