Peinsende muse. De Waal Venter
Prosagedig:
’n Gesprek sonder Yanni
Ek en my vrou sou graag vir Yanni Euterpe onthaal met ’n aandete. Ons sou skaapnek heerlik sag kon kook en vars groente uit die tuin daarby voorsit: slaaiblare van Cos, vet rooi radyse met wit voorkoppe, intense groen Switserse spinasie, kruie soos tiemie, marjolein en lourierblare. Verder, klein ronde aartappeltjies wat plakkies botter onmiddellik insmelt in hulle lywe.
Maar hoe kry mens haar so ver om lank genoeg te bly vir ete? Sy is altyd haastig, want, sê sy, ek is nie die enigste vir wie sy muse is nie.
Gister het sy gepraat van Sappho, maar as dit die beroemde Sappho van Lesbia is, verstaan ek dit nie. Daardie Sappho het in die jare twee duisend ses honderd en iets voor Christus geleef.
Maar hoekom dink ek ’n muse moet deur tyd gebind word? Ek, en almal wat ek ken, leef in ons geprogrammeerde tydperke: begin, verloop, einde. Maar lyk my dit geld nie vir Yanni nie.
Blykbaar moet sy aan die gang bly om die digters voor my en na my ook waarhede in te fluister.
Ek kan nie eers dink watter vorms toekomstige poësie sal aanneem nie – direkte kommunikasie van brein tot brein dalk?
Die punt is, waarhede verander nie, die vorms en voorkomste miskien wel. Vat nou maar Aristoboleles se idee: (’n tydgenoot van Demokritos. Geen van Aristoboleles se geskrifte het bewaar gebly nie.) Die menslike gees is onvernietigbaar, baie soos Demokritos se atoomdeeltjies.
Ek kan sweer ek het Dinsdag vir Aristoboleles in die supermark raakgesien. Hy het baie krities gestaan en voel aan ’n avokadopeer. Dalk werk hy aan ’n nuwe filosofie-tese.Ek hoop net hy sal onthou om spukhaften kwantum-verskynsels in te sluit. Dit is deesdae de rigeur.
Sien, ek het tot hier gekom sonder hulp van Yanni. Maar ek moet erken, dit is ’n bietjie
onsamehangend. Wat maak hierdie gedig (as dit ’n gedig is) ’n geheel? Ek sou sê, dit is die moeilik bespeurbare draad wat hierdeur loop, ontwykend, soos die genetiese kode vir kreatiwiteit,
’n baie dun draad.
*
Prosagedig:
’n Ordelose gesprek met my muse, Yanni Euterpe
Yanni het ingekom sonder dat ek dit dadelik opgemerk het. Sy sit met haar ken in haar hand en kyk by die venster uit.
Wat sien jy? vra ek.
Sy draai haar kop na my en haar donker oë beweeg stadig onder haar fyn wenkbroue soos sy my gesig bekyk.
Uiteindelik antwoord sy: Chaos.
Daarbuite? vra ek verbaas. Sy knik haar kop en sê: Lig stort ordeloos deur kolkende lugmassas, selle in plante verdeel en verdeel verwoed, insekte verslind mekaar, erdwurms sluk blindelings die aarde in. Dáár loop ’n hond met ’n meisie agter hom aan. Bokant hulle strompel wolke planloos teen mekaar in. Waarheen gaan die hond met die meisie?
Ek dink hy het ’n plan, bied ek huiwerig aan.
Ja, antwoord Yanni sag. Sy plan pas in ’n groter plan, wat pas in ’n ander een en dié pas in een wat groter is. Maar nie één word bedink nie. Die orde wat jy sien is ’n illusie op die buiterand van hierdie onmeetlike, onkeerbare onophoudelike chaos.
Yanni staan op en stap weg die chaos in.