Resensie: Verdeelde stand / Divided stance (Celesté Fritze)

 

 

Resensie: Verdeelde stand / Divided stance deur Celesté Fritze. Hemel & See Boeke, 2022.

Resensent: Nini Bennett.

 

Celesté Fritze is ’n welbekende skrywer. Haar roman, Verlorenkop was op die kortlys vir die ATKV‑prosaprys 2017 asook die Jan Rabie Rapport‑prys (debuutwerk, fiksie) 2017. Sy wen ook die South Arican Literary Award 2018 se prys vir Debuutwerk vir Verlorenkop.. Verdeelde stand / Divided Stance is haar digdebuut, ’n bundel hibriede poësie wat saamgestel is uit die vermenging van tale, kulture, seksualiteite en maatskaplike werklikhede. Die Suid-Afrikaanse samelewing en gebeurlikhede oor verskeie tydvakke heen vorm die boustof vir die bundel. In die persverklaring verneem die leser: “Die Afrikaanse en Engelse gedigte meld aan in die digter se voorkeurtaal vir die tema, stemming of onderwerp en is nie vertalings of herwerkings van mekaar nie. Die digter gebruik die taal van die moeder en die werkstaal van die vader om wydlopende temas soos die omgewing, meertaligheid, tolking, die politieke bestel, die liefde, verlies en veroudering, die COVID-19-pandemie, metapoësie, delusies, en drome aan te roer.” Verdeelde stand / Divided Stance is ’n bundel van diversiteit waarin verbandlegging by wyse van binêre opposisie en jukstaposisie in die hand gewerk word, byvoorbeeld die A luta continua-vers (pp. 52 – 3) versus die nostalgie van Krugerdag (p. 47).

Die kunswerk op die omslagontwerp, getitel The Perks of Being a Wallflower verbeeld ’n naïewe voorstelling van ’n dogtertjie met potpourri-motiewe in haar rokkie, ’n doringdraad in die agtergrond.

Die betekenis van die “stand” in die titel is meerduidig en verwys onder meer na onderskeie houdings of gesteldhede van dinge, soos die stand van sterre (pp. 86 – 7) of ander aktualiteite. Ook die onderskeie sosiale of burgerstande kom aan die bod. Die leser word herinner aan die slagsin in die Liberty Song deur John Dickinson (1768): ”United we stand, divided we fall.”

As ’n aanbod hibriede poësie kombineer Fritze ou en nuwe digkonvensies; ’n kruisbestuiwing van die konvensionele, sowel as die eksperimentele. Alhoewel die bundel tematies ’n disparate indruk skep, vorm die geheel een van meerstemmigheid, ’n fusie van poësie gebore uit die friksie van naasmekaarplasing wat onder meer verwysings na A.G. Visser, Pink Floyd en ’n Zoeloe-dans laat saamsing. Hierdie superponering van kontemporêre en historiese figure, vennootskappe en vooroordele lewer sosiale kritiek per excellence. Die jukstaponering van die onderskeie velkleure, gender en sosiale stande daag die tradisionele lesersverwagting uit, en dít is die sterk punt van hierdie bundel hibriede poësie: dit skep nuwe betekenisruimtes en vra vir ’n transformasie van die lesersverwagting. Die nadeel van hierdie bundel is myns insiens dat die tematiese disparaatheid die karakter van ’n negosiewinkel mog aanneem.

Die bundel is gerubriseer in vyf dele waarvan elke nuwe afdeling ingelui word deur ’n motto uit ʼn gedig van ʼn bekende digter. Deel I open met die volgende aanhaling van Louise Glück: “Many times, in winter, / I approached Zeus. Tell me, I would ask him, / how can I endure the earth?” Mens en mite, of die mens en god as opponerende stande word in dié deel verken aan die hand van “Persephone the wanderer”, waar die swaarkry van die aarde ondersoek word. In “Aardreg” (p. 10) word die toeëiening van die aarde op territoriale wyse bekyk, terwyl “Op Witsand” (p. 11) die getye as ars poëtikale siklusse beskryf. “Agtermiddagstorm, Magalies” (p. 13) sinspeel op die volksgeloof “Jakkals trou met wolf se vrou” (met ander woorde, dit reën terwyl die son skyn). Ten spyte van lugbesoedeling, word die vreugde van ’n donderstorm verwoord – ’n vers wat behendig invleg met Marais se “Die dans van die reën”.

 

Jakkals – deur Wolf se vrou in ’n slegte bui betrap

uit die songevulde reën – ontsnap betyds.

Newels dof en dynserig

soos vae houtskooltekene

vul die skeure veraf.

Ou dikhuid verlaat die son op doeksole – huiwerend

gelaagde sirkels van die nederigste vlerke fladder neer

uit die vink se bek val boumateriaal

sysies vlug op windvlae wat ruik na bloekoms

die berg se borskas rys.

Teen die trae grysgroen lug blits die ontladingslae

in die byenes verstil insektepare

wagtend op die rumoer

die aanvangsknal van ’n sinkdak-ouverture

lofkore stort en bruis in beurtsang:

Sy is hier, ons liefling. O, ons liefling,

hoe het ons uitgesien na jou koms.

 

’n Hoogtepunt in die eerste afdeling is “Tshwane” (pp. 16 – 7) met sy ontluistering van godsdiens versus die verwording van die stad. In “Karoo-tog” (p. 24) word geomorfes en hul gepaardgaande verbrokkeling tot klip, stollingsgesteente en kristal netjies deurgekomponeer. Ook die Engelse “aardgedigte” in hierdie gedeelte is bevredigend, byvoorbeeld “Hawking” (pp. 18 – 9), of “Brondal’s Bride” (pp. 20 – 1).

Deel II open met ’n aanhaling deur Robert Frost: “Take care to sell your horse before he dies. The art of life is passing losses on.” Die leser word dus voorberei op verse van verlies, maar ook met die vertroosting dat die lewe kosbaar is. Die spreker-digter beïndruk met ’n handvol verse oor haar moeder, gevolg deur elegiese verse oor vriende en jeugherinnerings (pp. 38 – 41). Maatskaplike uitdagings soos COVID-19 en die meningsverskille tussen die pro-enters en die anti-enters kom voor. In “uMkhosi woMhlanga” (pp. 48 – 9) word die stand van sake rondom MIV/VIGS in ’n moderne konteks deur die bril van ’n (ou) Zoeloe-dans of bewusmakingsveldtog teen VIGS beskou. Die bloedlyn van hierdie vers/dans kan teruggespoor word na vroue se Nasionale Optog na die Uniegebou op 9 Augustus 1956, waartydens daar geprotesteer is teen die dra van pasboeke. Fritze is bewus van die Suid-Afrikaanse sowel as die Afrika-tradisie waarbinne sy skryf, soos “Red Easter” (pp. 52 – 3) voorts getuig. Die vers handel oor die anti-apartheidstryder, Victoria Mxenge (1942 – 1985). Ek haal aan, die laaste twee strofes:

 

The mothers of Umlazi

 

We taste the khiza, like the blood

of Christ, descending

as we witness the unutterable

 

way of serrated shafts, crack

of gunfire, tear gas: the reek of

death permeating soil.

 

We tie wooden crosses

to the doors of our shacks

having sacrificed ou lambs.

 

The survivors of Umlazi

 

Shrouded in animal skin

we pile up stones on the crypts

of our forgotten children.

 

We hold vigils, burn candles

revive covenants of concord

as we invoke the Dead.

 

Deel III handel oor taalversperrings, die rol van tolke, en die verse is in Engels as voorkeurtaal geskryf, wat volgens die persverklaring op die werkstaal van die vader dui. Ek haal aan, die eerste en laaste strofes uit die titelgedig, “Divided Stance” (p. 68):

 

Allow me to address this

meeting in English, aided

by my father’s tongue.

 

[…]

 

Only when my vowels

approach a divided stance

do I hear you clearly Dad.

 

Twee derdes die bundel in verskerp Fritze die hibriede inslag van haar poësie. ’n Verwysing na ’n koerantberig van 7 Januarie 2006 vermeld dat ’n Irakse tolk en eienaar van ’n musiekwinkel, Allan Melody, doodgeskiet is in die Irakse Oorlog – net een van talle joernaliste wat só heengegaan het (“Dragoman”, pp. 64 – 5). Die digter se fusie van Leonard Cohen en Pink Floyd in die slotstrofe poog om ’n nuwe betekenisdimensie te genereer. Gedigte met sosiale kritiek kom voor in dié deel, byvoorbeeld “The hand in the jar” (pp. 66 – 7) met die Waarheids-en-Versoeningskommissie as invalshoek. ”Interpreting Nuremberg” (p. 59) is ongelukkig ’n minder geslaagde poging tot ʼn villanelle.

Deel IV verras met treffende liefdesgedigte – hierdie deel word ingelui met ’n aanhaling van die Poolse Nobelpryswenner vir poësie, Wislawa Szymborska: “My apologies to past loves for treating the latest as the first.” Die natuur en kosmos word ingeskryf in hierdie memoirs, byvoorbeeld die aangrypende “Onthulling” (p. 88); “Consider” (p. 83) of “Vergelding” (p. 80). Alledaagse besinnings vorm die boustof vir ’n geliefde vrou. Ongelukkig sneuwel “Voorkeur” (p. 74) onder woordoordaad en pretensie.

 

Voorkeur

In die evolusionêre herkoms

van my orgaan aan die klein

paraüretrale skene-kliere

vertoon ek homoloog aan

jou manlike mammaliaan

’n fallus van ’n beskutte aard:

tot in die prevaginale spasie

ingeoefen deur ’n sagter hand.

 

In teenstelling met bogenoemde gedig staan “Wiggelaars” (pp. 86 – 7) uit bo die res van die liefdesgedigte: mitologie en astronomie ontmoet en word naatloos verweef in ’n beeldryke vers.

Deel V bied ’n afdeling ars poëtikale gedigte, besinnings oor die poësie soos dit beslag vind uit verskillende invalshoeke, byvoorbeeld “Poetic Justice” (p. 94) se inspeling op Julia Kristeva se beskouing oor die semiotiese aspekte van taalgebruik:

 

I once tried to tell you words need to break water

tear away membranes

demand to be wrung from the womb

arrive in a frenzy

assume their own life

plead desperately

for rhyme and metre.

 

Die heel laaste vers, “Selfisolaat” (p. 96) verklaar ook onomwonde: “Dit is te laat om geld te maak uit / ars poëtica (…) / dit bly te vroeg vir debuteer met die / benewelde gepeins van ’n ystervuis.” Die bundel eindig op hierdie hoogtepunt waarin ouderdom en siekte gejukstaponeer word met die bestekopname van die spreker se digterskap. In die “erkennings” agter in die bundel verneem die leser dat die woord “ystervuis” se betekenis ook dui op die siekte, hemochromatose wat pynlik geswelde litte van die wys- en middelvingers veroorsaak.

Ten spyte van die gebruik van gebrekkige en inkonsekwente interpunksie – die digter laat in verskeie verse kommas weg om ’n voortstuwende enjambement in die hand te werk – lewer Fritze ’n bundel hibriede poësie waarin oud en nuut op ’n prikkelende wyse geïntegreer en aan die leser gebied word. Hier is ’n digdebuut wat meerstemmig saamsing in die tale en tematiek van ’n hedendaagse sowel as ’n historiese Suid-Afrikaanse werklikheid.

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Verdeelde stand / Divided stance (Celesté Fritze)”

  1. Joan Hambidge :

    Nini jy skat die digter reg in. Net een punt van verskil wanneer jy skryf:”Die nadeel van hierdie bundel is myns insiens dat die tematiese disparaatheid die karakter van ’n negosiewinkel mog aanneem.”

    Ek dink nie ‘n bundel hoef ‘n eenheidsbundel te wees nie.

  2. Celesté Fritze :

    Baie dankie vir die deeglike bemoeienis met my debuutbundel, me Bennett. Ek waardeer die insig en kommentaar. Graag stel ek een feit reg:

    “Sy wen ook die South African Literary Award 2018 se prys vir Debuutwerk vir Verlorenkop.”

    “Verlorenkop” was slegs genomineer vir die toekenning. In die betrokke kategorie behaal Malebo Sephodi in 2018 die SALA-toekenning met haar roman “Miss Behave”.

  3. Nini Bennett :

    Baie dankie vir die regstelling en jammer vir die verleentheid. Dit blyk dat die biografiese inligting tot my beskikking foutief was.

Los kommentaar

 

*