Mellet Moll. Nuovo Mondo

 

Nuovo Mondo

Klaus Schulze & Lisa Gerrard

 

Die aarde gee geboorte aan ‘n nuwe hemel.

Haar baringstem raak hees en resoneer tot

swewings wat verby die stratosfeer tot daar

anderkant die ewigheid se einders deur die

ongerepte klankgrens tril. Frekwensies van

haar ongedane adhan word in ‘n kosmiese

ossiloskoop vibrasies van ‘n sinoïedale golf.

 

Met sonsopkoms oor Hirosjima hoor sý die

ewigheid, die swye van planete en getalle

wat hulle asems vir ‘n stille oomblik ophou:

afwagtend op die dreunsang van die gode

vanaf hul vergeleë grondstasies in die nag.

Daar puls ‘n heilige metrum in die reëlmaat

van die omwentelings van konstellasies in

 

die uithoeke van infiniteit, in ‘n ongedanste

ritueel van nalewe en nadood, van niks en

als wat is en was en nog sal wees. En ons,

die primitiewe wesens vanaf die weerlose

en bleek planeet, word uitgelewer aan die

verste lugstasies waar die relatiwiteitsteorie

gebruik word om die nuwe hemelruim te yk:

 

Swewend oor die aarde, wat woes en leeg

soos ‘n verlate vaartuig in die niet bly hang

terwyl ‘n klok weerklink en die stem van ‘n

ouman saggies sê laat daar weer lig wees.

 

© Mellet Moll, 2022

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*