Oktoberfest
In die hart van die herfs
gooi München haar feestente oop
vir ‘n rasegte Duitse gefuif.
Dorstiges sit bankvas om lang tafels
al singende wieg die rye
op die maat van oempa-orkeste.
Die biere uit Beiere staan skuimkop
en bekers loop oor van plesier
koues en goues word by die armsvol aangedra
deur blosende Mädchens in volksdrag,
hul vlasblonde hare onskuldig
in outydse vlegsels gebind.
Die gees is gemütlich
en die sedigste damen und herren
word lewensgenieters.
‘n Kermiswiel draai in die naglug
met liggies soos dansende torre,
‘n gejil hits die statige Mösl aan
om astrant teen die oewers te klits.
Op podiums ruil die orkeste.
‘n Nuwe brigade tree aan
in halfmas-leerbroeke,
kruisbande, wit hemde en kniekouse,
elk met ‘n vrypostige veer in die hoed.
Dan skal die musiek:
trompet, klarinet, tuba en tromboon
gaan hulle lustig te buite
tot lof van die oempa.
Die oudstes van dae gee hulle oor
aan die nou en die hier –
nog ‘n kans, dalk die laaste,
om die lewe tot op sy droesem te vier!
© Zandra Bezuidenhout, 2022
