en ruimtes word geopen met behulp van die wind
Net ʼn oomblik. Nooit meer as ʼn oomblik nie. Miskien kan ons nie meer as ʼn oomblik op ʼn slag verduur nie. Ek onthou. Ek sal probeer verder gaan. Hierdie vreeslike ruimte om ons skep die stilte waaraan ek jou, soms, mag erken en deur jou erken mag word.
– André P Brink
by die oerrotse het ek jou gesien soos jy is
toe ons naakte lywe
in die aanskyn van alleenheid
ʼn kuur kon vind
vir my verharde slawehart
waar ek ten spyte van alles wat
wit en bruin en amber en goud is
jou diepste kon absorbeer
en ons onsself kon reinig
in die rotspoeletjies van tyd
om deur die tog te Karoo
gebrandmerk te word
met ʼn Afrika-son
wat ons verskroei het
– soms jou Europese lyf
stukkend gebrand het –
totdat daar niks anders was
as om te oorleef
op die wete van mekaar se lywe nie
die dors te les uit mekaar se sappe nie
hoe ek jou skugter kug moes beluister
in die grot van ons-amper-verkluiming
en die hond – man se beste vriend –
het saam met die aasvoëls
kos vir ons opgepik
langs ons vuurtjie kom neersit
totdat ons selfs hom – stomme dier –
moes offer om vir oulaas aan’t lewe kon bly
maar soos die reis só die lewe
niks meer niks minder
niks inniger
as die liefde nie
en om as die son een môre oor die einders breek
en jy niks meer oor het om te verloor nie
en niks meer oor het om te vind nie
die Kaap – wat in ons drome gewag het –
tegemoet te strompel
die slaweklok opnuut helder te hoor beier
te sien hoe haar Europese wit lyf
nou vlinder in beskaafde somersrok
én my hart te voel losbreek
as oomblik in die wind
© Bester Meyer, 2021
(en ruimtes word geopen met behulp van die wind uit Pablo Neruda se Sonnet XXIV soos vertaal deur De Waal Venter: Vandag is boordensvol. Naledi. 2019.)
Dankie vir die mooi en handige kommentaar, Helize.
Grootse grot- en vuur-gedig – vir almal wat “niks meer oor het om te verloor (…) of te vind”. Laat dink aan Louw se “Groot ode”. Hier net soveel meer toeganklik, en vir vandag. En bowendien ook aan Opperman – sy “Bontekoe” waar hul die jong seun se lyf wil eet, soos hier die hond, en “Cabo de Boa Esperanza” na sy KOMAS – strompelend een oggend weer “die Kaap” en die slaweklok se beiering.
Groots. Lieflik. Als insigself-opnemend en verteer, met daarby die liefde, en die klein vuurtjie van Marais se Boesman-alleenmeisie.