
Resensie: Polkadraai deur Jerzy Koch. Turksvy Publikasies, 2022
Resensent: Nini Bennett
Jerzy Koch is ’n Poolse letterkundige, vertaler, akademikus en digter, asook professor en hoof van die Afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies aan die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznań, Pole. In 2020 het Koch bekendheid verwerf met sy debuutbundel, Pleks van plaas: ’n merkwaardige prestasie as ’n mens in ag neem dat Afrikaans die digter se vierde taal is. Sy eerste drie tale is Pools, Duits en Nederlands.
Koch is voorts bekend vir sy vertalings vanuit die Nederlandse literatuur in Pools (meer as twintig boeke), en laasgenoemde betrek vertaalde werk van Herman De Coninck, Hugo Claus, Gerrit Kouwenaar, Lucebert, J. Bernlef en andere. In 2018 het hy ’n Poolse bloemlesing van Breyten Breytenbach die lig laat sien; en insgelyks van die werk van Ingrid Jonker en Etienne Leroux in Pools vertaal. Naas verskeie akademiese en literêre publikasies, stel Koch ’n omvattende literatuurgeskiedenis oor Afrikaans saam, getitel A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th – 19th Centuries.
In Koch se tweede digbundel sit hy sy bemoeienis met tematiek soos identiteit en ruimte voort. Die bundel handel oor verlore Heimaten, oor plekke, landskappe en ’n gebondenheid aan geografiese ruimtes.
Die omslag toon ’n woordwolk waarin woorde, wat in die bundel voorkom, in verskillende groottes afgedruk staan op die voor- en agterplat. ’n Woordwolk is ’n elektronies gegenereerde beeld waarin woorde, wat in ’n teks voorkom, se verskillende groottes die frekwensie in die gebruik van die woorde voorstel. Hoe groter die woord, hoe meer is dit gebruik. ’n Woordwolk kommunikeer met ander woorde hierdie data met ’n gehoor; in hierdie geval, die leser. Die woorde op die voor- en agterplat beklemtoon die diversiteit in die herkoms van Afrikaanse woorde, en sluit woorde van Latynse herkoms, sowel erfgoed en Khoi-leenwoorde soos boegoe, karos, kierie en kwagga in. Op p. 93 vind die leser enkele van die woorde in die woordwolk terug:
[…] en woorde begin straal en
dwarrelstroom: gogga en kwagga boegoe
koedoe en kamma gamka karos en kierie
Die digter-spreker se bemoeienis met Suid-Afrika, sy boorlinge en geskiedenis, blyk uit “so-en-so” (pp. 89 – 91), waar die woordspel met die wilde olyf die spreker se “dubbele burgerskap” (Suid-Afrika, Pole, Europa) verbeeld: “ek is olea europaea / subspecie africana”.
Laasgenoemde “Olea europaea subspecie africana” word ook ter plaatse die olienhoutboom genoem. Die boom is besonder gehard teen natuurlike elemente en kom voor in Afrika, Europa, die Maskareense Eilande, Arabië, Indië en China. In dié bundel figureer die wilde olyf as die poëtiese vehicle; ’n metafoor wat die spreker se tuiswees op verskillende kontinente, lande of habitatte verbeeld. Die digter gaan doelbewus en omsigtig om met die digterlike woord wat óf geografiese areas karteer, óf lei tot ’n persoonlike territoriumskepping. Heelparty verse handel oor bome: aaneenskakelend tot die olyfboom verwys die digter geredelik na die denneboom, wat oorspronklik in die Noordelike Halfrond voorkom, maar ook in Suid-Afrika genaturaliseer het. Die metamorfose van bome, wat in die gedaante van houtmeubels en -artefakte terugkeer, skep uitgebreide metafore en hout maak hulle verskyning in greinhoutbalke, vloerplanke, kerkbanke en die orrel in die Leipziger Thomaskerk (p. 62). Die spreker sinjaleer dat die verwerking van bome na artefakte ’n dieper dimensie impliseer: dié van intergeneratiewe verbintenisse soos in die gedig “truitjie” (p. 57), waar die spreker verwys na sy biografiese opgaaf en ’n familielid wat handel gedryf het met hout in Siberië. Bome, wat uiteindelik gebruiksitems word, dui op kontinuïteit, maar ook op ’n dieperliggende natuur-kultuur-dualisme waarin bome en die produksie van meubels op ’n onlosmaakbare simbiose dui.
Ook die titel, “Polkadraai” verklap ’n meerduidige betekenis en het ’n Afrikaanse sowel as Slawiese herkoms. Vroeë geskrewe rekords in die 1800’s toon dat dié tradisionele polkadans sy beslag gevind het in Bohemië, maar die invloed daarvan is steeds sigbaar in Poolse en Tjeggiese musiek. Die Polkadraai-aarbeiplaas dui inderdaad ook op ’n aarbeiplaas in die distrik Stellenbosch. In die Weskaap verbind die Polkadraai-pad Stellenbosch en Bellville via Kuilsrivier. Die benutting van die polka gooi vervolgens ’n draai in die FAK-sangbundel, “Hoe ry die boere?”, strofe 3:
Hoe dans die Boere? Polkadraai! Tiekiedraai! Tiekiedraai!
Hoe dans die Boere? Polkadraai! Tiekiedraai, ou perd!
In enkele gedigte karteer die spreker sy ruimte met verwysings na die Eersterivier, wat op sy voorliefde vir die Stellenbosch-omgewing dui.
Die belangrikste leitmotief in Polkadraai is egter die skryf van topografiese gedigte. Topografiese poësie is ’n lokaalbeskrywende subgenre van poësie waarin landskappe of plekke beskryf word, byvoorbeeld berge, valleie, riviere, bouvalle, voëlsang, maanlig, wolke, kleinvolk, heuwels, grotte, waterbronne, of ander geomorfologiese eienskappe, eie aan ’n landskap. In 1642 het John Denham met sy vers, “Cooper’s Hill”, topografiese poësie as digsoort gevestig. Alhoewel topografiese poësie eienskappe met pastorale poësie mag deel, is dit die geologiese struktuur en bou van ’n landskap wat die aandag in eersgenoemde opeis. Die estetiese register van hierdie poësie is wyd en topografiese beskrywings word soms ’n analoog vir ’n politieke, persoonlike of ideologiese openbaring.
Die Poolse sowel as die Afrikaanse digtradisie is ryk aan topografiese poësie – en in Polkadraai handel verreweg die meeste verse oor die raakpunte en verskille met die Poolse of Afrikaanse landskap. In Afrikaans dink ’n mens byvoorbeeld aan die gedigte van Leipoldt, N.P. van Wyk Louw of Breytenbach – soos nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde. Binne die Poolse digtradisie kom Czeslaw Milosz, Zbigniew Herbert, Adam Zagajewski, of die Nobelpryswenner, Wisława Szymborska se topografiese poësie voor die oog. Milosz het onder meer bekendheid verwerf as landskapsdigter, en in New and Collected Poems: 1931-2001 beweer Robert Hass: “Milosz was a poet of nature, or the “unattainable earth,” finding words to capture the idealized landscapes of his native Lithuania or the wilder expanses of later American exile.” Die Nobelpryswenner Milosz se ervarings as vlugteling, balling of patriot vind neerslag in velerlei digterlike uitdrukkings wat sy verbondenheid met landskapspoësie bevestig.
Op soortgelyke wyse kan Wisława Szymborska se topografiese poësie getakseer word. In teenstelling met die landskap, word die menslike liggaam as ’n reservoir van pyn en ontheemding geskets:
Nothing has changed.
Except the run of rivers, the shapes of forests, shores, deserts, and glaciers.
The little soul roams among these landscapes,
disappears, returns, draws near, moves away,
evasive and a stranger to itself,
now sure, now uncertain of its own existence,
whereas the body is and is and is
and has nowhere to go.
(Uit “Tortures”. Selected Poetry of Wisława Szymborska, p. 32. Uit die Pools vertaal deur Stanisław Barańczak en Clare Cavanagh)
Koch kyk met ’n dubbellensfokalisator na sy landskappe, byvoorbeeld in “wanneer dit bloutrosblomme sneeu” (p. 81) word die vallende jakarandas in Suid-Afrika gelykgestel aan sneeu. Die vers word aangebied as ’n “somerkersliedjie” wat assosiasies van Koos du Plessis se “Somerkersfees” oproep, in teenstelling met die tradisionele winterkersliedjie wat in die Noordelike Halfrond gesing word. Koch benoem en besing verskillende landskappe; daar is aksie en interaksie tussen die digter se uiteenlopende milieu’s, wat op sy beurt aanleiding gee tot die geofilosofiese diskoers van Deleuze en Guattari.
Die bundel is gerubriseer in drie dele, naamlik “Literatuurgeskiedenis”, “Grendeltyd” en “Onder andere”. Die twaalftal gedigte in “Literatuurgeskiedenis” toon ’n verliteratuurde effek en betrek ’n intertekstuele spel met bekende Afrikaanse skrywers en gedigte, en met hierdie indeling volg Koch dieselfde templaat as in sy debuutbundel, Pleks van plaas. Die digter-spreker maak die leser voorts attent op sy kennis (en publikasies) van Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing. In die notas agter in die bundel word die verse vergesel van verklarende aantekeninge, byvoorbeeld “stryd”, (p. 9), na analogie van Celliers se “Dis al”; “godgans” (p. 14), met verwysing na Boerneef se “Die berggans het ’n veer laat val”, of “die meisiekind” (pp. 20 – 21), wat inspeel op Jonker se bekende “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga”. Die gedig, “eenmaal nog” (p. 19) vorm die hoogtepunt in dié deel: ’n reminissensie van N.P. van Wyk Louw se “Nog eenmaal wil ek in die skemeraand”, wat in Nuwe verse (1954) opgeneem is.
eenmaal nog
vir N.P van Wyk Louw
sutherland sou die plek nooit wees nie, ek wyk terug,
ook hier kan winters koud wees en vol sagte sneeu,
die neerslag fyn ophoop, verlam, die grond toegrendel,
die korsverharding is hier hewig maar van korte duur
[…]
en as jy by die wal kom, kaats dan jou klippie op
die dam en luister of hy klap en dowwe sirkels
in die donker skep – nee, hier spring hy yslik op en
eggo glasig in die ruim die wit en helder galm
(p. 19)
Die digter het bogenoemde vers in Malerzów, ’n dorpie in Pole, geskryf. Die vers beweeg in tandem met Louw se geboortedorp, Sutherland, binne die Rôeveldse skaapwêreld waar dit in die winter sneeu. Die dam in Koch se vers toon in afwysing van Louw se s’n – die klippie in die dorpsdam verskiet nie in troebelheid en vergetelheid nie; dit verrys en eggo in die helder ys. Koch amalgameer twee landskappe met hierdie bifokale blik en werk só verrassende landskapspoësie in die hand.
Die tweede gedeelte, “grendeltyd”, is onderverdeel in vier dele, naamlik “Lente”, “Somer”, “Herfs” en “Winter”. Terwyl ’n pandemie krisisafmetings aanneem, gaan die natuur en haar groeiprosesse op ongebreidelde wyse hul gang. Al die verse handel oor die belewenis van ’n tuin wat, te midde van soveel versperrings en begrensings wat die inperkings teweeg gebring het, ’n toevlugsoord vir die spreker bied. “In die tuin 3” (p. 34) sorg vir ’n opwindende vers waarin onomatopee die skiet van die trosden se saad simuleer. Ook “4” en “5” getuig van sekure digterlike formulering wanneer die denneboom wasdom bereik.
die stemhebbende geraas van bars en ontplof verword
tot stemloosheid wanneer skerwe verskiet en
gewiekte sade fladder, dwarrel en maal bo jou grasperk, jy is
binne trefafstand en ’n saad beland op die blad van jou boek
waar jy in die kantlyn krabbel, die begin is gevleuel
vir die vliegtog deur dig en dun, en sag soos naginsek
is sy vlerk, sy dor donker pouoog benut die swaartekrag
in die lugruim, dit skakeer tussen ligbruin en rooibruin
(p. 35)
In “Somer” word die volheid van die seisoen verder aan die hand van boommetafore geskets. Die spreker eksperimenteer met lense (metafories gesproke): sy boomgedigte word soms ver, vanuit ’n wyehoeklens betrag, terwyl ander verse inzoem en die fyner detail van jaarringe en takkies van naderby bekyk. Die val van ’n wildepeer (“die val”, p. 44) open die gedeelte oor herfs, wat gekenmerk word deur onrus (“net buite”, p. 45). Met “huis” (p. 47) lewer die digter ’n mooi vers waarin die bome geëkstrapoleer word na die houtdekor van ’n ou huis in Stellenbosch:
[…]
ons tonge vra wat die hout onthou
van toeka se dae maar dis ons tone
wat met die vloerplanke praat
op die greinhoutbalke van die plafon rus
seën en wanneer die suidooster waai
kraak als in die nate en die skeure kreun
die hoë skuinsdak laat weergalm ons moeë
treë en ons voetboë span en word
die middeskip van ’n nuwe katedraal
Stellenbosch, 2021
(p. 47)
In “Winter” (“Jonkershoekweg, winter”, p. 50) vertoef die spreker steeds in Stellenbosch: ’n vers wat voortrol in ’n stuwende enjambement.
[…] boor die nog skaars geskeduleerde
vroeë vliegtuie hul baan deur die digte lug
na die sonnige anderkant
bo die berge wat wasig gepierneef
in hooggespanne reekse
die dreun van hul enjins laat weergalm
selfs tot in knorhoek
waar die valleie volgepak met digte silwer
die naaktheid van die wingerde bedek
[…]
(p. 50)
Topografiese poësie vind ook uitdrukking vanuit ’n vliegtuig, wat van bo af ’n panoramiese blik op die landskap bied. In aansluiting met Koch se bovermelde vers, vervolgens die volgende Poolse bloedlyngedig deur die digter, Adam Zagajewski.
Balance
I watched the arctic landscape from above
and thought of nothing, lovely nothing.
I observed white canopies of clouds, vast
expanses where no wolf tracks could be found.
[…]
As we drew closer to our landing,
the vulnerable earth emerged among the clouds,
comic gardens forgotten by their owners,
pale grass plagued by winter and the wind.
[…]
(Adam Zagajewski. Uit die Pools vertaal deur Clare Cavanagh. Eternal Enemies, p. 92)
In die laaste gedeelte van hierdie bundel, “Onder andere”, kom ’n verskeidenheid temas onder die soeklig. Steeds die bemoeienis met bome; die den, eike- en akkerbome, plantasies, natuurtaferele, en die kwessie van identiteit. Die verwysing na die spreker-digter se Slawiese herkoms (“24 februarie 2022”, p. 97), asook die aangrypende “truitjie” (pp. 57 – 59) bekoor. Die spreker se ouma brei vir hom ’n truitjie uit ’n ou, verslete weggooitrui, en dié truitjie word ’n simbool van herwinning en triomf déúr rewolusies, oorloë en ’n pandemie (die Spaanse griep). In “polkadraai” (p. 56) verwys die spreker na die “danse macabre”, ’n komposisie deur die Poolse komponis, Zbigniew Preisner. Die spreker hou die in-tandem-skryf van Slawiese en Suid-Afrikaanse invloede vol en belig die faktore wat ’n rol speel in die skepping van identiteit. Daar word besin oor landskappe wat ingelyf en ingeleef word; en die digter open vars perspektiewe op idees soos die vervreemding en toe-eiening van plekke.
Met die fusie van die Slawiese en Afrikaanse digterlike tradisies bevestig Koch opnuut sy unieke idiolek binne die Afrikaanse poësie. Die bundel eindig op ’n hoogtepunt wanneer die spreker in “ferweelskrif” (p. 102) berig van ’n afskeid. Die reis en belewenis tussen verskillende Heimaten neem uiteindelik kosmiese afmetings aan.
ferweelskrif
en jy
vlieg weg
in hierdie donker uur
terwyl ons hier
verlate staan
agter ons oë
en huil, ons glinstertrane rol
op die wange wat by afskeid
gesoen is
met ferweelskrif
die nag is die weduwee
van die dag, sê die ou digter
en sien, in daardie lanferdonker
sweef jy tussen die sterrebeelde
en die supersoniese vliegtuig
bring jou anderkant
die berge
na vreemde landskappe
verre strande en
ander tale
(p. 102)
Verwysings:
Dwa, D. 2002. Selected Poetry of Wisława Szymborska. Bangkok: NIST International School.
Milosz, C. 2017. New and Collected Poems: 1931 – 2001. New York: Ecco Press.
Zagajewski, A. 2009. Eternal Enemies. New York: Farrar, Straus and Giroux.
