Franco Colin. Breinskandering

 

Breinskandering

 

Doller as kopaf kan dit beslis.

Die deure swaai oop en voor my stoel

‘n guillotine met ‘n grootheidswaan:

‘n Gemotoriseerde bed voer my kop

vir die meganiese smoel van die masjien.

Met ‘n dreunende getrommel smul

die ondier aan my murgsagte misterie,

spoeg wit en swart selfies van my harsings,

pure porno vir neuroloë.

Die onsigbare word sienderoë verbeeld

deur megamagnetisme wat atome

laat rondomtalie. Ek soek verbysterd

deur die abstrakte ekspressionisme

van neuro-anatomie, vind geen taal

of tyding van siel of woord of vers nie:

Sonnette tol nie in magneetvelde nie;

kwantumfisika ken geen gebede,

geen metafore nie.

 

© Franco Colin, 2022

 

Bookmark and Share

Comments are closed.