Uurwerk
Vir Stephen en Jane Hawking
Ons sal die uurwerk eendag omdraai
en in die tydkapsule sal ons terugkeer
na die oorsprong van ons kontinuum.
Ons sal momente in daardie ruimtetyd
sien terugspeel na die ongerepte bron
toe ons nog onverdeelde selle in die lig
van ongebore ewighede was. Ons sal
die inploffing van heelalle en embrio’s
aanskou, en ons sal ongeskonde soos
die dag voor ons ontmoeting wees, jy
sal terugkeer na jou lewe soos dit was
en ek sal met die voetpaaie gaan loop
tot waar die kloktoring geduldig waak
oor die vlietende geskiedenis van tyd.
© Mellet Moll, 2022