Sanlampryse vir Jeuglektuur 2021 bekendgemaak

 

 

 

PERSVERKLARING

Wenners van Sanlampryse vir Jeuglektuur 2021 bekend gemaak

Sanlam en Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, kondig met trots die wenners van die 2021-Sanlampryse vir Jeuglektuur aan. Die pryse, wat ingestel is om oorspronklike en kreatiewe skryfwerk vir tienerlesers (12–18 jaar oud) en jong volwassenes aan te moedig, is op 20 November 2021 in Kaapstad toegeken. Die pryse word tweejaarliks vir nuwe manuskripte toegeken.

Twee wenners (goud en silwer) word in elk van drie kategorieë – Afrikaans, Engels en Afrikatale (Nguni- en Sothotale, Tshivenda en Xitsonga) – aangewys. Die totale prysgeld beloop R90 000.

Vanjaar se wenners is:

Afrikaans

  • Annerle Barnard van Bloemfontein, wat vir die tweede keer in hierdie kompetisie bekroon word, verower die Goue prys vir Spel. Die beoordelaars beskryf die verhaal as “spannende wetenskapsfiksie waar die kontras tussen modern en tradisioneel sterk na vore kom en kunsmatige intelligensie en menslike vermoëns teenoor mekaar opgeweeg en afgespeel word. Uiteindelik bewys die uiteenlopende karakters dat verskillende wêrelde tog kan saamwerk en in vrede die voortbestaan van alle lewe verseker”.
  • Die Silwer prys is aan Betsie van Niekerk van Malmesbury toegeken vir Anderkind, ’n historiese jeugroman wat afspeel in die tyd van die Groot Griep in 1918. “Wat die verhaal relevant maak vir lesers vandag is die oorlewingstema en die tema van die hersaamgestelde gesin wat saamsnoer te midde van swaarkry en so vir die karakters ‘n nuwe lewe kan uitkerf”. Betsie van Niekerk het vantevore in 1996 ’n Sanlamprys verwerf vir Gamkab.

Engels

  • Die Engels-onderwyser Catherine Jarvis van Johannesburg wen die Goue prys vir The Swim Team. Beoordelaars beskryf dit as “relevant en kontemporêr” en prys die outeur vir haar knap hantering van kwessies van ras en bevoorregting in die koshuis van ’n eksklusiewe privaatskool.
  • Die gevestigde skrywer Penny Lorimer, van Kaapstad, wen die Silwer prys vir Luntu Masiza Tells the Truth, wat volgens die beoordelaars ’n lewensgids vir alle tieners behoort te wees. Hulle noem hierdie storie waarin Luntu sy eie verhaal openhartig met lesers deel verder “lesenswaardig” en “’n storie met hart”.

Afrikatale

  • Debuutskrywer Sandile Ngwenya ontvang die Goue prys vir Imali Yezipoki (“Die spook/gees se skat”). Hierdie ambisieuse roman in isiZulu is Afrika-magiese realisme en riller tegelyk, waarin die mitiese-, realistise- en voorvaderryke op mekaar inspeel.
  • Die ontvanger van die Silwer prys is Thulani Simayile, ’n universiteitsdosent van Eersterivier, naby Kaapstad. UNolali, ’n roman in isiXhosa, kan vertaal word as “Plaasjapie”. Dit handel oor weeskinders wat by familie grootword en deur eie familie misbruik word. Die beoordelaars het klem gelê op die tema van die impak van opvoeding op armoede en die belangrike boodskap wat die skrywer aan lesers oordra.

Die wenmanuskripte is deur Tafelberg ontwikkel en uitgegee, in sowel gedrukte as e-boekformaat. Manuskripte is anoniem gekeur sodat debuutskrywers op gelyke voet met gevestigde skrywers kan meeding.

“Die diversiteit van wenners in hierdie kompetisie jaar na jaar maak dit werklik ’n uitsonderlike prys,” sê Michelle Cooper, Tafelberg-uitgewer. “Vanjaar se wenners strek van historiese- tot wetenskapsfiksie tot realisme in kontemporêre Suid-Afrika. Dit is ’n kaleidoskoop van jeugromans vir lesers van dié gewilde genre; jonk en oud.”

Sedert die Sanlampryse in 1980 die eerste keer toegeken is, is nagenoeg 80 inskrywings vir skole voorgeskryf. “Dit bevestig die waarde van die kompetisie vir die ontwikkeling van plaaslike jeuglektuur van gehalte,” sê Cooper. Op die lang lys van voorgeskrewe wentitels is onder meer Onderwêreld deur Fanie Viljoen, Praise Song deur Jenny Robson, Kungasa Ngifile deur E.D.M. Sibaya, SuperZero deur Darrel Bristow-Bovey en Lien se lankstaanskoene deur Derick van der Walt. Rolprente is ook van sommige titels gemaak, soos Lien se lankstaanskoene en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom deur Marita van der Vyver.

Sydney Mbhele, Bedryfshoof: Handelsmerk by Sanlam sê: “Hartlik geluk aan al die pryswenners en deelnemers. Vanjaar is die veertigste jaar van ons vennootskap met NB-Uitgewers en ons bedank hulle vir die wonderlike werk wat hulle doen vir die viering van nie net jeugliteratuur nie, maar ook literatuur wat in Suid-Afrikaanse moedertale geskep word. Hulle vaardighede en talent is uitsonderlik.

“Die pryse is in perfekte ooreenstemming met ons doel by Sanlam: om alle Afrikane met selfvertroue te laat leef. Vandag se jeug leef ’n vinnige, dikwels digitale, lewe en literatuur is ’n kragtige middel om konteks en verwysingsraamwerke te bied om die wêreld mee te besigtig. Hierdie skryfstukke help lei en vorm die jeug en bou hul selfvertroue, en selfversekerde jongmense het die vermoë om hul volle potensiaal te ontwikkel en dapper die toekoms in te gaan!”

Medianavrae:

Arleen Stone

Reklamekoördineerder

Arleen.stone@nb.co.za

072 649 2346

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.