Trienke Laurie. Flip van der Westhuizen
Flip van der Westhuizen
Ek sien die vloedfliek van die brug.
As spoorwegman sê hulle my aan:
“Keer weg die treine,
rangeer hulle uit die dorp.”
Daardie rampdag sien ek
die treinbrug keer vereers die watervloed;
die brug word ʼn damwal.
Laingsburg is sowaar gebou
reg in die rivier se pad.
Ander kere het seuns met skuite afgeroei
in die strate parallel met die rivier.
Hierdie keer het hulle sy stootkrag onderskat.
Op die rampdag vloei saam met die Buffel
ook die Wilger -en die Baviaans-.
Teen vyfuur krom die Buffel sy skof
met ‘n drukte van tonne water per sekonde
en ʼn oorverdowende gebulk,
gaan dit rof, voel ek om te vlug!
Die opvulwalle kalwer weg, gee mee
en die rivier maak see.
Toe die treinbrug knak, het ‘n wolk pikswart
oor Laingsburg kom hang.
Die breekspul het ‘n suigaksie laat ontstaan.
Mense was op dakke vasgekeer
maar toe word kleihuise meegesleur,
val dak na dak na dak en,
wanneer die huis val
ontplof dit in ʼn wolk stof.
Hier onder my is alles leeg- weggeveeg!
Nie eers die beste swemmer sou oorleef.
Net ‘n effense reën en ek onthou –
veral ook die aand dit was ‘n donkermaan…
Ek gaan haal my vrou waar sy werk in die hotel
maar ek raak vir my eie hande bang,
terwyl geen maantjie hang.
By ‘n huis gly ʼn vrou uit
op die water uit dieselfde huis,
ook ʼn reuseteddiebeer op ʼn sponsmatras.
Jy sien die dinge gebeur, is magteloos,
geen mens kan gaan help nie.
Stemme roep uit, word stil…
Wie sou kon dink hoe swaar en wreed
ʼn reën kon wees, so wreed
dat ek nie meer oor reën kan juig nie
maar bang word as dit mot.
© Trienke Laurie, 2022