Gebruiksaanwysings vir lees: Smits-gedig
ver(sk)yn verdwyn
mag die aan(spoor)ing
nuwe woorde bring –
vers(k)yk is nie sonde nie
verskyk is so raar
nie waar nie –
ver(sk)yn verdwyn
mag die droomboot
ont(spoor) in die niet
én die nag se verhale
vir oulaas
die sterre laat val
uit die dak van hierdie kosmos
mag dié wat een is
beséf hulle is twee
en dié
wat dink hulle is twee
onttroon word in die Één
wat hulle tweeledigheid omvat
ver(sk)yn verdwyn
mag die skyn
verdwyn
en die
sterre
hang
en dan
verdwyn
– harlekyn –
en hierdie nag se (s)yn
in sy eie karmo-(p)yn
verdwyn/verskyn
(vervang (sk) (p) en (s) met mekaar
in enige droomvariasie van sterre)
Inkleur-ling: Smits-gedig
mot in ʼn wit nagrok die lug is vol aand (vanaand)
skemer van reisende stemme
wanneer die wind soos ʼn geheim opstaan
uit die veld van lang bewende gras(se)
oral die lig wat oorskiet sal die meer jou silwer (lyf vertroetel soos ʼn)
muntstuk onder die maan ʼn hand vol beentjies ver (anderkant die) hoofweg van oë
wanneer die veld van hoë brandende stemme oorlog (maak) op die sagte bonsende har-
tjies van veldmuise sal die huis van twee(-)linge bly staan (op die fondasie van wat nie is nie)
& in die diep kamer van (wat) is daar slaap (ons) wanneer die meer van geweldige waters
oor jou klein kom(-pakte handjies vou en ʼn spreek-)buis van 8 pare (liefdes-)hande (is)
& die verf dop af soos eiers (wat oopbreek) & in die krane draf die kat
met voete van reën deur die oog van die stoeplig
tot diep in die (donker) nag (in)
(Die gedig verskyn in mag die diep slaap jou dan, Hilda Smits. Protea Boekhuis. 2021. Die invoegsels en verandering van strofebou is die van dié leser. Gebruik met vergunning.)
Ontklee-ding: Smits-gedig
(draf die aand haal jou in)
soos ʼn mot om ʼn kers
asem jy in en uit –
binne jou karkas
knabbel strominge water
aand vir aand
dood na dood
tot aan die buitewyke van is
(as jou hart woestyn alleen was)
dan was die gedig dalk ʼn narratief
ʼn rigtingwyser
van wat die lewe
jou probeer wysmaak
in die kinkhoes van bestaan
is alles
gebaseer op woorde
wat water simuleer
om drome/rowe te vind
wat aan lettergrepe hang
as die gedig wit is
rooi soos jóú bloed
sal my melodieë – vloeibaar –
aan jou woorde gebind (kan) word
om hulle weg see toe te baan
soos alle donker riviere
van smart
(draf die aand haal jou in)
soos ʼn mot om ʼn kers
asem jy in en uit –
en dis die wind
wat waai
(wat waai soos swart broccoli in die nag)
(Die woorde tussen hakkies kom uit ʼn gedig soos verskyn in mag die diep slaap jou dan, Hilda Smits. Protea Boekhuis. 2021. Gebruik met vergunning.)
En dan oplaas: ʼn gedig?
(lees dalk eerder: Gesig)
mot, daar was ʼn dreuning in die lug (vanaand):
die see ʼn swaard
aan die oor van die hawelose
en ek erkentlik vir die nag (se) geheime:
óm as die oseaan ʼn brandende pyn is – jou (lyf) te (vertroetel soos ʼn)
masochis wat die mond van die maan (anderkant die) gewelf van dinge
probeer opskryf wegskryf omskryf: wat die (maak) oorbodig maak
jou te probeer bind aan die huis (-) dowe god waar ydelheid rus (op die fondasie van wat nie is nie)
daar wat ons ís en (wat) ons máák ons die ons maak wat (ons) ís
waar jy jou netjies ver(-pakte handjies vou en ʼn spreek-)taal vir Afrikaanse (liefdes-)woorde (is)
waarvan alles (wat) -moontlik- (oopbreek)-baar is moet oopbreek
en eindelik sal vervloei: in die (donker) oseaan (in)
(gisteraand, mot: ʼn skittering van sterre)
© Bester Meyer, 2021