Die gepantserdes
By die ingang van die winkelsentrum staan ‘n wag
met sy geweer, en sy rug na ‘n gepantserde geldwa.
Soos altyd onthou ek die dag toe my ma
langs my haar asem skerp intrek –
my ma, die plaasvrou wat die stad
net van enkele besoeke ken
bevind haar skielik in ‘n rooftog,
in die ewige Suid-Afrikaanse repetisie daarvan,
en ek paai, toemaar Ma, dis net
‘n doodgewone afleweringstransaksie,
ek het die gepantserde met sy geweer
soos ‘n skewe kruis voor sy bors
nie eers raakgesien nie.
Ek steur my nie aan hulle nie.
Sedertdien, skaam vir my wêreldwysheid,
neem ek doelbewus notisie,
en sedert Oekraïne al hoe meer,
van al die lande waar gepantserdes
met skewe kruise staan en niemand
hulle daaraan steur nie.
©Marieta McGrath, 2022