Resensie: “Skeletaal” (Franco Colin)

 

Resensie: Skeletaal deur Franco Colin. Imprimatur, 2022. ISBN 978-0-620-98084-5

Resensent: Joan Hambidge

 

Debuut van ‘n sielearts

 

I

In die lang galery van beduidende gay-digters soos die latere Ernst van Heerden, Hennie Aucamp, Stephan Bouwer, Johann de Lange, Marius Crous, Loftus Marais, Fourie Botha, o.a. kan Franco Collin se debuut Skeletaal gevoeg word. Die “vreemde liefde” is nou bekend aan alle lesers. Onlangs is S.J. Naudé se Dol Heuning, ‘n bundel waarin die gevaarlike en makabere ontgin word, bekroon met die Hertzogprys.

Sewe van Colin se verse is opgeneem in Nuwe stemme 6 (2017) en twee verse is opgeneem in Maskers en mure (2021). Van sy verse is ook gepubliseer op LitNet en Versindaba.

Hierdie is dan die solodebuut.

 

II

In ‘n vers word Roland Barthes aangehaal: One cannot write after a hedonist. – Graham Allen Ná Pres.

En die vreemde dood van Barthes doodgery deur ‘n wasgoedlorrie. Barthes se veelkantige en veelstemmige tekste word vir hierdie leser geaktiveer in “Die dood van Roland Barthes”:

 

Die bourgeoisie het ook hóm

geassimileer en naamloos

na die Salpêtrière vervoer.

Die outeur is dood.

 

Hierdie debuut werk met mediese en psigiatriese kwessies, met verwysings na kunswerke, met herinneringe aan die jeug en die soeke na ‘n identiteit. Daar is portretverse oor bekendes. Lykdigte ook en herinnerinsgverse oor die jeug en ouers.

Barthes se “The death of the author” (1967) moet egter binne ‘n strukturalistiese konteks gelees word en die latere Barthes het hierdie reëls van die spel oortree.

“All this must be considered as if spoken by a character in a novel”, skryf Barthes in sy outobiografiese-biografie Roland Barthes deur Roland Barthes, daardie baken uit 1977. Lesers is eweneens bekend met Laurent Binet se  The 7th function of language wat in 2017 verskyn het. Is Barthes werklik deur ‘n wasgoedlorrie (per ongeluk) raakgery of is hy vermoor? Hierdie leser dink dat ‘n bundel soos Skeletaal hierdie kodes aktiveer. Die digter verneem ons is psigiater en volgens die agterblad:

Hy tree gereeld op as forensiese psigiater en het ’n bekende gesig geword deur sy kundige kommentaar in Katinka Heyns se reeks ’n Lewe met

 

Die epiteks is uiteraard belangrik, omdat dit kodes gee vir die lees van ‘n bundel.

Op die voorblad:

Vooraansig van ’n man met die vel van sy regterarm en -been in sy hand, Giulio Bonasone, sestiende-eeuse gravure.

 

III  Die grein van die stem

‘n Afdeling heet Spraakkamer. Die leser voel dikwels asof sy in ‘n spreekkamer sit.

Een van die belangrikste versamelbundels van Barthes is sy onderhoude tussen 1962 en 1980 waarin hy die siening oor die stem in al sy vorme beskou: die anonieme stem en natuurlik: die stem van die kreatiewe persoon. Barthes se analise van Balzac in S/Z illustreer hoe behendig hy tussen vlakke kan beweeg.

Ons vind in hierdie bundel portretverse, maar ook gedigte oor afwykendes: pedofiele, loervinke, transvestiete, lykskenders, ontbloters, sado-masochisme en die hele santekraam.

So die psigiater verwerk sy ellendes en ervaringe.

 

Naas(te)liefde: Lykskender

 

Tuis verswelg die hitte van vel teen vel.

Die dodehuis skeld alle verwyte kwyt.

Die gewillige ontslapene vel geen oordeel,

weier niks. Wat bly is slegs ysige respyt.

(71)

 

Die grieselige is onder andere bekend aan die digkuns van De Lange (Jeffrey Dahmer) en Marius Crous. Veral by laasgenoemde word die abjekte ontgin.

 

IV Om die ligaam te skryf

 

To write the body.

Neither the skin, nor the muscles, nor the bones,

nor the nerves, but the rest: an akward, fibrous,

shaggy, raveled thing, a clown’s coat (aldus Barthes in ‘n motto).

 

Die vleestekens is vir hierdie digter ‘n belangrike gegewe.

By Barthes (en vele teoretici oor gender) handel dit oor die sogenaamde dialoog tussen die heteronormatiewe wêreld en die gay-bestaan. Hierdie spanning skep gedigte.

 

Gryser, met sy oog van die loep geskei,

krap die man nou kop oor binnegoed

wat hy, verby die kamoeflage van fatsoen,

pak in die karapaks van ’n kwatryn.

(“Loep”, 13).

 

V Ten slotte:

Skeltaal versus skeletaal. Verhewe versus kitsch. Die skelet van denke.

Die digter navigeer die hebbelikhede en sondes van die moderne samelewing: van spermbanke tot bloubul-manne. Met portrette vir Judith Mason, David Bowie, o.a. Selfs ‘n “Kabaret van die Psigiatriese Kliniek” (81) vir Jeanne Goosen met baie verwysings en toespelings na Jung en Freud. “Selfportret tydens psigose: Vincent van Gogh, 1889” verwys na die “polichrome psigose van die beeld” (78) met ‘n pynlike portetgedig “Unwabo: Wopko Jensma” (77). En ‘n pragvers oor Robin Williams (63).

Die digter het geweldig baie gelees en verre plekke besoek.

Daar staan ‘n handvol beduidende verse in hierdie debuut. ‘n Ontginning van ander stemme in die self sal die pad vorentoe opeis. Inmiddels oorskadu die slimmighede en die psigiater die stem van die digkuns. En hy weet dit alreeds, soos ons lees in ‘n vers vir T.T. Cloete “Wetenskap en priesterskap” (53).

Maar wanneer hy dit presteer, kry ons ‘n pragvers:

 

Psigiater tydens die pandemie

 

Ek staar bo-oor my masker gans en al verstom:

die verborge maskers wat geoefen elke pyn verbloem

waaruit ek normaalweg woord vir woord moet stroop,

is konkreet oor iedere gesig gespan – oop en bloot.

(58)

 

Of in ‘n aangrypende liefdesvers “Liefde in die tyd van aardverwarming” (47). Mooi gesprekke met Breytenbach en Marlene van Niekerk staan ook hier. Mooi gedigte oor ikoonfantome.

Om af te sluit:

 

Vleestekens – Verwarm my by koue as – Spraakkamer –  Deurligtings – Oorskot – …

 

‘n Slim spel tussen vlees/dood en nadink oor die slopende werk as psigiater.

Soos hy skryf:

 

taal: Hier pryk ek nou – ’n snuistery –

teksidermies van dié gewisse slot bevry.

 

Hier gaan nog goeie verse gebeur.

 

*

p.s. Dis Elisabeth Eybers … nie met ‘n z nie (35)

Und Bitte: kan Duitse woorde asseblief met hoofletters gespel word!

 

Bibliografie:

Barthes, Roland. 1975 / 1977. Roland Barthes. Londen: The MacMillan Press. (Vertaler: Richard Howard).

–    “The death of the author” in Lodge, David. 1988. Modern Criticism and Theory. Londen: Longman.

–    1985. The Grain of the Voice. Interviews 1962 – 1980. (Vertaler: Linda Coverdale).

–   1970/1974. S/Z. An Essay. New York: Hill and Wang. (Vertaler: Richard Miller).

–  1973/1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill and Wang. (Vertaler Richard Miller).

Binet, Laurent. 2015 / 2017. The Seventh Function of Language. Londen: Harvill Secker. (Vertaler: Sam Taylor).

Bowie, Malcolm. 1987. Freud, Proust and Lacan: theory as fiction. Cambridge: Cambridge University Press.

Ciuraru, Carmela. 2011. A (Secret) History of Pseudonyms. Londen: Harper.

Foucault, Michel. 1979. “What is an author?” in Lodge, David. 1988. Modern Criticism and Theory. London: Longman.

Hambidge, Joan. 2018. Die allegorie van lees versus die skilpoppe van interpretasie.

Steiner, George. 1978. On Difficulty and Other Essays. New York: Oxford University Press.

Artikels:

Lacan, Jacques. 1956. “Fonction et champ de la parole et du langage en psycanalyse”. Psychanalyse I (1956), 81 – 166.

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*