opgewek
(09/06 – 12/06)
Vuur het haar wasgoed by Lourensford opgehang
Wind het haar draad gegryp
& die vlamme al langs die berghange
gaan span soos ’n string Kersfeesliggies
sierlik slap van tak tot tak
huise wat in die pad was se dakke soos pakkies
gestroop toe uitbundig rame as klappers laat knal
tussen die oe’s & die aa’s & karre wat vir foto’s stop
het brandweermanne vlammende hemde van die lyn geruk
gestruikel oor hitsig verstrengelde broekspype sissende rokke
koers verloor seksueel opgewek oor ’n vol brandslang gestrompel
daarna met coïtus interruptus geworstel middenin dié bergbrandramp
© Carina van der Walt, 2022