GRETA THUNBERG
Die kind is nie stil nie,
die kind sit met ’n plakkaat
– SKOLSTREJK FÖR KLIMATET –
voor die Sweedse Parlement
vir die Aarde en lewe.
Die kind verhef haar stem
teen die leiers van die wêreld
in die optog van die kinders
deur die strate vir geregtigheid
en die bloed van die spesies.
Die kind is nie stil nie:
nóg in Stockholm, nóg in Nairobi,
nóg in New York, nóg in São Paulo,
nóg in Kampala, nóg in Glasgow
waar die kinders uitskreeu.
Die kind is die skadu van die heersers
op dreef met fabrieke, damme, kragstasies,
slagplase, snelweë, vliegtuie wat die lug deurkruis;
die kind is teenwoordig by vergaderings en konferensies;
die kind kyk in by die gierige agendas.
Sonder ’n jeug.
© Johann Lodewyk Marais, 2022
Ingrid Jonker se kind is nog nie vry, veilig of gelukkig nie.
Met dank aan Ingrid Jonker, zij blijft inspireren.