Nuovo Mondo
Die aarde gee geboorte aan ‘n nuwe hemel.
Haar baringstem raak hees en resoneer tot
swewings wat verby die stratosfeer tot daar
anderkant die ewigheid se einders deur die
ongerepte klankgrens tril. Frekwensies van
haar ongedane adhan word in ‘n kosmiese
ossiloskoop vibrasies van ‘n sinoïedale golf.
Met sonsopkoms oor Hirosjima hoor sý die
ewigheid, die swye van planete en getalle
wat hulle asems vir ‘n stille oomblik ophou,
afwagtend op die dreunsang van die gode
vanaf hul vergeleë grondstasies in die nag.
Daar puls ‘n heilige metrum in die reëlmaat
van die omwentelings van konstellasies in
die uithoeke van infiniteit, in ‘n ongedanste
ritueel van nalewe en nadood, van niks en
als wat is en was en nog sal wees. En ons,
die primitiewe wesens vanaf die weerlose
en bleek planeet, word uitgelewer aan die
verste lugstasies waar infinitesimaalrekene
gebruik word om die nuwe hemelruim te yk.
Swewend oor die aarde, wat woes en leeg
soos ‘n verlate vaartuig in die niet bly hang
terwyl ‘n klok weerklink en die stem van ‘n
ouman saggies sê “laat daar weer lig wees”.
© Mellet Moll, 2022