Vlug uit Oekraïne
By ’n stasie êrens in Pole
skuifel die lokomotief
grinterig in en stop –
laat ons met ’n koffer
winkelsak en ’n pop
op ’n krioelende perron
– ons wag, dis koud
geen skote nie
Al die stampvol treine
sonder sit- of staanplek
het later al vertrek
sonder ons, na wie-weet-waar
Ek staar teen die twee spore op
tot daar ver
waar hulle by oneindigheid ineenloop
’n vraag wat sy antwoord ontmoet
en daarmee wegsink agter die horison
nes asof ek nie hoef te weet
of die brood in my winkelsak
met Russiese meel gebak is of nie
© Anton Dockel, 2022