In memoriam: De Waal Venter (7 Mei 1942 – 20 Maart 2022)

 

De Waal in die berg maak of hy nie moeg is nie*

 

Die skrywer, digter en dramaturg De Waal Venter is 20 Maart onverwags na ’n kort siekbed oorlede. Alhoewel Venter reeds sedert skooldae skryf en pryse vir sy jeugwerk verower, vestig hy hom die volgende 56 jaar van sy lewe as ’n aktiewe rolspeler in die literêre gemeenskap. Sy veelsydigheid as digter, vertaler en skrywer van jeug-, kort- en radioverhale is welbekend. Hy word ook onthou as die draaiboekskrywer van die televisiereeks, Die seders van Lebanon (1987.) Kortom: Daar is feitlik nié ’n genre waaraan Venter nie sy hand gewaag het nie. As skrywer het hy met oorgawe sy liefde vir letterkunde uitgeleef en ook sy eie blog bedryf (Poetry en poësie De Waal Venter https://inmogale.wordpress.com). Venter se laaste inskrywing op die blog is vier dae voor sy dood gedoen.

Philippus Arnoldus de Waal Venter is op 7 Mei 1942 in Pretoria gebore. As gevolg van sy vader se beroep as polisie-offisier word hy gereeld verplaas en moet die gesin dikwels verhuis. Venter woon ses verskillende laerskole aan die Witwatersrand by voor hy in 1959 matrikuleer aan die Hoërskool Monument. Venter het uitgeblink as akademiese leerling (en op die gebied van sport) en ná skool ingeskryf as mediese student aan die Universiteit van Pretoria. Na drie jaar staak hy egter sy studies en sluit aan as klerk by die Staatsdiens.

Gedurende hierdie tyd studeer hy deeltyds verder aan die Universiteit van Pretoria en ook aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy onder meer vakke soos Frans, Duits, Afrikaans-Nederlands, Engels en Wysbegeerte neem.

In 1965 aanvaar hy ’n betrekking as assistent-redakteur van SARP, die amptelike nuusblad van die Suid-Afrikaanse Polisie. Sy literêre loopbaan skop af in Junie 1966 waartydens hy een van die stigterslede asook die redakteur van die tydskrif Wurm word – saam met Jeanne Goosen en Menno Stenvert. Skrywers soos D.P.M. Botes, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Marié Blomerus, Wilma Stockenström en Wopko Jensma was gereelde bydraers tot hierdie tydskrif. Volgens dr. G. Brits, in sy waardering van Venter se oeuvre op Versindaba, was die skrywer ’n rigtinggewer in ’n vroeë Afrikaanse avant-garde beweging wat ’n deel van die destydse Afrikaanse literêre toneel wou transformeer en ’n nuwe digtersmentaliteit wou aanmoedig.  (https://versindaba.co.za/tag/vertalings-deur-de-waal-venter/?fbclid=IwAR2UounoIvo9G4ZXG30GqxZntxbTksuSp_0B9s1lN0-f2gq2Wbiw0NcAQHA)

Venter het in die redaksionele kolom gewaarsku dat Wurm “baie skerp kon optree teen dié dinge wat hulle ongesond vind”, of, soos ander medewerkers dit gestel het, ’n optrede téén te veel ”broederlikheid” en “verstarring” in literêre tydskrifte. Venter se rol in die eertydse little magazines durf nie onderskat word nie.

In 1968 aanvaar Venter ’n betrekking in Johannesburg as reklameskrywer en in 1969 word hy aangestel as omroeper-regisseur by die Afrikaanse Diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Hy is die pionier van ’n nuwe program, “Die taal wat ons praat” wat vir jare daarná steeds sou voortbestaan as “Die tale wat ons praat”. Op 11 Januarie 1969 tree hy in die huwelik met Erla Louw, ’n arbeidsterapeut, en vier kinders word uit die huwelik gebore. Die gesin vestig hulle in Florida-Noord en later in Noordheuwel in Krugersdorp.

In 1970 keer Venter terug na die advertensiewese as kopieskrywer waar hy die res van sy lewe deurbring en betrokke raak by forums wat reklame- en joernalistieke werk bevorder. Hy bied verskeie radioprogramme aan, onder andere op Punt Geselsradio (1999), asook ’n poësieprogram op Radio Suid-Afrika. Hy word onthou as begaafde tekenaar en fotograaf; sy skryfkuns is dikwels begelei met prikkelende illustrasies (“fotografikas”), soos dit ook voorkom in byvoorbeeld die werk van die Duitse skrywer W.G. Sebald of Breyten Breytenbach.

Na Venter se aftrede in 2000 word hy ’n fotograaf en doen vryskutwerk vir reklameagentskappe en ander kliënte. Hy betree die politiek en word in 2011 verkies as ’n Demokratiese Alliansie-raadslid in die munisipale raad van Mogale City (Krugersdorp). Na sy uittrede in 2016 skryf hy voltyds. Hy en sy vrou verhuis in 2020 na Muizenberg waar hulle ’n huis deel met hulle dogter en skoonseun, die skilder Peter van Straten. Die bekende akteur Louw Venter is De Waal Venter se seun.

Alhoewel Venter se moedertaal Afrikaans was, het hy ook graag in Engels gedig, met ander woorde as “dubbeltalige” individu, maar eentalig met twee kommunikasiestelsels – of, soos Venter tereg opgemerk het: “Many of my poems are created in (both) Afrikaans and English and coexist in the two languages”. Hiermee sluit hy aan by die tradisie van Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, Herman Charles Bosman en andere, wat almal ’n Suid-Afrikaanse dubbeltalige literêre tradisie beoefen het. In 2010 verskyn sy Engelse digbundel, Entangling states of mind in beide ’n sagteband-uitgawe wat op aanvraag gedruk word, asook ’n elektroniese kopie daarvan.

Die digter De Waal Venter het oor ’n wye spektrum onderwerpe gedig, maar sy digterlike fokus was dié van ’n natuurfilosoof, met sy wortels in die wetenskap, soos dit uitdrukking vind in sy jongste bundel, Vrugbeginsel (2021). Sedert sy digdebuut in 1965 met Kiem; Klawer (saam met Menno Stenvert en D.P.M. Botes (1966) en Pols (1977) ondergaan die digter ’n leerkurwe – en verskyn sy bundel, Oop sirkel (Naledi, 2017) vier dekades later. Venter het oor ’n sekere literêre robuustheid beskik wat vele skrywers hom kan beny. In sy resensie van Oop sirkel skryf Bernard Odendaal op Versindaba (Oktober 2017) die volgende: “Redelikheid, emosionaliteit en sintuiglikheid as fasette van, uiteindelik, dieselfde menslike belewing; wetenskap, filosofie en kunsbeoefening – dié instrumente of vermoëns word uitgebeeld as ewe openbarend van die wonderlike en dikwels onvoorspelbare bestaansdimensies wat vanuit die alledaagse te beleef is. Die belangrikste voorwaardes blyk ’n beskoulike en belewingsoopgesteldheid, en ’n wil tot (self-)ontdekking te wees.”

“De Waal Venter se digbundels was te dikwels verwaarloosde boeke in die verskroeiende son van die literatuurkritiek,” takseer Daniel Hugo Venter se jongste bundel, Vrugbeginsel in sy resensie op LitNet (17 Februarie 2022), wat inderdaad ook as gunstige inskatting van Venter se hele dig-oeuvre gelees kan word. Twee dae later verwys Joan Hambidge op Versindaba na Hugo se resensie as ’n voorbeeld van die herkanonisering van De Waal Venter se werk. (https://versindaba.co.za/2022/02/19/joan-hambidge-herkanonisering-3/)

Die digter was ook ’n vertaler van formaat wat poësie uit verskillende Europese tale kon vertaal.

In 2019 sien Vandag is boordensvol die lig, ’n bundel gedigte van die Nobelpryswenner Pablo Neruda, wat Venter uit Spaans vertaal. In 2020 verskyn Alles keer om, gedigte van die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer wat Venter eweneens uit Sweeds vertaal. In 2020 bekroon die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Vandag is boordensvol met die Akademie se vertaalprys. Venter was direk voor sy afsterwe besig om te werk aan ’n bundel vertalings (uit Spaans) van die Meksikaanse digter, Octavio Paz.

Op die vlak van literatuurteorie het Venter sy duimafdruk in die vorm van ’n idiolek gelaat. In sy selfrefleksiewe metapoësie het hy die digterlike skepping gesien as uitdrukkings van die onbewuste wat hy “poësons” genoem het. ’n Poëson is ’n sisteem wat met ander sisteme in die gedig (poësons) saamwerk en waaraan die rasionele ondergeskik is.

Venter se verse is in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitend Groot Verseboek en Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, asook Goudaar, S.A. in poësieGroenPoskaarte en Woordreise. Hy publiseer verskeie gedigte in tydskrifte insluitende WurmSestigerStandpunte en Tydskrif vir Letterkunde.

De Waal Venter het nie teruggedeins vir gesonde polemiek nie. Hy sal onthou word vir sy gereelde bydraes as digter, vertaler, blogger en kommentator op verskeie webblaaie; vir sy ruim oeuvre en sy rustelose kreatiwiteit wat uiting gevind het in die velerlei vertakkinge van die literatuur.

 

Publikasies:

1965    Kiem (poësie)

1966    Klawer (saam met Menno Stenvert en D.P.M. Botes: poësie)

1977    Pols (poësie)

1979    Plekkie in die son (televisiedraaiboek)

1980    Louwtjie help soek (jeugverhaal)

1984    Die vyf-millimeter-avontuur (jeugfiksie; wetenskapfiksie)

1985    Hoeveel tone het ’n bobbejaan? (drama)

1987    Die seders van Lebanon (televisiedraaiboek)

1988    Vyfff (wetenskapfiksie)

1990    Oop toe (kortverhale)

1992    Mieg se kort en lang middag (jeugverhaal)

1994    Die weghollers van Teev (wetenskapfiksie)

1994    Swaartekrag een komma een (jeugverhaal; wetenskapfiksie)

1995    In die klein woud (jeugverhaal)

2004    The Great Stir Trial (jeugverhaal)

2009    Die blombroers (radiovervolgverhaal)

2010    Entangling states of mind (poësie)

2017    Oop sirkel (poësie)

2019    Vandag is boordensvol (poësie: Pablo Neruda, vertalings uit Spaans na Afrikaans)

2021    Alles keer om (poësie: Tomas Tranströmer, vertalings uit Sweeds na Afrikaans)

2021    Vrugbeginsel (poësie)

 

 – Nini Bennett

 

Verwysings:

https://versindaba.co.za/tag/vertalings-deur-de-waal-venter/?fbclid=IwAR2UounoIvo9G4ZXG30GqxZntxbTksuSp_0B9s1lN0-f2gq2Wbiw0NcAQHA

https://af.wikipedia.org/wiki/De_Waal_Venter?fbclid=IwAR1Z-6_Ws5fz3gSa4aam4JWlsOB8kFpBoydAs9zG0DlmOF4woiMSO0HFZ-Y

 

* Venter het die foto (sy eie onderskrif) onlangs aan Helize van Vuuren gestuur. Hier gepubliseer met haar toestemming.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “In memoriam: De Waal Venter (7 Mei 1942 – 20 Maart 2022)”

  1. Marlise :
  2. Piet Smit :

    die laaste twee letters moet uit
    – anders stuit mens op TT Cloet