Gaston Bachelard: In ruimte, tyd en materie
i.
en dáár, onder die bome, het ons gesit
jy het my van Rilke vertel –
en dat die bome manjifiek is, maar tog,
dat die ruimtes tussen die boomtoppe
’n verhewenheid het, dat dit saam met
die bome groei, dat dit waardiger word
soos wat die krone bejaardheid bereik
ii.
en ons het die bome opnuut ingeasem,
die vars lug was ons portaal na vryheid
waar ons gewandel het tussen hemele,
toe die tyd ’n onsterflike pelgrim deur ’n
realm van gedroomde voorlewens was
en ons het die suurstof statig verwissel
om ons oneindigheid self te kon ervaar
iii.
totdat die water in vloed met die spruite
en strome hulle eindbestemmings vind
in die dieptes van ’n anonieme oseaan
waarin ons kon vertoef en ons innigste
geheime met die water kon deel, en die
fonteine ons weer daaraan herinner het
dat ons die aarde aan die water herken
iv.
ek was ’n kind wat die onblusbare vuur
van die verlede met wye oë kon ervaar,
ek het aanhoudend bly voortbeur, weg
van die eksistensiële vlamme en gesien
dat alles agter my drome was, dat alles
om my net oomblikke was, en dat alles
voor my helder was deur ’n tydlose lens
v.
daarná wou jy my van Baudelaire vertel,
jy het gesê hierdie alledaagse skouspel
was die simbool van ons eie grootsheid,
en die konvergensie van die verbeelding
van twee verlore mense is ’n voorspraak
van die poëtika van onverkende ruimtes
in die doolhowe waarin ons twee dwaal
vi.
en toe terug onder die bome het jy vir my
’n huis gaan wys, vol ongeleefde lewens,
en ’n stilte waarin ons onsself verloor het
jy het gesê poësie is net die verrekening
van die drome wat langs die pad verruil is
en dat ons ons enigheid tussen die mure
en die rame en die plafonne kon bewaar
en jy het vir my ’n skoon vel papier gegee
en gesê eendag sal ek verstaan waarom
© Mellet Moll, 2022