hearing like a bat
… living in the time
between times.
– Linda Hogan
klein speekvlerk draketuig
mitiese dubbeldier ingevoude
sambreel en valskermspringer nagpyl
uit ’n boog wat klank soos sterre oes
jy leef in die gange tussen
die oop mond van die aarde
en sonlig bewaarder
van skemer oorgange
weer en weer golf die naaldprikke
van jou supersoniese polssange in
op timpane van tiermotte
en trominsekte
die geometriese landskap
van jou oorriwwe ’n Fresnel-lens
waarmee jy hoor om te sien
pas in die gevlerkte hangbeurs
glip uit die kou van ’n grot
veer deur die lug seiljag
van donker sneespapier
gooi ’n dun taal uit
jou kom en gaan teruggesmyt
uit die blou eggokamer van die nag
©Susan Smith: Die aarde is ‘n eierblou ark, Protea Boekhuis, 2016