In ’n gedig is die stelwyse belangriker as die stelling, die woordgebruik is in die meeste gevalle die boodskap self. ’n Digter sê iets op ’n eenmalige wyse wat bepaal word deur die spesifieke eienskappe van sy moedertaal. Die uitdaging vir die vertaler is om dit so noukeurig as moontlik in sý moedertaal weer te gee. Daarom maak dit weinig sin om ’n gedig met gebruikmaking van ’n tussentaal soos Engels te vertaal. In daardie vertaling het reeds veel verlore gegaan – dinge wat die vertaler soms kon kompenseer met eie vondse.
Klank is die essensie van die digkuns. As die vertaler nie weet hoe die oorspronklike vers klink nie, kan hy ook nie ’n bevredigende ekwivalent in sy doeltaal vind nie. Hy sal die klank (rym, metrum, ritme) van die tussentaal, en nie van die brontaal nie, probeer naboots – iets wat doodgewoon absurd is.
Vertaling behels baie meer as om leksikale sinonieme tussen twee tale te vind. Daar ontstaan ook ’n wisselwerking tussen kulturele uitingsvorme: idiome, simbole, intertekste, allusies, woordspel, taboe’s, omgangsvorme, taalregisters, ensovoorts. Die Engelse vertaler maak dit herkenbaar vir sy lesers óf in Brittanje óf in Noord-Amerika óf in Australië óf in Suid-Afrika – gebiede waar nie net die Engelse taal nie, maar ook die verwysingsvelde van die lesers grootliks verskil.
Die tweedehandse vertaler wat van ’n brugtaal gebruik maak, het dus reeds met ’n teks te doen waarin kulturele transponering vir ’n spesifieke nie-Afrikaanse gehoor plaasgevind het – wat hy dan opnuut moet aanpas vir sý lesers. En hoe ver het dit dan nie beweeg van die Chinese, Arabiese of Russiese bronteks nie? Onaanvaarbaar ver, is die eenvoudige antwoord.
Na my wete is daar in die Westerse digkuns net een uitsondering op die professioneel aanvaarde praktyk dat direk uit die brontaal vertaal moet word, naamlik Die roebaijat van die Persiese digter Omar Khajjam (1048-1131). Die gekanoniseerde bronteks waaruit wêreldwyd al vir meer as ’n eeu-en-’n-half vertaal word, is Edward FitzGerald se Engelse omdigtings van 1859. Dit word algemeen aanvaar dat die literêre kwaliteit van FitzGerald se kwatryne veel hoër is as dié van die Persiese wiskundige en wyndrinker. FitzGerald se vertalings adem ’n eksotiese Oosterse sfeer, maar verwoord in wese die wêreldbeskouing van ’n rebelserige Victoriaan. ’n Klassieke voorbeeld van kulturele transponering.
Deesdae is dit vir die Afrikaanse vertaler nie eens meer nodig om ’n Engelse vertaling as brug te gebruik nie; Google kan binne sekondes ’n redelik betroubare weergawe verskaf uit byna enige taal op aarde. Om ’n aanvaarbare Afrikaanse gedig daarvan te maak is ’n klein kunsie, as jy die nodige poëtiese aanleg het. ’n Masjien het uiteraard nie die vermoë om talige klankeffekte te verreken nie, net so min as wat die tweedehandse vertaler ’n idee kan gee van die klankeienskappe van die oorspronklike gedig.
In die guns van die masjien kan darem geopper word dat dit uit die oorspronklike taal vertaal. Literêr gesproke staan die masjien dus eties op ’n hoër vlak as die hoorsê-vertaler.
As die enigste kriterium is dat die vertaling ’n gedig in eie reg moet wees en daarom nie getrou aan die klankpatroon, suggesties en betekenisnuanses van die bronteks hoef te bly nie, kan die produk nie werlik ’n vertaling genoem word nie. Dan is dit ’n verwerking of herskepping – waarteen ek geen beswaar het nie. Ek sou nie dié soort herskrywings van Chinese en Japannese gedigte deur onder andere Phil du Plessis en M.M. Walters wou mis nie. Maar vertalings in die streng sin van die woord is dit beslis nie.
Du Plessis en Walters was nie professionele vertalers nie, maar digters wat inspirasie by anderstalige kollegas gekry het vir hul eie skeppende werk. As die tweedehandse vertaler egter nie ’n erkende, gevestigde digter is nie, kan hy ongelukkig nie op enige professionele status aanspraak maak nie – nóg as vertaler nóg as digter. Dan is sy produk bloot die tydverdryf van ’n amateur.
Regstreekse vertaling uit die brontaal het ’n veel hoër status in die literêre sisteem as tweedehandse vertalings. Vir die laasgenoemde is daar geen amptelike subsidies beskikbaar nie en dit sal ook nooit deur pryskomitees vir bekroning oorweeg word nie. Wanneer sulke vertalings in ’n bloemlesing opgeneem word – soos in André P. Brink se Groot verseboek van 2008 – beskou die bloemleser dit klaarblyklik as ’n onmisbare deel van die digter se eiesoortige oeuvre. Dit kry dan die status van oorspronklike skeppende werk.
’n Vertaler wat tevrede is met ’n tussenvertaling of ’n masjienproduk as die grondslag vir sy eie poging, het nie respek vir die poësie as ’n taalspesifieke en unieke uiting nie. Hy misken ook die opwindende talediversiteit op aarde. Hy buig voor die twee groot gelykmakers van ons tyd: Engels en die inligtingstegnologie.
In die kol, Daniel.