Die sneeu, die ewige
met my voete stampende vir warmte,
in die sneeu,
die ewige.
- Wisława Szymborska
Wisława, ek snap die ding van Bruegel se ape.
Ook hier voor my studeerkamervenster is hulle geketting
aan ʼn Jackson Pollock-bos, rinkel hulle
hul kettings
wanneer ek nie weet
wat komende is. Maar die ding van die sneeu,
dit begryp ek nie. Ek meen, al hierdie versluierde geweld
waarmee die aarde uitsigloos en sigloos
word te midde van
die wit wat als bepaal –
Krap jy dit weg, vind jy nogeens die krugrond
genadeloos onder al hierdie verydelings, onder die soveel
gekristalliseerde water
met kettings wat altoos deur ape
gesleep word
deur die kreupelbos van ons kastige onverblyf.
Nogtans, Wisława. Dit bly nietemin te verstane, of hoe,
soos ek met my voete stampende
vir warmte,
want onder die sneeu,
die uiteinde van ons heenkome, hierdie strakke
eindgrond waar ʼn aap sy ketting
aanhou krink wat nie weet waarom nie
of waarheen?
© Louis Esterhuizen / Junie 2022
‘n Slim gesprek met Szymborska wat die leser laat nadink: miskien is daar ook twee Yeti’s in die Himalajas wat neerkyk op die wêreld en die kettings trek afhangende van die mensdom se gedrag. Szymborska vertel aan hulle dat die mensdom mooi oomblikke kan skep. Die digter vra hierbo “werklik?”.