Rakelinks
Pirow Bekker
Pirow Bekker se tiende digbundel word gekenmerk deur beweging, stuwing en vaart, gedra deur allerlei voertuie: van skamelkar en stoomtrein tot hommeltuig en vuurpyl. Wanneer daar stilstand kom, stu die woord verder in odes, gestalteverse en monoloë. Deur alles loop aanrakings, mild van die liefde; of wreed waar die sang versteur word. Soms word die aangeraaktes links gelaat in die magtige bewegings van planeet en uitspansel, van kernreaktor en vulkaan.
Die wêreld is vir die digter steeds ’n speurtoneel waar hy met sy loep die kosmiese en die aardse, die mitologie en die werklikhede van die verlede en die hede kan ondersoek. Die digter in Bekker is nog lank nie dood nie – hy wil soos Homeros weer die muse aanroep en gereedmaak “om in te skeep/ en rakelings langs ’n blinde kus te vaar”.
Oor die outeur
Pirow Bekker, ’n gebore Vrystater, se lewe is so gevarieerd soos sy skryfwerk. Hy het sy loopbaan as koerantman begin, was onderwyser, dosent in Afrikaans en later hoof van die Dokumentasiesentra by die RGN. Op een stadium het hy ’n klein plasie in die Vredefortkoepel as uitvlugplek uit die stad gehad. Hierdie vol en ryk lewe vind neerslag in sy skryfwerk, waaraan hy hom ná sy aftrede in 1979 voltyds gewy het. Op 82 is hy steeds produktief en bly sy dramas, verhale en digkuns verrassend en vernuftig.
[Imprimatur 2022. Prys: R200.00. Formaat: Sagteband. SKU: 9780620982993]