Leerstoel
Uit my stoel
ondersoek ek
die pens van die heelal.
Spene voed
suiende gestaltes
van yl-bedrade wiskundige entiteite
met vars strome kwantums.
My stoel is in ’n wentelbaan
om die kop
van ’n jong meisie
met my daarin.
Ek doen waarnemings.
Sy lag want sy is ryk aan tyd.
Eintlik ’n batisfeer,
my stoel,
stadig, of dalk vinnig,
maar onvoelbaar
sak ons die diepte in
van ’n woord.
’n Skerp soeklig skyn,
belig vreemde strukture.
Voor ek begin daal het,
het ek geweet
watter woord dit is.
Dit is: woord.
Nou verstaan ek nie
die onbekende lewende hawe
wat tergend stadig
verbydryf nie –
fyn lyf soos ’n ballerina
se bra van kant,
deursigtig, met groot pers oë
wat oënskynlik vir my lag,
swalk statig verby;
net die agterkant
nou nog sigbaar,
dit lyk soos ’n sigaar
gemaak van jellie.
Ek gee die sein: boontoe.
Hier kan ek nie langer bly nie.
As ek die onverstaanbaarheid
van hierdie woord
langer moet verduur,
sal ek hom en sy maats
nie meer argeloos
kan skommel
en uitdobbel nie.
Verstaan?
© De Waal Venter