geskiedenis van ’n lawasteen
onkliplig lê jou versteende vorm in my hand
destyds was jy ’n jong boom op ’n vulkaniese berg
in ’n ketting ontstaan aan die goudkus van Afrika
het ondersese aardbewings opgestoot in lae magma wat
vulkaantoppe soos skildpaddoppe laat stol voor dit uitbars
toe die Tenequía ontwaak vat jou blare vlam & ontplof in tonge
soos die stem van ’n klokkeluier wat brand-brand skree
hitte knak jou takke stroop die stam laat boombas met ’n knal losspring
vervorm jou bos in ’n plek monsteragtig gevul met nuwe dood
die vog in jou jaarringe vir ’n gedroomde lewe kook & verdamp
sissend soos iemand wat vinnig vertel sy luisteraars verlei
’n honger lawastroom lek-lek aan jou wortels soos
iemand wat in snelskrif opskryf met sy lesers flirt
glo dat sy waarheid aanvaar word terwyl ondergronds blase borrel & oopbars
rafyne in sy vertroue kerf vlug akkedisse & verkool jóú hout in diepte & breedte
terwyl jy doods omtuimel onder geskinder by die krater se mond
inval skuif ’n tektoniese plaat in die aardkors van wes na oos
verskyn meters nuwe eiland in die Atlantiese Oseaan
soos ’n breuklyn my van suid na noord laat verdwyn
ek vrugbaar klein boompie na ’n tektoniese kopskuif
© Carina van der Walt, 2021
Vulkaan Cumbre Vieja op La Palma het op 19 September 2021 tot uitbarsting gekom. Dit hou steeds aan – na ses-en-sestig dae. Ek was in 2009 op La Palma. Destyds het ons op die San Antoniokrater se rand gestaan en na die swartgeblakerde landskap gekyk waarop die plantegroei na sy 1766-uitbarsting nog nie regtig vat kon kry nie. Suid van San Antonio het vulkaan Teneguía afgesper gelê. Dit het in 1971 uitgebars. Nou, vyftig jaar later, is dit die Cubre Vieja se beurt. La Palma lê op ‘n tektoniese breuklyn in die aardkors. Voorspellings wil hê dat hierdie eiland uiteindelik onder die Atlantiese Oseaan sal verdwyn, maar in werklikheid word dit tans groter deur die lawa wat in die koue seewater stol. “geskiedenis van ‘n lawasteen” is geskryf na aanleiding van ‘n verkoolde stuk boomstam waarvan die bas deur die versengende hitte van ‘n vulkaanuitbarsting half afgespring het.