Nostalghia herbesoek, 2020
i.
Die pendulum swaai stadiger as vroeër
soos die metronoom wat die lewe wieg.
Sy seun verbeeld dít op die silwerdoek:
’n Man haal ’n aansteker uit en steek ’n
kers aan: eers die derde keer brand dit.
Hy loop veervoet in ruïnes met sy vlam
waar voorheen nog ’n mineraalbad was.
Die water drup en ’n vroegoggendbries
laat die brose kers fletter en flets en hy
neem die treë versigtiger én versigtiger.
En dan vergaan sy vlam en só begin hy
weer; en weer; en weer; en nog ’n keer
om die vlam tot by die anderkant te kry.
Domenico het vir hom gesê dis hoe die
einde van die pandemie plaas sou vind.
En hy, die digter, dink aan hóé dit voor-
heen was; onthou die ruimtes wat wyd,
en oop, en onbevlek bly wag het op sy
blik; die liefde wat gemasker was in sy
vier mure; sy vier mure; met WhatsApp
wat alleen tussen hierdie mure opklink.
Nog ‘n nuusflits uit die wêreld: ’n Video
oor Covid-19 van Dr Fauci op Youtube.
Andrei loop steeds en hou sy vlam styf
vas, asof hý by hierdie feesmaal brand.
Maar van 2020 en die lockdown onthou
hy min:
Hy onthou alleen ’n pendulum se swaai.
ii.
Hy glo nie meer die voorbodes of vrees
nie, hy vlug nie meer vir haatspraak, of
infeksies nie: almal en alles is onsterflik.
Die dood en die duisternis bestaan nie.
En hy het geleer om tyd te meet met ’n
geodetiese ketting, en daardeur gestap
asof dit ’n roete deur die Uralberge was.*
* Die laaste strofe is geparafraseer uit “Life, life” deur Arseny Tarkowski.
© Mellet Moll, 2022
