Nuusdekking: Julie 2021
En hulle gaan nie bly nie: hulle gaan mishoop word,
en óns almal saamsleep na die mishoop.
NP Van Wyk Louw
In KwaZulu-Natal se shopping centres
breek die wal, spoel die honger oor geteëlde vloere,
skarrel in alle rigtings, deur elke hoekie of kraak,
aas wat te ase is in ʼn geskal
van wanorde.
Die besem bly toegesluit agter verskuilde deure,
die slopemmer hang dronk aan hake van ʼn onbelang,
die insekdoders onwillig, afwesig selfs,
in hierdie aanmars van toe-
eiening –
TV-stelle, skottelgoedwassers, rekenaars, ketels,
hangmatte, sitkamerstelle, kombuisware, linne-
en beddegoed, horlosies, brand name tekkies, en
juweliersware, klere, fotografietoerusting, storm,
slop, gly en val
in gebreekte bottels kookolie
onderweg
na bakkies, karre, dakhoog gelaai, met trollies,
waentjies, taxi’s, busse en wat nog –
in alle windrigtings
spat hulle met hul winskoop
uiteen.
*
Toe brand hulle alles af: winkelsentrums, skole,
hospitale, fabrieke, pakskure – oraloor,
die werksplekke
waar niemand werk nie.
*
Langs die N3 tussen Durban en Jo’burg staan
brandend soos fakkels langs ʼn aanloopbaan die rye
karkasse van gestroopte goederewaens,
klippe is gegooi, skote geskiet, mense is dood,
maar die blokkades is dankievader
beman
vir wie ook al opdaag
in die uur anderkant voorsorg
en rede.
*
Toe daag die ambulanse op met hul jubilasie
flitsende ligte, toe word hulle besteel.
*
Toe kom die reën. Dongas spoel wyd en oop
tussen gemeenskappe, geboue sak ineen
op hul knieë in slyk en modder, mense vlug
in mekaar se arms in,
en word beroof terwyl hulle elders
doenig is.
*
Die president swyg, die polisiehoof kyk anderpad,
die ganse mensdom weet: dit is te laat,
die stad se hekke lê oop, daar is nie meer water
in die krane nie, die kragdrade
is gesteel,
riool dam op in slaggate wat eens ʼn pad was –
die hongerte het gekom
om te bly.
*
Toe is daar op al die TV-skerms landwyd ʼn man
met ʼn albatros op sy skouer, ʼn ander een
doop ʼn kat in petrol, steek die dier aan die brand,
swaai dit
bokant sy kop
en gooi die offerande na die groep verslaggewers,
die kameraman skrik, struikel, en almal sien
die grond, onteenseglik rooi
en gelate.
*
Toe dek die beriggewing die gebelgde salmander
uit op mediese parool – in sy vuurpoel,
met ʼn Harvey Wallbanger en sambreeltjie
in die hand, beduie hy na waar,
hoe grusaam, ʼn bebloede fluitjieblaser
vasgespyker
hang bokant die braaiplek, die prisonier grinnik,
daar’s jul kastige verlosser, wil hy sê,
maar toe skakel iemand by Eskom die ligte af.
En in die stikdonker,
of by kers- en lamplig, sit ons
en wonder
na watter grufilm ons pas gekyk het.
Die wat weet, sê nie, die wat sê,
die weet nie.
*
En toe is die krag weer daar,
net betyds vir môre se weervoorspelling.
Hulle wys die mooiweer
en warm
wat elders is.
*
En toe wapper die landsvlag nie meer nie.
© Louis Esterhuizen / Ongepubliseerde gedig, 2023
Moeilik om sulke ontgogeling so te verwoord dat dit weer onthuts, dat die leser opnuut die verstomming beleef. Jy kry dit reg, Louis.